Inperkingsdeursigtigheid: Sakeliga dien aansoek vir minagting teen COGTA minister in

50236780366_523bab63cf_b

Sakeliga het ’n hooggeregshofaansoek gebring om die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) skuldig te laat verklaar aan minagting van die hof. Die minagting hou verband met ‘n versuim om rekords te openbaar, ingevolge ‘n vorige hofbevel, van die omvattende Covid-inperkingsbesluite wat in 2020 agter geslote deuregemaak is.

As Sakeliga met hierdie minagtingaansoek slaag, sal die huidige minister, me. Thembi Nkadimeng, verplig wees om die rekords openbaar te maak wat sowel sy as haar voorganger, Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, tot dusver weerhou het. Die balju het aan Sakeliga bevestig dat hofstukke Vrydag aan me. Nkadimeng beteken is.

Sakeliga bly daartoe verbind om deursigtigheid te bring oor die ramptoestandbeleide van 2020. Hierdie ongekende staatsingrypings het ernstige kort- en langtermyngevolge gehad. Ons doel is om te verseker dat die staat nie weer sulke drastiese en sosio-ekonomies skadelike ingrypings op grond van ondeursigtige prosesse, onduidelike rasionaal, en ongepubliseerde beoordelings van breë maatskaplike gevolge kan doen nie.

In 2020 was dit dr. Dlamini-Zuma, as minister van COGTA, wat die besluite oor Covid-rampregulasies goedgekeur en geneem het. Teen die einde van daardie jaar het Sakeliga ‘n PAIA-versoek ingedien vir rekords van besluitneming oor die voortslepende ramptoestandverklarings. Sy het Sakeliga se versoek geweier. Toe Sakeliga in November 2022 ‘n hofbevel bekom om bekendmaking af te dwing, het sy nie daaraan voldoen nie. Toe, in Februarie 2023, voordat ‘n aansoek om minagting van die hof teen haar gefinaliseer kon word, is dr. Dlamini-Zuma  as COGTA-minister deur me. Nkadimeng, die huidige minister, vervang.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Die verandering van minister het die verrigtinge in 2023 deurgaans vertraag, vanweë die noodsaak om die huidige minister ‘n geleentheid tot nakoming te gee. Me Nkadimeng het egter versuim om van die geleentheid om te voldoen gebruik te maak en het nou sélf in minagting van die November 2022-bevel beland. Sy is daarom as die sleutelrespondent tot ons minagtingsaansoek gevoeg, beide in haar amptelike en persoonlike hoedanigheid. As sy nie voldoen nie, sal sý aan die ontvangkant staan van die ernstige hofsanksies wat dr. Dlamini-Zuma in die gesig sou staar.

Na drie jaar beweeg Sakeliga se langste stryd nog om rekords van die staat onder PAIA te bekom na die volgende belangrike fase. Sakeliga bly toegewyd aan hierdie proses, omdat ons glo dat dit noodsaaklik is om aanspreeklikheid en deursigtigheid op die hoogste staatsvlak te vestig en om ‘n herhaling van sulke rampspoedige staatsingrypings te voorkom.

Die jongste minagtingsverrigtinge het ten doel om die saak te finaliseer en duidelikheid te bied oor die beraadslagings- en besluitnemingsprosesse wat plaasgevind het in oploop tot skadelike en irrasionele beleide wat tot miljoene werkverliese, besigheidsluitings, en vernietiging van welvaart gelei het.

Hoewel die COGTA-minister sedert ‘n hofbevel ten gunste van Sakeliga in November 2022 sommige rekords met betrekking tot die PAIA-versoek oorhandig het, het die minister nie wesenlik voldoen nie. Vele kritieke rekords bly uitstaande, en oor sommige van die maandelikse besluite om die ramptoestandregulasies te verleng, is glad geen rekords verskaf nie.

Die aansoek is in die Hooggeregshof in Pretoria gebring.

Klik hier om ‘n volledige lys van die rekords te sien wat Sakeliga in 2020 versoek het.

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe