Sakeliga doen verdere optrede oor Minister van Landbou se AgriBEE-plan en internasionale handelsooreenkomste

49742092068_1fedf86198_c

Sakeliga doen tans verdere stappe om verantwoordbaarheid te vestig by die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling oor sy onwettige AgriBEE-planne en moontlike skending van internasionale handelsooreenkomste.

Dit volg op Sakeliga se publikasie verlede week van die departement se vertroulike, interne planne om onwettige BEE-vereistes op die landboubedryf af te dwing.

Sakeliga het die Minister nou formeel versoek om die planne terug te trek en teen 8 Desember aan ons terugvoering te gee. Ons rig vandag ook vier PAIA-versoeke aan die departement, om verdere inligting oor die vertroulike AgriBEE-planne openbaar te maak. Die PAIA-versoeke handel oor hoe die AgriBEE-planne ontwikkel is, die toepassing daarvan, sowel as die implikasies vir internasionale handelsooreenkomste.

Drie van die vier PAIA-versoeke fokus op hoe die departement reken die AgriBEE-planne versoenbaar is met internasionale handelsooreenkomste met die Europese Unie, die Verenigde Koninkryk en Noord-Ierland, en die Wêreldhandelsorganisasie. Tussen 30 Oktober en 2 November 2023 het die departement drie regulasies oor hierdie handelsooreenkomste in die Staatskoerant gepubliseer. In al drie gevalle stel die departement BEE-vereistes – in die eerste twee oor voorkeurtariefuitvoere, en in die derde een oor voorkeurtariefinvoere.

Die eerste twee regulasies gaan oor hoe die departement kwotas vir voorkeurtariefuitvoere na die EU sowel as na die Verenigde Koninkryk en Noord-Ierland wil toedeel. Ingevolge die tersaaklike Ekonomiese Vennootskapsooreenkomste stel hierdie jurisdiksies sekere kwotas beskikbaar vir uitvoere van landbouprodukte teen voorkeurtariewe.

Die derde regulasie is oor permitte vir voorkeurtariefinvoere van landbouprodukte, waarin die departement ook BEE-vereistes stel. Volgens die departement skep hy hierdie regulasie om te voldoen aan die Wêreldhandelsorganisasie se Marrakesh-ooreenkoms.

Hoe die departement egter kan reken dat die Marrakesh-ooreenkoms en die onderskeie Ekonomiese Vennootskapsooreenkomste met die EU, die VK en Noord-Ierland vir BEE voorsiening maak is ver van duidelik. Die inligting wat ons met hierdie drie PAIA-versoeke wil bekom sal in die openbaar help aantoon tot watter mate die Departement erns maak met die internasionale handelsooreenkomste en hoe hy dit interpreteer.

Die vierde PAIA-versoek vra toegang tot alle rekords van die departement oor die ontwikkeling van die AgriBEE Sektorkodes, die AgriBEE Plan en die AgriBEE Afdwingingsriglyne. Dit sal die publiek en die industrie in staat stel om te sien hoe die departement die dokumente ontwikkel het, op wie hulle ag geslaan het, watter impakstudies gedoen is, hoe die staatsregsadviseur dit oorweeg het, watter toepassing reeds plaasvind, en watter toepassing volgende beplan word.

Vir Sakeliga se brief aan die Minister, klik hier.

Vir Sakeliga se vier PAIA-versoeke, klik hier.

Argiewe