Groot fout met proses vir onteieningswet – Sakeliga

unnamed

Die portefeuljekomitee gemoeid met die onteieningswetsontwerp slaan klaarblyklik nie ag op geskrewe voorleggings nie en sluit nie alle deelnemers wat kwalifiseer by openbare verhore in nie. Dit is die afleiding van die sakeorganisasie, Sakeliga, na interaksie met die komitee vandeesweek. 

Dié toedrag van sake beteken die komitee versuim sy grondwetlike plig om ‘n behoorlike proses te volg, insluitend behoorlike en billike deelname deur die publiek. Die komitee moet die proses regstel, alle skriftelike voorleggings oorweeg en alle kwalifiserende partye tydens mondelinge verhore akkommodeer. 

Hierdie afleidings en eise vir regstelling is vervat in ‘n brief van Sakeliga se prokureurs aan die komitee, gedateer 18 Maart. 

“Ons het op 16 Maart kennis geneem van die situasie, toe Sakeliga uitgesluit is van ‘n skedule vir mondelinge aanbiedings gedurende die week van 22 Maart, wat die komitee gepubliseer het,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Dit ondanks die feit dat Sakeliga in Februarie ‘n geskrewe voorlegging aan die komitee gelewer het en dit duidelik gestel het dat hy ook tydens verhore ‘n mondelinge voorlegging wil lewer. Dit was eers na intervensie deur ons regspan dat ons vandag ‘n geleentheid toegestaan is om aan die verhore deel te neem. Die vraag is nou: hoeveel ander deelnemers, wat nie geredelik tot ‘n regspan toegang het nie, word steeds van die proses uitgesluit? 

By navraag vroeër vandeesweek is Sakeliga deur die komiteesekretariaat in kennis gestel dat hy in die e-posgedeelte van sy voorlegging, en nie soos gewoonlik in die aangehegte PDF-dokument nie, moes verklaar het dat hy ook ‘n mondelinge voorlegging sou wou lewer. 

“Hierdie ongewone en nademaalse vereiste is onaanvaarbaar,” sê Le Roux. “Die mees voor die hand liggende gevolgtrekking is dat die komitee aangaan sonder om die skriftelike voorleggings wat hy ontvang het te lees. Andersins sou hy maklik die versoek van Sakeliga om mondelinge vertoë te rig op die eerste bladsy van die voorlegging raakgesien het.” 

Sakeliga verneem dat ongeveer 90 000 skriftelike voorleggings ontvang is. Baie, indien nie die meeste nie, sou die gebruiklike prosedure gevolg het om hul voorleggings – veral as dit uitgebreid is – deur middel van ‘n PDF- of Word-dokument aan die epos te heg. Ten minste tientalle wettige deelnemers met waardevolle bydraes, wat in die voorleggings sou versoek het om aan die verhore deel te neem, word waarskynlik nou toegang tot die volledige openbare deelnameproses geweier. 

“Ons dring daarop aan dat die komitee alle voorleggings lees en oorweeg en dat deelname aan die verhore heropen word vir almal wat in hul voorleggings versoek het om deel te neem. Ons neem kennis van en ondersteun soortgelyke versoeke deur ander organisasies, veral die Instituut vir Rasseverhoudinge, in ‘n gedetailleerde brief aan die Komitee op 18 Maart,”  sê Le Roux. 

Archives