Sakeliga neem Tesourie hof toe oor Eskom-sluierregulasies

Medupikragstasie,_Ellisras,_Limpopo,_b

Sakeliga het ’n hofsaak van stapel gestuur  om inligting te openbaar oor hoe die Nasionale Tesourie aan Eskom en ander staatsentiteite twyfelagtige vrystellings van finansiële verslagdoeningsvereistes wou toestaan.

Dit volg nadat Sakeliga in April die Minister van Finansies se terugtrekking van Eskom se vrystelling van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur verwelkom het. Die terugtrekking spruit uit druk deur Sakeliga en andere.

Die teruggetrekte vrystelling sou Eskom toegelaat het om nie onreëlmatige besteding in hul finansiële state aan te meld nie. Sakeliga het in ’n verklaring na die terugtrekking aangedui dat ons sou ondersoek of ander staatsentiteite soortgelyke vrystellings ontvang het.

Ons het die proses geloods met die indiening van PAIA-versoeke, wat nooit behoorlik geantwoord is nie. Na etlike maande se gesloer deur die Nasionale Tesourie, het Sakeliga nou hofstukke by die Hooggeregshof in Pretoria vir toegang tot al die rekords wat met Eskom se teruggetrokke vrystelling verband hou. Ons wil ook hê dat die hof moet gelas dat rekords wat met allerlei staatsinstellings se soortgelyke vrystellings verband hou, openbaar gemaak word.

Sakeliga onderneem hierdie stappe omdat die Minister deur middel van vrystellings van die Wet op Openbare Bestuur, maatskappye in staatsbesit soos Eskom en Transnet in staat stel  om korrupsie en onreëlmatighede te verduister. Sodanige verdoeseling stel die onvermydelike proses uit waardeur ondoeltreffende maatskappye in staatsbesit hul kunsmatige monopolie oor byvoorbeeld elektristeitsdistribusie, verbeur.

Argiewe