‘n Boodskap aan lede: Ons hoef nie die staat se skadelike ideologie te aanvaar nie

Swart Ekonomiese Bemagtiging in Suid-Afrika

Twee weke gelede onthul ‘n uitgelekte interne memo van Dis-Chem se uitvoerende hoof die gevaarlike mate waartoe besighede die staat se rasgebaseerde ideologie kan internaliseer. Dit is ‘n pad na ondergang, en daarom werk Sakeliga met u ondersteuning vir ‘n ander sake-etos.

Wat begin het as “aanmoedig” en “vrywillig” in die Wet op Gelyke Indiensneming van die 1990’s en die Breed-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtigingswet van die vroeë 2000’s, word nou gevestigde praktyk. Dis-Chem is slegs een van talle maatskappye in Suid-Afrika wat al onder hierdie ideologie geswig het.

Die letter van die wet ontwikkel egter ook in ‘n kommerwekkende rigting. Let maar op die toenemende voorkoms van BEE-gebaseerde besigheidslisensies, die wysigingswetsontwerp op billike indiensneming met sy ministerieel voorgeskrewe rassekwotas, of hoe mededingingswetgewing nou daaroor gaan om samesmeltings en verkrygings aan “transformasie”-voorwaardes te onderwerp.

Al hierdie vereistes behels dat besighede optree as agente van die staat en sy rasgebaseerde ideologie. Dit gee voor om in die algemene belang te wees, maar in wese dien dit seksionele- en elite-belange ten koste van die publiek.

Gegewe die uitgebreide staatsverval en ekonomiese ontbering wat hierdie beleid geskep het, sou ‘n mens dalk hervorming verwag het. In plaas daarvan volhard die staat.

Dus, hoe om dit teë te gaan?

Die moeilikheid om die staat alleen in die gesig te staar

Dis-Chem se memo toon hoe moeilik dit is om skadelike staatsideologie en inmenging op jou eie te weerstaan. Selfs suksesvolle, openbaar verhandelde maatskappye met groot verbruikersondersteuning en aansienlike regshulpbronne swig voor staatsdruk – sommige boonop entoesiasties!

Kyk maar hoe Dis-Chem verder gegaan het as wat wetgewing tans van hom vereis – ‘n voorbeeld van die ‘staatsdepartementalisering’ van besigheid. Eerstens, die omset-boetes en JSE-vereistes wat Dis-Chem aanvanklik genoem het, sou dit nie voldoende “transformeer” nie, is waarskynlik die produk van arbitrêre teikens in een of ander selfopgelegte diensbillikheidsplan wat hulle ontwikkel het binne die verwronge aansporingstruktuur van ’n politiesgekaapte ekonomie. Tweedens, selfs toe dit onder openbare druk teruggekrabbel het, het die terugkrabbeling slegs distansiëring van die trant van die uitvoerende hoof se oorspronklike memo, nie die essensie daarvan nie, behels. Trouens, die direksie se opvolgbrief impliseer dat die besinning slegs gevorder het tot ’n poging om die staat se rasgebaseerde ideologie op ‘n minder aanstootgewende wyse te implementeer, nie om die etos te bevraagteken nie.

Terselfdertyd verstaan ​​ons as sakelui dat Dis-Chem en besighede landswyd al jare lank meedoënlose druk ondervind om rasse-ideologie bo sakedoen te prioritiseer. Ons het dalk nie so jammerlik onder daardie druk geknak soos Dis-Chem nie, maar ons moes almal hierdie vyandige waters navigeer: Van wie ons in diens neem tot met wie ons saamwerk, by koop en aan verkoop. Selfs by liefdadigheid is ons besighede onder druk geplaas om rekening met die staat se rasgebaseerde voorskrifte te hou. Baie van ons – miskien selfs die meeste van ons – het soms kompromieë aangegaan en ‘die speletjie gespeel’, net sodat ons kon aangaan met sake doen sonder om geteister te word deur die staat of nakomingsgedrewe privaat besighede.

Maar hierdie kompromieë het teen ‘n groot prys gekom. Wanneer enigeen van ons optimeer vir voldoening aan die staat se ideologie, optimeer ons nie vir waardeskepping nie, naamlik die produksie van ekonomiese goedere tot voordeel van ons medemens. Landswyd is hierdie kompromie op groot skaal aangegaan en was ‘n ekonomiese ramp. Die samelewing het ‘n geweldige prys betaal.

Vandag moet ons erken: individuele pogings om die staat se skadelike voorskrifte te hanteer of te weerstaan, het nie die gety laat draai nie. Pogings het gely onder ‘n baie algemene probleem, naamlik dat enige onderneming wat alleen optree altyd geneig is om deur die staat oorrompel te word. In uiterste gevalle, soos Dis-Chem, is sommige ondernemings selfs in staat om alle lesse uit die geskiedenis te onderdruk en hulself te oortuig dat dit nie net aanvaarbaar is nie, maar wenslik en verdienstelik is dat die staat ’n rasbehepte ekonomie voorskryf.

Sistemiese hervorming vereis koördinering

Terwyl sistemiese hervorming in die aangesig van staatsmag vir enige onderneming op sy eie feitlik onmoontlik is, is dit nie die geval vir ‘n sakegemeenskap nie.

