Sakeliga begin proses om Dlamini-Zuma aan minagting van die hof skuldig te laat verklaar

theme-16

Dr. Nkosazana-Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering, bly in minagting van ‘n hofbevel wat gelas dat sy verskeie rekords oor haar 2020-ramptoestandbesluite aan Sakeliga moet voorsien. Sakeliga het daarom nou begin met ‘n proses om die minister aan minagting van die hof skuldig te laat verklaar.

Dlamini-Zuma moes kragtens ‘n bevel wat Sakeliga op 9 November 2022 bekom het ‘n verskeidenheid rekords waarop sy gesteun het toe sy die nasionale ramptoestand in Maart 2020 afgekondig het en telkens daarna verleng het, teen 22 Desember 2022 aan Sakeliga oorhandig. Sy het dit nie gedoen nie. Instede daarvan het die staatsprokureur, in opdrag van Dlamini-Zuma, rekords oor geïsoleerde besluite wat reeds in die openbare domein beskikbaar is, gelewer. Daarop het Sakeliga ‘n verlengde sperdatum van 6 Januarie 2023 aan die minister gestel.

In reaksie op die verlengde sperdatum het die staatsprokureur bokse lêers by ons prokureurs se kantore afgelewer – sowat 3800 bladsye – wat uitsluitlik bestaan uit dokumente vir publieke deelname en navorsingsdokumente wat verband hou met die April 2020-verbod op die verkoop en verspreiding van tabak. Die geheel van die 3800 bladsye is regstreeks gekopieer uit hoflêers in ‘n destydse geding oor die verbod op tabak waarin die minister ‘n respondent was.

Geen vergaderingnotules, interdepartementele korrespondensie en konsepregulasies is voorsien nie.

Sakeliga het nou die staatsprokureur versoek om teen 11 Januarie Dlamini-Zuma se versuim om rekord te lewer na bevrediging te verduidelik. Hierdie stap is deel van ‘n deeglike proses wat gevolg moet word om iemand aan minagting van die hof skuldig te laat verklaar. Die volgende waarskynlike stap is ‘n hofaansoek. Alhoewel dit reeds duidelik is dat Dlamini-Zuma Sakeliga en die hof probeer dwarsboom, is dit ‘n prosedurele vereiste dat haar minagting in ‘n verdere hofaansoek bewys moet word. Sodoende kan die minister gedwing word om óf die rekords te openbaar óf tronkstraf in die gesig te staar.

Sakeliga bly daartoe verbind om staatsamptenare se mag in toom te hou. Al het Dlamini-Zuma haar besluite grootliks of volledig met die ondersteuning van president Cyril Ramaphosa geneem en al was Ramaphosa meestal die een wat die laatnag-aankondigings gedoen het, is Dlamini-Zuma die fokus van hierdie aansoek omdat sy as minister van samewerkende regering en tradisionele sake regtens vir die besluite verantwoordelik was. Sy is dus die aangewese bestemming vir ‘n inligtingsversoek en daaropvolgende hofbevel. Die inligting wat die hof Sakeliga toegestaan het sal lig werp op die besluite van Dlamini-Zuma en ‘n regering wat vir meer as 2 jaar lank met ongekende arbitrêre diktate en inperkings groot skade aangerig het.  

Sakeliga spreek die hoop uit dat ons reeds verkreë hofbevel en enige voortspruitende minagtingsaansoeke lede van die publiek in staat sal stel om die staat verantwoordbaar te hou vir skadelike besluite van die verlede en om soortgelyke besluite in die toekoms af te weer.

Argiewe