“’n Klinkklare resep vir ‘n ekonomiese ramp” – Sakeliga kritiseer Onteieningswetsontwerp in parlement.

pexels-nataliya-vaitkevich-6120214

“Die indruk bestaan dat die idee met hierdie onteieningswetsontwerp is om  op ‘n aaneenlopende basis onteiening in die land te doen, meestal benede markwaarde, en dít is ‘n klinkklare resep vir ‘n ekonomiese ramp,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê tydens sy voorlegging aan die portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur, wat verantwoordelik is vir die wetsontwerp oor onteiening. 

In ‘n mondelinge aanbieding waarsku Sakeliga dat die voorgestelde Onteieningswetsontwerp bots met internasionale beste praktyk, die standaarde van die Grondwet, en die strukturele vereistes van konstitusionalisme. Volgens Sakeliga moet die wetsontwerp in sy geheel heroorweeg word. 

Le Roux waarsku dat selfs net die voorstel van onteiening sonder vergoeding ekonomies skadelik is. “In enige onteieningsregime waar die skadu van onteiening teen minder as markwaarde oor so ‘n ekonomie hang sien ‘n mens dat die gehalte en hoeveelheid van beleggings, die belyning van aansporings in die land asook die geldeenheid almal ‘n afwaartse trant inslaan. Voorbeelde hiervan is te siene in lande soos Venezuela en Zimbabwe.” 

Le Roux het tydens die verhoor herhaal wat Sakeliga op 23 Maart aan die ad hoc-komitee om artikel 25 van die Grondwet te wysig, voorgelê het, naamlik dat onteiening en vergoeding konseptueel onskeidbaar is. Sonder vergoeding het ons nie te doen met onteiening nie, maar met beslaglegging op bates. Voorts, deur die konsep van ‘nul vergoeding’ in verband te bring met onteiening, en te impliseer dat vergoeding sodoende in wese betaal word, maar dat die bedrag bloot R0,00 is, sou die parlement homself blootstel aan inkriminering vir bedrieglike wanvoorstelling (die fraus legis-leer). Dit sou die geval wees omdat die parlement op hierdie wyse sou beoog om ‘n ongrondwetlike en onwettige doel te bereik (onteiening sonder vergoeding) deur dit voor te hou as ‘n wettige en grondwetlik onaanvegbare doel (onteiening met vergoeding teen ‘nul’ waarde). 

Sakeliga stem saam dat Suid-Afrika se onteieningsraamwerk heroorweeg moet word, aangesien die heersende Onteieningswet van 1975 in ooreenstemming met die Grondwet moet wees. Die voorgestelde wetsontwerp wat tans oorweeg word is egter nie net ongrondwetlik nie, maar ook strydig met die breër beginsels van konstitusionalisme. 

Le Roux betreur die wetsontwerp se uitskakeling van tranegeld (solatium). Ingevolge huidige wetgewing en ingevolge internasionale beste praktyk, beteken die feit dat die eiendom van ‘n eienaar onteien word opsigself dat ‘n addisionele bedrag vergoeding (benewens die waarde van die eiendom) betaal word. Op hierdie manier vergoed ‘n regering vir die ongerief van die onskuldige eienaar. Le Roux beklemtoon dat dit ‘n uiters relevante oorweging is, wat deur artikel 25(3) van die Grondwet vereis word en dat die wetsontwerp derhalwe nie tranegeld moet afskaf nie. 

“Die wese van onteiening sonder vergoeding – ‘n vergryp teen die wil van ‘n nie-kriminele persoon wat eiendom op regmatige en regverdige grondslag besit – behoort die voorste oorweging te wees wanneer die vasstelling van vergoeding ter sprake is. Dit is absoluut relevant, en die Grondwet vereis dat alle relevante faktore in ag geneem behoort te word wanner vergoeding vasgestel word. Die uitsluiting van tranegeld in die wetsontwerp is derhalwe ooglopend reeds ‘n ernstige gebrek in die voorgestelde wetgewing,” sê Le Roux. 

Le Roux kritiseer ook die onteieningswetsontwerp oor die verskuiwing van blaam vir nie-instandhouding van eiendom na eienaars. Artikel 13 van die Grondwet verbied dwangarbeid, maar tog sou die wetsontwerp eienaars van eiendom wat onteien word dwing om voort te gaan om tyd, geld en moeite in die eiendom te belê ten voordeel van die regering. “Ingevolge die wetsontwerp sal eienaars van eiendom wat onteien gaan word,  aanspreeklik gehou word as hulle nie ten volle aandag aan die eiendom skenk nie, selfs al word hulle nie daarvoor vergoed nie.” 

In verband met die kwessie van verbandlenings en soortgelyke finansiële belange wat deur derde partye, soos banke, verskaf word, beoog die wetsontwerp om die betaling van vergoeding te verbied voordat ‘n ooreenkoms gesluit is tussen die onteiende eienaar en die finansiële instelling wat die verband verskaf.  

“Die eienaar verloor sy bron van inkomste en het baie min bedingingsmag, maar tog moet hy ‘n verband betaal wat op grond van die waarde van die eiendom uitgeneem is, terwyl hy teen nul rand onteien word, oftewel terwyl sy eiendom gekonfiskeer word. Met gebrek aan keuse, sal hy steeds aanspreeklik gehou word vir die verband en gedwing word om alles wat hy moontlik ontvang het as gedeeltelike vergoeding aan die bank te betaal, sonder dat hy enige skuld daaraan het. Dit is hoe misdadigers behandel word wanneer bates aan die staat verbeur word,” het Le Roux gesê. 

Ten slotte het Le Roux gewys op die problematiese totstandkoming van die ewigdurende onteiening-sonder-vergoeding-konsep wat deur die wetsontwerp in die gelewe geroep sal word. Ingevolge die wetsontwerp word vergoeding bepaal aan die hand van onder andere enige en alle historiese staatsondersteuning in verband met die eiendom. Die implikasie is dat indien ‘n grondhervormingsbegunstigde eiendom vanaf die staat sou ontvang as deel van ‘n herverdelingsprogram, en die staat se “belegging” in daardie eiendom 100% van die waarde daarvan daarstel, die nuwe eienaar aan ‘n ewigdurende risiko van onteiening sonder vergoeding blootgestel sal wees. Op hierdie wyse ondermyn sowel die Onteieningswetsontwerp as die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet grondhervorming, eerder as om dit te bevorder. 

Vir ‘n klankopname (20 minute) van Le Roux se aanbieding, kliek hier

Vir Sakeliga se volledige skriftelike kommentaar op die Onteieningswetsontwerp, kliek hier

Archives