Sakeliga eis dat sluierregulasies oor Eskom-verspilling teruggetrek word

The power transmission towers of sunset sky background

Sakeliga se prokureurs rig tans ‘n skrywe aan die Minister van Finansies waarin ons vereis dat die minister redes verskaf vir sy besluit dat Eskom nie onreëlmatige uitgawes asook vrugtelose en verspilde uitgawes in sy finansiële state hoef te verklaar nie.  

Hierdie omstrede besluit is op 31 Maart 2023 in die staatskoerant gepubliseer

Sakeliga dring in die skrywe ook daarop aan dat hierdie sluierregulasie onmiddellik teruggetrek moet word, by versuim waarop Sakeliga genoodsaak sal wees om die hof op ’n dringende basis te nader.

Daar is geen ooglopende rede waarom Eskom in geheel en in die normale gang van sake van hierdie standaardbepaling, wat die publiek in staat stel om sy finansiële situasie behoorlik te evalueer, vrygestel behoort te word nie.

In die belang van openbare deursigtigheid is Sakeliga juis vandeesmaand in die hof teen die Ouditeur-Generaal. Ons dring met daardie saak aan dat sy haar bestuursverslae, met gevorderde inligting oor verspilling, korrupsie en ander onreëlmatighede in alle staatsorgane aan Sakeliga en die publiek openbaar maak.

Die jongste stap deur die Minister van Finansies word in dieselfde gees deur Sakeliga teengestaan, omdat dit nie daartoe mag bydrae dat inligting oor Eskom by wyse van ’n ompad uit die hande van die Ouditeur-Generaal en/of die publiek gehou word nie.

Argiewe