Sakeliga gekant teen nuwe stroomop petroleumwetsontwerp: bykomende energiesektorregulering is nadelig

theme-22

Sakeliga het sy teenkanting teen die nuwe Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop Petroleumhulpbronne aangeteken. Dié wetsontwerp vererger en stel burokratisme, skadelike rasseprioriteite, en lastige regulering van petroleum en petrochemikalieë – die lewensbloed van ’n moderne ekonomie – in die vooruitsig

Sakeliga het sy kommentaar op die voorstel by die parlement se portefeuljekomitee oor energie ingedien.

Die wetsontwerp is die jongste gedaante  van wat Sakeliga as die tweede fase van BEE beskou, waar BEE se sogenaamde vrywillige karakter deur dwang binne sektore vervang word. Dit is noodlottig vir ondernemersonafhanklikheid en ekonomiese groei.

In kombinasie met bestaande mynboukodes en gegewe die hoë koste en rompslomp wat met opsporing en produksie geassosieer word, sowel as die waardevernietigende Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, loop ​​die wetsontwerp die risiko om die stroomop-petroleumsektor nie net onaantreklik vir plaaslike en internasionale belegging te maak nie, maar ook ’n risiko vir die breër ekonomiese stelsel.

Die regering stel voor om rasse-oorwegings af te dwing saam met ’n aansienlike nuwe “drabelang”, wat saam aansienlike koste van produksie sal byvoeg, wat produksiepotensiaal beperk en belemmer. Dit sal lei tot hoër pryse vir petroleumprodukte as wat andersins vir stroomafbesighede en -kliënte behaal kan word.

Die drabelang-bepalings is niks meer nie as ’n wanbenaamde belasting wat die Staat aanspraak laat maak op ’n buitensporige 20% van die voordele wat uit petroleumregte voortspruit.

In ons voorlegging voer ons aan dat die wetsontwerp die stroomop-petroleumsektor minder aantreklik vir belegging sal maak en, nog belangriker, produktiwiteit en innovasie in die sektor sal verminder, wat die talle stroomaf-sektore sal benadeel wat swaar op petroleumprodukte staatmaak. Hierdie teenproduktiewe beleid sal uiteindelik verbruikers en besighede benadeel.

Sakeliga is van mening dat die wetsontwerp nie ontwerp is om die regulatoriese grondslag vir ’n florerende sektor te lê nie, maar om die stroomop-petroleumsektor in ’n web van politieke patronaatskap en spesiale belange te verstrik.

As deel van sy voorgestelde drabelang-regime maak die wetsontwerp voorsiening dat Suid-Afrika se petroleumbronne aan die staat behoort. Sodoende herinterpreteer die Staat die instelling van sogenaamde “voogdyskap” as soortgelyk aan nasionalisering, in stryd met die oorspronklike bedoeling daaragter. Sakeliga beskou dit as ’n verskerping van anti-eiendomsregtebeleid.

Waarskuwings uit die vroeë 2000’s dat voogdyskap bloot nasionalisering en dus ongrondwetlik was, vind bevestiging in hierdie wetsontwerp.

Petroleum, in die breë, bly die belangrikste bron van energie vir ons ekonomiese stelsels, wat dit ekonomies krities maak dat petroleumprodukte en neweprodukte volop geproduseer en op die doeltreffendste manier moontlik versprei word.

Dit is in die belang van ekonomiese groei en kommersiële voorspoedigheid dat die wetsontwerp teruggetrek word.

Argiewe