Sakeliga steun eiendomsregte van wapeneienaars in Konstitusionele Hof-saak

ConCourt

Sakeliga het onlangs aansoek gedoen om as amicus curiae – vriend van die hof – toe te tree in ‘n saak in die Konstitusionele Hof met die doel om die eiendomsregte van wapeneienaars te beskerm. Talle wapeneienaars se reg op wettige besit van hul vuurwapens is tans onder beleg weens die polisie se weiering om nuwe aansoeke vir wapenlisensies te ontvang waar wapenlisensies nie tydig hernu kon word nie.  

In hierdie spesifieke saak voor die Konstitusionele Hof, weier die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om nuwe lisensiëringsaansoeke te ontvang ten opsigte van wapens waarvan die lisensies wat reeds ten gunste van die sekuriteitsmaatskappy, Fidelity, uitgereik is, verstryk het in afwesigheid van ‘n tydige hernuwingsaansoek.

Die implikasie van die SAPD se beleid is dat Fidelity se wapens bloot vernietig moet word. Hierdie onvolhoubare situasie forseer wapeneienaars soos Fideity om bruikbare eiendom om tegniese redes bloot te verbeur en dan daardie wapens met nuwe wapens te moet vervang. Sakeliga voer in sy hofstukke aan dat die SAPD se interpretasie van die Wet op Beheer van Vuurwapens, in stryd met die Wet self, ekonomies onhoudbaar is en aanleiding gee tot absurditeit in die reg. 

Sakeliga meen eerstens dat dit ekonomies onhoudbaar is om van eienaars soos Fidelity (wat in grootmaat wapens aankoop) te verwag om nuwe wapens aan te koop wanneer lisensies nie tydig hernu kon word nie. Die vereiste behoort eerder te wees dat wapeneienaars soos Fidelity juis vermorsing van skaars ekonomiese hulpbronne moet kan voorkom deur nuwe lisensies ten opsigte van die bestaande wapens te kan uitneem, ten einde wettige besit te herstel.

Tweedens gee dit aanleiding tot absurditeit in die reg indien diegene wat wapens verbeur het weens byvoorbeeld beslaglegging deur die polisie, in ‘n beter posisie is as diegene wat ter goede trou wapens ingehandig het omdat die lisensie nie betyds hernu kon word nie. Die Wet op Beheer van Vuurwapens maak voorsiening daarvoor dat enige wapeneienaar betoog teen die vernietiging van hul eiendom mag indien. Dit impliseer dat wapeneienaars nuwe lisensieaansoeke mag indien om wettige besit van hulle vuurwapens te herstel. Met die SAPD se onversetlike interpretasie van die Wet op Beheer van Vuurwapens, word eienaars soos Fidelity die reg om verteenwoordigings te doen en ‘n geleentheid te hê om wettige besit te herstel, ontsê.

Sakeliga vra vir ‘n pragmatiese benadering wat bestaanbaar is met die Wet op Beheer van Vuurwapens. Dit is dat wapeneienaars wettige besit van hul wapens wat by die polisie ingehandig is moet kan herstel deur aansoek te doen vir nuwe lisensies. 

Hierdie saak voor die Konstitusionele Hof is op 18 November aangehoor. Sakeliga se aansoek om voeging as amicus curiae en die oorweging van Sakeliga se substantiewe argumente word as deel van die skriftelike rekord voor die hof oorweeg. Uitspraak word eers later in die Nuwejaar verwag.  

 
Uitgereik deur: 

Tian Alberts 
Regs- en Skakelbeampte 

[email protected] 

 

 

 

Archives