Sakeliga se missie is om so ‘n sakegemeenskap te skep: een wat sakelui nie net aanmoedig om meer kragtig teen skadelike staatsbeleid in hul eie ondernemings te staan ​​nie, maar ook onafhanklik en sterk genoeg is om as ‘n direkte wig en teenwig tot staatsmag te dien.

Deur u lidmaatskap en ondersteuning dra u tot hierdie groeiende en onafhanklike sakegemeenskap by – een met sy eie etos.

In hierdie etos word sake gedoen op grond van vrywillige sake-oorwegings, eerder as van bo-na-onder rassevoorskrifte. In hierdie etos erken ons dat gemeenskappe saak maak en dat maatskappye goed sal doen om goeie verhoudings met die gemeenskappe waarin hulle sake doen te verseker. Maar ons verwerp dat die staat vir maatskappye kan bepaal wat hul verhouding met gemeenskappe moet wees. Ons verwerp dit veral wanneer die staat daarop aandring dat alle maatskappye en gemeenskappe die totale beeld en ideologie van die staat self moet weerspieël.

‘n Ongekende regstrategie vir besigheid

In die maande en jare wat voorlê, sal u ondersteuning Sakeliga in staat stel om ‘n ongekende litigasiestrategie te dryf.

Soos nog nooit tevore nie, sal besigheid in hierdie land die regbank se bemiddeling en bystand opsoek, in die vorm van ‘n menigte onderling-versterkende hofsake aanhangig gemaak deur Sakeliga. Een vir een sal ons portefeulje van sake die beste moontlike regspraak wat die howe kan bied ontwikkel, waar ook al die wetgewer of uitvoerende gesag ondernemings se vermoë om die algemene belang te dien benadeel.

Die groeiende besef dat dinge soos staatsverval en BEE iets in gemeen het, bied vrugbare grond vir geregtelike hersiening. Onlangse, hoogs kritiese opmerkings deur hoofregter Raymond Zondo in sy staatskapingsverslag, oor hoe transformasie-gebaseerde verkryging ten koste van waarde-vir-geld-gebaseerde verkryging kom, is ‘n uitstekende voorbeeld.

Daar sal weliswaar terugslae langs die pad wees, maar deurslaggewende oorwinnings is moontlik en hulle moet sonder uitsondering aangegryp word.

’n Strategie wat verder strek as litigasie

So belowend as wat dit is, het litigasie ook sy perke. Staatshowe het oral altyd te kampe met dominante ideologiese strominge – hulle is immers deel van die staat. Normaalweg moet ‘n mens nie meer van die howe vra as wat van hulle verwag kan word om te gee nie.

Wat die saak in Suid-Afrika bemoeilik, is die versnellende verskynsel van staatsverval, ‘n proses waardeur staatsorgane in so ‘n mate inplof dat hulle alle uitvoerende vermoë verloor. Nominaal bestaan ​​hulle en hul reëls steeds, maar in die praktyk het dit opgehou om van gevolg te wees. Ons sien aspekte hiervan in verskeie plaaslike munisipaliteite in Suid-Afrika, maar daar is nog baie wat voorlê. Aangesien die reg nie die onmoontlike kan vereis nie, het dit geen nut om die hof te smeek om dooie entiteite tot lewe te beveel nie.

Die voortgesette verswakking van staatstrukture in die komende jare sal leemtes van mag en gesag laat, maar nie vir lank nie. Weereens, soos ons gesien het in mislukte plaaslike munisipaliteite, sal sulke leemtes gevul word óf deur bendelede wat op seksionele belange gesteld is óf deur sterk, bekwame en waardige organisasies wat die gemeenskaplike belang dien.

Die voordeel van staatsverval is dat die staat se vermoë om skadelike beleide af te dwing, soos rasgebaseerde voorskrifte aan besighede, waarskynlik sal afneem. Die nadeel is dat as ons nie beter as die bendes organiseer nie, hulle in beheer sal wees.

Sakeliga se strategie strek dus verder as litigasie: tot die vul van die ekonomies relevante leemtes, wat deur staatsverval gelaat word, met ‘n verskeidenheid alternatiewe en onafhanklike ekonomiese instellings. Ons poog nie om orde en voorspoed te herstel deur voortdurend met die staat te baklei nie. Ons beoog eerder om strukture vir kommersiële orde en bestuur te vestig wat veel meer bevorderlik is vir florerende besigheid as mislukte staatstrukture. Ons glo dit vereis ‘n netwerk van sakekamers, digitale ekonomiese platforms, geskilbeslegting, internasionale betrekkinge, gekoördineerde sekuriteit, en nog baie meer.

Op die ou end bestaan ​​Sakeliga omdat ons dit as sakelui se diepste plig beskou om ‘n gunstige omgewing vir besigheid te skep in alle gemeenskappe waarin ons sake doen. Die plig is ons s’n, nie die van die staat of enigiemand anders nie. Ons sal dit nakom deur ‘n steeds sterker en meer onafhanklike sakegemeenskap te word, met ‘n etos om waarde te skep, en persoonlike en maatskaplike florering, deur besigheid.

Piet le Roux
Uitvoerende Hoof, Sakeliga

Argiewe