Sakeliga sal konstitusionele plig opneem en keer dat Onteieningswetsontwerp in werking tree

theme-22

Sakeliga sal aanhou om ons konstitusionele plig op te neem en verseker dat die Onteieningswetsontwerp nie in werking tree nie.

Soos in die geval van die gepoogde grondwetwysiging verlede jaar om konfiskering van eiendom toe te laat, sal Sakeliga alle nodige druk uitoefen en litigasie onderneem om te verseker dat die Onteieningswetsontwerp, wat hierdie week deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is, nie in werking tree nie.

Sekure eiendomsreg is ‘n voorvereiste vir ‘n veilige en florerende samelewing en kommersiële orde.

Die Onteieningswetsontwerp hou groot skade vir eiendomsreg in. Dit beoog konfiskering (sogenaamde “onteiening sonder vergoeding”) onder die dekmantel van vergoeding, met dien verstande dat sodanige vergoeding egter “nul rand” kan wees. In die nasleep van ‘n mislukte poging om artikel 25 van die Grondwet te wysig, is die Onteieningswetsontwerp ‘n opvolgpoging om dieselfde wysiging deur die agterdeur van ‘n parlementswet in te sluip.

Die goedgekeurde Onteieningswetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word, en indien dit aanvaar word, sal dit aan die President voorgelê word vir bekragtiging en ondertekening. Sulke bykomende wigte en teenwigte is histories na bewese nie in staat daartoe om die aanvaarding van skadelike wetgewing te stuit nie. Sakeliga doen nietemin ‘n beroep op die Nasionale Raad en die President om wyse oordeel aan die dag te lê en die Wetsontwerp te verwerp. Indien hulle versuim om dit te doen, sal Sakeliga dadelik voortgaan met litigasie en ander stappe tot ons beskikking.

’n Onafhanklike burgerlike samelewing, sakegemeenskappe, en individue vereis sekure eiendomsreg om nie net ekonomies te floreer nie, maar ook om hulself te beveilig en hul konstitusionele pligte op te neem. Die burgerlike samelewing en besighede speel ‘n belangrike konstitusionele rol as sentra van burgerlike mag wat misbruik van staatsmag en staatsverval kan uitbalanseer.

Dit is moontlik omdat individue en kommersiële instellings ‘n eiendomsgrondslag het – private eiendom – wat nodig is vir sekuriteit, ekonomiese produktiwiteit, en staanplek in regsgeskille.

Wanneer eiendomsregte ondermyn word op die wyse waarop die Onteieningswetsontwerp dit beoog, verswak dit hierdie deurslaggewende rol en funksie van die burgerlike samelewing en die kommersiële sfeer. Hierdie konstitusionele bedreiging word vererger deur ander skadelike voorstelle soos die Grondhof-wetsontwerp en die Wetsontwerp op Onwettige Betreding van Persele.

Sakeliga sal nie hierdie bedreigings vir die sosiale en ekonomiese orde, duld nie.

Die inisiatief om artikel 25 van die Grondwet te wysig het in Desember, 2021 misluk. Sou die wysiging geslaag het, sou dit opsigself ongrondwetlik gewees het. Weens die onsuksesvolle wysiging, is die Onteieningswetsontwerp egter soos dit daar uitsien op die mees elementêre vlak strydig met die grondwet.

Ons merk op dat sommige akademici onder die dekmantel van kreatiewe regsdiskoers argumenteer dat “nul vergoeding” as vergoeding kwalifiseer. Dit kom neer op ‘n doelbewuste denkfout. Artikels 25(2) en (3) van die Grondwet bepaal ondubbelsinnig dat waar daar ook al onteiening is, daar vergoeding moet wees. Dit kan nooit aanvaar word dat iemand wat regtens op vergoeding geregtig is, “vergoed” word in geval waar die vergoeding niks is nie. Dit kom neer op konfiskering, en die Onteieningswetsontwerp sluip dit by die agterdeur in.

Konfiskering is onversoenbaar met ‘n konstitusionele orde. Sakeliga beskou dit as ons konstitusionele plig om te verhoed dat konfiskering in wetgewing opgeneem word. Ons moedig ander instellings van die burgerlike samelewing aan om dieselfde te doen.

Terwyl die insluiping van konfiskering in die Onteieningswetsontwerp die mees kommerwekkende aspek daarvan is, het Sakeliga ook reeds ’n verskeidenheid ander bepalings in die Wetsontwerp uitgewys wat dit onaanvaarbaar maklik maak vir die staat om te onteien – ook in gevalle waar vergoeding betaal word.

Sakeliga se volledige parlementêre voorlegging oor die Onteieningswetsontwerp kan hier besigtig word.

Argiewe