Hof bevind Sakeliga se Ouditeur-Generaal aansoek prysenswaardig, maar wetswysigings noodsaak langer proses

Foto: Moneyweb
Foto: Moneyweb

Die Gautengse Hooggeregshof het vandag bevind dat Sakeliga se poging om lig te werp op die wanfunksionaliteit van munisipaliteite prysenswaardig is, maar weens onlangse wetswysigings ‘n  langer proses moet volg. Sakeliga gaan dus voort om die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (die “OG”) se gedetailleerde bestuursverslae oor vervallende munisipaliteite te bekom. 

Ons betreur dit dat die OG steeds weier om die bestuursverslae beskikbaar te maak, nieteenstaande die openbare belang daarvan. Haar optrede is afkeurenswaardig en in die publieke nadeel. Sy behoort al die bestuursverslae onmiddellik beskikbaar te maak, wat alle verdere vertragings uit die weg sal ruim.

Sakeliga het verlede jaar ‘n hofaansoek teen die OG geloods nadat sy geweier het om die bestuursverslae van 154 probleem-munisipaliteite bekend te maak. Sakeliga wil die verslae aan sakekamers en die publiek voorsien sodat hulle noukeurig kan bepaal wat die probleme in hul munisipaliteite veroorsaak en wie daarvoor verantwoordelik is. Dit sal ‘n nuwe tydvak vir verantwoordbaarheid en openbare belang litigasie inlui.

Die hooggeregshof het vandag bevind dat die doel van Sakeliga se aansoek prysenswaardig is, maar dat onlangse wysigings aan die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (die “PAIA”) nou bykomende administratiewe stappe van ‘n inligtingversoeker vereis alvorens die hof genader kan word. Dit behels dat ‘n klag in sekere omstandighede eers by die Inligtingsreguleerder gelê moet word. Die uitspraak beklemtoon egter dat Sakeliga wel geregtig mag wees op die rekords indien die prosesse soos in die gewysigde wet gevolg word.

Sakeliga verwelkom die hof se bevestiging van die kardinale belang van sodanige aansoeke om lig te werp op die wanbestuur en ineenstorting by munisipaliteite. In oorleg met ons regspan sal ons nou volgende stappe bepaal om steeds die rekords te bekom. Dit mag behels dat die Inligtingsreguleerder mettertyd genader word om die OG te verplig om die bestuursverslae te lewer, waarna die hof moontlik weer genader sal moet word.
 

Argiewe