Nuwe staatsverkrygingsvoorstel perfekte resep vir versnelde staatsverval

51899826130_bf901a28be_b

Die nasionale tesourie se jongste wysigings aan die Wetsontwerp op Staatsverkryging is die perfekte resep vir versnelde staatsverval. Dit wil alle munisipaliteite, provinsies en staatsorgane – ongeag politieke party of “onafhanklikheid” – dwing om tenders toe te ken volgens dieselfde, mislukte nasionale regeringsbeleid.

Die voorstelle skep uitdruklike verpligtinge vir alle staatsorgane om voorkeur staatsverkryging eerder as normale staatsverkryging te gebruik – en dan boonop van ’n baie spesifieke soort. Tot dusver kon munisipaliteite hul eie verkrygingsbeleide toepas – hulle was nie verplig om voorkeur verkryging van die nasionale regering se keuse te doen nie. Ook provinsies en ander staatsentiteite kon in beginsel normale verkryging doen, al was dié opsie in afgelope jare minder gereeld uitgeoefen.

Die nuwe voorstelle is dus ’n giftige versterking van juis die staatsbeheer wat sentraal staan tot die land se krisis en wat tot dusver net staatsverval, selfverryking en publieke verarming opgelewer het. Die publiek en die sakesektor se geduld met hierdie soort verspilling en selfverryking is op ’n laagtepunt. Juis besighede wat die beste waarde vir geld kan lewer sal dit ook toenemend vermy om met die staat besigheid te doen, omdat dit te veel politieke komplikasies, etiese probleme, en gronde vir dispute en geregtelike hersiening meebring.

Artikel 217(1) van die Grondwet bepaal dat staatsentiteite normale, koste-effektiewe verkryging moet toepas. Soms, ingevolge artikel 217(2), mag staatsentiteite ook kies om voorkeur verkryging te doen, maar dan binne ’n raamwerk wat die parlement ingevolge artikel 217(3) mag voorskryf en steeds onderhewig aan koste-effektiwiteit. Die nuwe voorstelle poog nou om staatsentiteite hul keuse tussen voorkeur verkryging en normale verkryging te ontneem. Boonop is die voorkeur verkryging wat dit probeer afdwing allesbehalwe ’n raamwerk – dit maak selfs spesifiek voorsiening dat tenders aanvaar moet word wat tot drie maal – en meer – die prys van normale verkryging kos.

Hoe spesifiek hierdie nuwe voorkeur verkryging wil wees, blyk uit die lys voorkeurkriteria wat nou voorgeskryf word. Dit sluit in ras en BEE – wat steeds vir die regering die belangrikste bly – en dan ook geslag, militêre veteraanstatus, woongebied, ondernemingsgrootte, en meer. Soos in die verlede lys die kriteria nie politieke konneksies as ’n vereiste nie, maar dit sal niks verander aan die praktyk nie.

Die voorkeurkriteria moet dan op vyf maniere toegepas word: reservering van tenders vir voorkeurgroepe, voorafdiskwalifikasie, ’n voorgeskrewe puntestelsel, verpligte subkontraktering, en verpligte drempels vir plaaslike vervaardiging ongeag hoe kostedoeltreffend iets elders bekom kan word.

Die jongste wysigings is klaarblyklik veral gerig daarop om ’n teenvoeter te wees vir Sakeliga se konstitusionelehofbevel oor staatsverkryging verlede jaar, sowel as Sakeliga se verslag oor die verskil tussen normale verkryging en voorkeur verkryging. Die hofsaak en die verslag het die deur oopgemaak vir staatsentiteite om weer verkryging te doen van die soort wat die Zondo-kommissie beklemtoon het: “Ultimately in the view of the Commission the primary national interest is best served when the government derives the maximum value-for-money in the procurement process and procurement officials should be so advised.”  

In Sakeliga se hofsaak, teen Pravin Gordhan se BEE-gedrewe 2017 voorkeurverkrygingsregulasies, het ons bewys dat die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid nie die minister toelaat om, met regulasies, ’n reg tot voorafdiskwalifikasie te skep nie. Klik hier vir meer daaroor.

In Sakeliga se verslag oor staatsverkryging het ons gewys op die byna vergete verskil tussen normale staatsverkryging en voorkeur staatsverkryging en hoe normale staatsverkryging waarde vir geld kan herstel. Ingevolge artikel 217 van die Grondwet het staatsentiteite ’n keuse tussen die twee. Die belang van hierdie keuse is dat munisipaliteite, wat nie ANC-beleid wil volg nie, sowel as staatsentiteite soos Eskom, wat in krisis verkeer, voorkeur verkryging heeltemal kan systap en normale waarde-vir-geld verkryging mag doen om ineenstorting te vermy. Klik hier vir meer daaroor.

Die tesourie se jongste voorstelle is ’n poging om die parlement so ver kry om voorkeur verkryging nou direk in die wet in te skryf en verpligtend te maak en daarmee die sentrale regering in beheer van alle staatsverkryging te plaas. Dit is egter nie so maklik nie. Sakeliga sal sowel die gebreke in die openbare deelname proses wat tot dusver gevolg is, as die inhoud van die voorgestelde bepalings onder deeglike regsoorweging neem.

Vir Sakeliga se aanvanklike kommentaar op die Wetsontwerp op Staatsverkryging in September 2023, vóór die nuwe voorstelle, klik hier.

Archives