Grendelregulasies vereis nie sluit van openbare of private akkommodasiefasiliteite nie

lockdown

Sedert die aankondiging van die jongste grendelregulasies het Sakeliga verneem dat sommige karavaanparke, kampeerterreine en moontlik ander plekke van vakansieakkommodasie onder die indruk is dat hulle verplig of aangemoedig word om te sluit. Sakeliga beklemtoon dat daar géén sodanige bepalings in die regulasies is nie, en dat sodanige sluitings nie noodwendig eens toelaatbaar is nie.

Regsverteenwoordigers het Sakeliga van die volgende advies bedien oor die korrekte interpretasie van die regulasies met betrekking tot reis, akkommodasie en verblyf. Ons is ook geadviseer oor sekere remedies tot beskikking van vakansiegangers wat benadeel word deur onnodige sluiting van akkommodasie, byvoorbeeld die eensklapse sluiting van munisipale karavaanparke soos in die Sederberg Plaaslike Munisipaliteit.

Die bewegingsbeperkings geld net tussen 21h00 en 06h00. Die publiek, en meer spesifiek vakansiegangers, mag egter steeds buite hierdie tye sonder permitte reis. Vir doeleindes van die aandklokreël behoort vakansiegangers hul vakansieakkommodasie te ag as hul blyplek – selfs waar daardie akkommodasie op ‘n kampeerplek geleë is. Die regulasies vereis nie dat persone binne hul gewone of permanente blyplek ingeperk is nie.

Dit is belangrik om te let op die feit dat die regulasies nie die sluit van enige akkommodasie vereis nie, ongeag of sodanige akkommodasie openbaar of privaat is. Akkommodasiefasiliteite val ook nie binne die bestek van “ontspanningsfasiliteite” nie en is dus nie gesluit nie. Akkommodasiefasiliteite wat binne die grense van nasionale parke of munisipale kampterreine val word ook nie gesluit nie en, dienooreenkomstig, word munisipale owerhede en ander staatsorgane verplig om sodanige fasiliteite oop te hou. Daar is in die regulasies, soos gewysig, geen magtiging of verpligting vir staatsorgane om vakansiegangers summier uit hul akkommodasie uit te sit, of andersins onwettig hul besprekings te kanselleer nie. Repudiasie van sodanige besprekings deur die staat sal onwettig wees en die publiek word aangemoedig om regsadvies te verkry om sodanige kontrakte af te dwing of, in die alternatief, hul skade te verhaal. Dit is van belang om te let op die feit dat vakansiegangers spesifieke beskerming sal geniet teen onwettige uitsetting en kansellasies in terme van regulasies 37 en 38 van die inperkingsregulasies.

Die vlak 3 regulasies, soos gewysig, affekteer nie die gebruik van vakansieoorde, private ontspanningsfasiliteite, private damme, reservate, restaurante, hotelle of kampeerterreine nie. Dié besighede word wel verplig om gehoor te gee aan die gesondheids- en veiligheidsregulasies (ook inaggenome die beperkings op byeenkomste wat in sommige gevalle van toepassing mag wees).

Archives