Sakeliga-saak teen Ouditeur-Generaal aangehoor 

Foto: Moneyweb
Foto: Moneyweb

Sakeliga se hofsaak teen die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OG) om vir die eerste keer die staatsouditeur se ongeopenbaarde bestuursverslae van 154 probleemmunisipaliteite openbaar te maak, is verlede week aangehoor. 

Betoë het hoofsaaklik gewentel rondom die vraag of die OG ‘n Grondwetlike plig het om hierdie bestuursverslae openbaar te maak. Die bestuursverslae verskil van die opsommende ouditverslae wat jaarliks bekendgemaak word, omdat dit detail inligting bevat oor spesifieke gevalle van korrupsie, wanbesteding, bestuursgebreke, belastingverkwisting en ander onreëlmatighede, soos opgemerk deur die ouditspanne.  

Artikel 188(3) van die Grondwet lui: “Die Ouditeur-generaal moet ouditverslae voorlê aan enige wetgewer wat ʼn regstreekse belang in die oudit het, en aan enige ander gesag wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word. Alle verslae moet openbaar gemaak word.” Die bestuursverslae van munisipaliteite is egter nog nooit openbaar gemaak nie. Sakeliga glo dat die nie-openbaarmaking te doen het met die feit dat die bestuursverslae verdoemende inligting bevat wat, indien dit openbaar beskikbaar gestel word, ‘n nuwe tydvak vir aanspreeklikheid van staatsamptenare, rekenskap van belastinggeld en munisipale litigasie sal inlui.  

Uitspraak word voorbehou. 

Argiewe