Sakeliga skryf aan Dlamini-Zuma: Stel onregmatige vlak 2-regulasies reg en laat ondernemings volkapasiteit werk

Die vlak 2-regulasies is steeds ongrondwetlik, onredelik en irrasioneel en moet onverwyld reggestel word. Dit is die boodskap van die sakegroep Sakeliga in ‘n brief aan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini-Zuma.

“Die regulasies is onsamehangend,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Sonder enige waarneembare rasionaal laat die regulasies sommige ondernemings toe om op volle kapasiteit sake te doen en ander nie. Die regulasies het uiteindelik nie gehandel oor die handhawing van sosiale afstand en higiëne nie, maar oor arbitrêre beperkinge op die aantal persone teenwoordig, ongeag die grootte of aard van die lokaal of aktiwiteit.”

Daar bestaan groot teenstrydighede tussen beperkings op verskillende ondernemings. Voorbeelde sluit in:

  • Dobbelhuise mag sake bedryf vir mense soos toegelaat op 50% van die beskikbare vloeroppervlakte, maar kerke en ander godsdienstige organisasies mag slegs 50 mense op ‘n slag ontvang.
  • Toeskouers by sportbyeenkomste – selfs in groot stadions met baie oop ruimte – is heeltemal verbode, terwyl busse en taxi’s teen 100% kapasiteit mag werk.
  • Verskaffers van akkommodasie mag slegs 50% van hul totale vloeroppervlakte benut, terwyl kroeë en tavernes teen 100% kapasiteit vir tot met 50 persone kan sake doen, daarna 0%.
  • Fiksheidsentra en gimnasiums is beperk tot 50 mense, ongeag lokaalgrootte, wat dit vir hierdie ondernemings oor die algemeen nie lonend maak om oop te wees nie en wat lidmaatskapkontrakte onprakties maak.

“Die lys gaan aan,” sê Le Roux: “Die regering skiet eenvoudig uit die heup met sy regulasies, wat onnodige skade berokken en tot minagting vir wette lei.”

Sakeliga sê in sy brief: “Die regulasies moet gewysig word sodat alle ondernemings teen volle kapasiteit sake kan doen, ongeag die sektore waarin hulle is. Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het volgens ons geen regsbasis om die regte en vryhede van ondernemings, hul werknemers en hul kliënte op hierdie onsamehangende wyse in te perk nie. Die Minister kan die publiek bystaan met die opstel van riglyne oor die regte gesondheids- en veiligheidsprotokolle.”

Sakeliga eis dat die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake “alle regulasies wysig wat, deur die aantal kliënte of besoekers wat toegelaat word om die sakeperseel te besoek beperk, tussen verskillende aktiwiteite en sake-ondernemings diskrimineer.”

Hieronder volg ‘n lys van opvallende aspekte van die regulasies.

  1. Die bywoning van begrafnisse is beperk tot 50 persone, ongeag die grootte en aard van die lokaal (regulasie 52 (1));
  2. Samekomste van geloofsgebaseerde instellings is beperk tot 50 persone (of minder, afhangende van die grootte van die plek van aanbidding). Hierdie beperking erken weereens nie die grootte en aard van die lokaal nie (regulasie 55 (2) (a));
  3. Konferensies en vergaderings is onderhewig aan hoogstens 50 persone, ondanks die grootte en aard van die lokaal. Daar moet kennis geneem word dat konferensies en vergaderings tot sakedoeleindes beperk is (regulasie 55 (2) (d));
  4. Bioskope, teaters, konserte en regstreekse optredes (wat almal ontspanningsaktiwiteite is) word toegelaat, maar onderworpe aan ‘n beperking van 50 mense, weereens ongeag die grootte en aard van die lokaal (regulasie 55 (2) (e) en (f));
  5. Dobbelhuise is om die een of ander onbekende rede onderhewig aan minder beperkings, wat ‘n maksimum van 50% gebruik per beskikbare vloeroppervlakte magtig (regulasie 55 (2) (g));
  6. Veilings het geen spesifieke beperking op die aantal persone wat die geleentheid bywoon nie, ongeag die grootte en aard van die lokaal (regulasie 55 (2) (g));
  7. Sportaktiwiteite, veral kommersiële sportaktiwiteite, het nie die reg om toeskouers toe te laat nie, ondanks die grootte en aard van die lokaal (regulasie 55 (2) (i));
  8. Bruilofte word weer onderwerp aan ‘n maksimum van 50 persone, ongeag die grootte of aard van die lokaal (regulasie 55 (2) (j));
  9. Sosiale geleenthede by ‘n woonplek, ongeag die grootte of aard van die lokaal, is beperk tot 10 besoekers (regulasie 55 (2) (k));
  10. Sosiale geleenthede by funksie lokale is egter weer beperk tot 50 persone, ongeag die grootte en aard van die lokaal (regulasie 55 (2) (m));
  11. Fiksheidsentra en gimnasiums, ongeag hul grootte en aard, is beperk tot 50 persone (regulasie 55 (2) (n) (i));
  12. Kroeë, tavernes en sjebiens is beperk tot 50 persone, ongeag die grootte en aard van die lokaal (regulasie 55 (2) (n));
  13. Verskaffers van akkommodasie is egter onderworpe aan ‘n ander kriterium deurdat hulle beperk is tot nie meer as 50% van die beskikbare vloeroppervlakte in die onderneming nie (met kliënte wat afstande van minstens een en ‘n halwe meter van mekaar handhaaf) (regulasie 55 (2) (n) (ix));
  14. Nagklubs is glad nie geregtig op handeldryf nie (regulasie 56 (1));
  15. Busse en taxi’s mag egter teen 100% van hul kapasiteit handel dryf, ondanks die grootte en aard van die voertuig (regulasie 60 (2) (b)); en
  16. Ondernemings in die algemeen word toegelaat om tot 100 werknemers op ‘n vloeroppervlakte te hê, solank daar sosiale afstand toegepas word (regulasie 62 (2)).
Argiewe