Sakeliga raai alle staatsorgane aan om weg te bly van voorkwalifikasiekriteria

pexels-fernando-arcos-211151
  • Publiek en sakeondernemings aangemoedig om ook staatsorgane te nader

Sakeliga raai alle staatsorgane aan om weg te bly van die voorkwalifikasiekriteria in die verkrygingsregulasies van 2017 wat as ongeldig deur die Konstitusionele Hof bevind is. Dit sal konstitusioneel wys, ekonomies sinvol en in die openbare belang wees, ongeag die tydperk van opskorting van die hofbevel.

Sakeliga moedig ook lede van die publiek en sakeondernemings aan om die verskillende staatsorgane direk te nader en hulle te versoek om nie voorkwalifikasiekriteria in tenderprosesse toe te pas nie.

In die lig van die verwarring wat die afgelope tyd deur die Departement van Finansies veroorsaak is, moet dit nogmaals uitgewys word dat dit staatsorgane, ingevolge die reg, vry staan om tenders toe te ken sonder BEE-voorkwalifikasie. In teenstelling met die Departement se instruksies van 25 Februarie hoef staatsverkryging nooit te gestop het nie. Die Minister van Finansies beskik nie oor die nodige regulasiemakende magte om die inhoud van staatsorgane se voorkeurverkrygingsbeleide te bepaal nie. Staatsorgane was nie en is nie onder enige verpligting om op instruksie van die Departement van Finansies hul verkrygingsprosesse stop te sit óf voorkwalifikasiekriteria toe te pas nie.

Soos die Konstitusionele Hof self op 30 Mei opgemerk het: “Die Minister se instruksie [op 25 Februarie] noem dat, hangende die uitkoms van hierdie aansoek, alle staatsverkryging stopgesit moet word. [Dit is ‘n wanopvatting.] Dit is die Minister wat hierdie hof se bevel verkeerd verstaan het. Dus, die stop van staatsverkryging moet voor die deur van die Minister gelê word, wat hierdie hof se bevel verkeerd verstaan het. Dit het hoegenaamd niks met hierdie hof se bevel te make nie.”

In die lig van die verwarring en wanindrukke veroorsaak deur die Departement van Finansies, is dit nodig om daarop te wys dat, ten beste, die 2017-regulasies sélf voorkwalifikasiekriteria bloot opsioneel maak. Regulasie 4(1) van die 2017-regulasies, hoewel onwettig, bepaal dat staatsorgane kan besluit om voorkwalifikasiekriteria toe te pas. Dit beteken dat hulle nie verplig is om dit te doen nie. In die lig van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl, bekragtig deur die Konstitusionele Hof, behoort staatsorgane hierdie opsie te vermy, al is dit net met die oog op risikobestuur, sodat dit nie dalk tot geskille en gedinge tydens of na ’n tenderproses bydra nie.

Die opsionaliteit van voorkwalifikasiekriteria beteken ook dat die publiek en sakeondernemings die toepassing daarvan kan beïnvloed sonder om die howe te nader. Sakeliga beveel aan dat lede van die publiek en sakeondernemings, waar moontlik, politieke verteenwoordigers en staatsentiteite direk nader om hulle daaraan te herinner dat hulle nie voorkwalifikasie hoef toe te pas nie en hulle ook versoek om dit nie te doen nie. Nie ’n enkele munisipaliteit, provinsie, staatsbeheerde entiteit, staatsdepartement of enige ander staatsorgaan is verplig om voorkwalifikasiekriteria toe te pas nie, selfs al sou ál die ander dit doen.

Intussen verwelkom Sakeliga die publikasie van nuwe konsepverkrygingsregulasies deur die Minister op 10 Maart 2022. Hoewel die Konstitusionele Hof die onwettigheid van die 2017-regulasies bevestig het, het hy ook ‘n tydelike opskorting van daardie bevel bevestig sodat die Minister nuwe regulasies kan afkondig. Die hof het die Minister 12 maande daarvoor gegee, maar die Minister het nou op bewonderenswaardige wyse laat blyk dat hy die onwettighede van sy voorgangers binne die volgende paar weke kan regstel. Dit sal vir die Minister ’n pluimpie wees as hy nie net aan die letter van die Konstitusionele Hof se beslissing nie, maar ook aan die gees daarvan voldoen, deur die onwettige regulasies sonder versuim met wettiges te vervang.

Archives