Sakeliga gekant teen afdwing van BEE op regsprofessie

pexels-sora-shimazaki-5669619

Sakeliga is gekant teen die kabinet se voorneme om BEE via die Regspraktisynsraad op die regsprofessie af te dwing. Ons waarsku dat so ‘n stap ernstige skade sal berokken aan die onafhanklikheid en effektiewe funksionering van die reg en derhalwe aan die konstitusionele orde in Suid-Afrika.

Die regsverhouding is ‘n vertrouensverhouding tussen kliënt en regsverteenwoordiger. Dit kan nie sy integriteit behou én terselfdertyd onderwerp word aan eksterne politieke bepalings oor wat die demografiese eienskappe van kliënte en hul regsverteenwoordigers moet wees nie.

Die Regspraktisynsraad behoort homself te beperk tot sake soos gehalteversekering en die handhawing van die regsprofessie en regslui se onafhanklikheid. Die gepaste wyse vir die bevordering van maatskaplike en politieke oogmerke, waarvan die ontwikkeling van swart regslui een moontlikheid is, is dat regslui wat hulself daartoe geroepe voel dit onderneem. Dit is nie gepas om BEE-voorskrifte aan regslui en kliënte te stel nie, ook nie in verskuilde vorm van gedeeltelike penalisasies, punteberekenings, praktiseervoorwaardes, en dies meer nie.

Die voorgestelde kode voorsien dat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging swartbemagtigingskodes aan die regsprofessie mag opdwing. Ons merk op dat Minister Ebrahim Patel se vermoë om diskresionêr in te meng op feitlik alle vlakke toeneem, waarvan hierdie ‘n belangrike voorbeeld is. Alhoewel die kwessies waarby hy op hierdie wyse sonder parlementêre oorsig inmeng oënskynlik ekonomies van aard is, is hy inderwaarheid besig om ernstige ingrepe van politieke en maatskaplike aard te doen.

Sakeliga het in 2021 amptelike kommentaar op ‘n vorige weergawe van die voorgestelde Regsektorkode ingedien. Daardie kommentaar is hier beskikbaar. Sakeliga sal ook op die nuwe weergawe wat eersdaags gepubliseer word reageer.

Archives