Sakeliga verwelkom en ondersteun twee belowende inisiatiewe in Ditsobotla

eeec4b5c752845ca8abbaddd06250944

Sakeliga verwelkom en ondersteun twee belowende inisiatiewe om orde in die ineengestorte munisipaliteit Ditsobotla te herstel.

Ditsobotla is een van die mees wanfunksionele munisipaliteite in die land en, in die woorde van die Noordwes Provinsiale Wetgewer, is dit ‘n dorp wat “deur gangsterism” bestuur word.

Ditsobotla Dienstevereniging

Die eerste inisiatief is die stigting van die Ditsobotla Dienstevereniging – ‘n nie-winsgewende organisasie wat deur plaaslike besighede en gemeenskappe gestig is met bystand van Sakeliga en parallel met Sakeliga se voortgesette litigasie vir nuwe konstitusionele presedente in Ditsobotla. Die doel daarvan is om diensleweringsmislukkings teë te werk.

Die Dienstevereniging berei voor om gelde van besighede en ander belastingbetalers in Ditsobotla in te vorder, behoorlike finansiële rekening te hou, en met diensverskaffers, Eskom en verskeie regeringsvlakke te onderhandel en te kontrakteer vir dienslewering en die instandhouding van kritieke gedeelde infrastruktuur.

Dit is belangrik om te verstaan dat munisipale mislukking in Ditsobotla allesomvattend is. Baie besighede het in meer as ‘n jaar nie diens- en ander rekeninge van die munisipaliteit ontvang nie, die munisipale kantore is gesluit en kritieke infrastruktuur stort in duie. Ingrypings deur provinsiale en nasionale regerings het geen vrugte afgewerp nie. Tensy besighede en georganiseerde gemeenskappe die leiding neem om self orde te herstel, sal die vakuum van bestuur en administrasie deur bendes gevul word.

Dringende regstappe

Die tweede inisiatief is dringende regstappe deur die Demokratiese Alliansie en die Ditsobotla Dienstevereniging om Eskom te dwing om krag na die dorp te herstel.

Na ‘n onlangse kragonderbreking, blyk dit dat Eskom nou weier om krag aan die dorp weer aan te sluit totdat die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit sy agterstallige elektrisiteitsrekening by Eskom betaal. Soos vasgestel in die Resilient-uitspraak in Desember 2020, na Sakeliga se deelname aan daardie hofsaak, is dit egter onwettig vir Eskom om ‘n dorp se besighede en inwoners as ‘n bedingingsinstrument te gebruik om betaling van ‘n munisipaliteit te dwing. Aangesien beide Eskom en ‘n munisipaliteit staatsentiteite is, is hulle verplig om hul dispute op te los volgens prosesse wat in die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge voorgeskryf word. Hulle word nie toegelaat om derde partye te penaliseer nie, soos wat die geval sou wees as Eskom besigheid en inwoners onoordeelkundig sou ontkoppel selfs wanneer hulle hul rekeninge betaal het.

Sakeliga se regspan is in kontak met dié van die Demokratiese Alliansie en die Dienstevereniging en lewer ons insette oor die saak. Ons sien uit na nog ‘n suksesvolle toepassing van die Resilient-regspresedent, een wat ligte aangehou het en miljarde rande gespaar het vir besighede en gemeenskappe in talle dorpe regoor die land.

Sakeliga se strategie vir munisipale hervorming en ekonomiese stabiliteit

Sakeliga se ondersteuning aan bogenoemde inisiatiewe vorm deel van ons voortgesette werk om regspresedente en goeie praktyk te vestig oor die hantering van munisipale mislukking en om te help met alternatiewe meganismes vir dienslewering.

Om stabiliteit en welvaart terug te bring na plaaslike ekonomieë en gemeenskappe is van kardinale belang om ‘n algehele destabilisasie te vermy, waardeur plaaslike ineenstorting uiteindelik lei tot onhanteerbare druk op metropolitaanse gebiede. Gegewe sy gevorderde mate van ineenstorting, beskou Sakeliga Ditsobotla as ‘n belowende saak vir die ontwikkeling van antwoorde wat na ander munisipaliteite kan skaal.

Ons spreek ons waardering uit aan sakeorganisasies Agri Noordwes en die Lichtenburgse Sakekamer, waarmee ons vrugbare samewerking gehad het. Agri Noordwes speel steeds ‘n leidende rol in die koördinering van besighede in Ditsobotla om die besigheidsomgewing te verbeter ten spyte van een van die ernstigste gevalle van staatsmislukking in die land.

________________________

Jou finansiële ondersteuning maak hoë-impak litigasie moontlik, bevorder alternatiewe strukture, en help om die toekoms te vorm wat jy wil sien. Klik hier en befonds Sakeliga.  

Argiewe