FSCA maak gereed vir BEE-voorvereistes aan finansiëlediensteverskaffers

MicrosoftTeams-image

’n Memorandum van verstandhouding gesluit tussen die FSCA en die BEE-kommissie vandeesweek dui op toenemende risiko van BEE-eise in die finansiëledienste-industrie. 

Die memorandum spruit uit van die FSCA se Transformasiestrategie van Maart 2023. Die strategie poog om alle finansiëledienstelisensies aan BEE-voorvereistes onderhewig te stel. 

Sakeliga staan die uitbreiding van BEE in etlike sleutelindustrieë teë. In die finansiële sektor fokus ons daarop om te keer dat die Conduct of Financial Institutions-wetsontwerp (COFI), wat tans in die parlement dien, in werking tree. COFI het ten doel om die FSCA te bemagtig om BEE-voorvereistes te stel, waaraan finansiëlediensteverskaffers moet voldoen óf hul lisensies verloor en/of vervolging in die gesig staar. 

Tans, sonder COFI, kan die FSCA nie regmatiglik lisensies weerhou of finansiëlediensteverskaffers vir nie-nakoming van BEE-voorvereistes vervolg nie. Dit weerhou die FSCA egter nie daarvan om druk op die industrie te laai en ’n basies vir afdwinging te lê nie. 

Soos uiteengesit in sy Transformasiestrategie, pas die FSCA tans Fase Een toe van ’n twee-fase proses. Fase Een behels die laai van druk op die industrie en die implementering van “interne gereedheid vir Fase Twee.”  Baie van die “interne gereedheid” fokus op die insameling van data oor die eienaarskap van gelisensieerde entiteite en voorbereiding vir afdwinging, wat verklaar waarom die FSCA gretig is om BEE-sertifikate in te samel en memoranda van verstandhouding te sluit. 

In Fase Een stel die FSCA nog nie duidelike BEE-voorvereistes nie. Volgens die FSCA sal dit beweeg na Fase Twee: afdwinging, “sodra die COFI-wet geïmplementeer is”

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

In Fase Twee, glo die FSCA, sal dit 

“bemagtig wees om direkte vereistes met betrekking tot transformasie aan finansiële instansies te stel en om nakoming van hierdie vereistes te monitor.” 

Die FSCA verduidelik dat dit gebruik wil maak van 

“een van die kernsterkpunte van die FSCA, naamlik sy vermoë om afdwingingstappe teen finansiële instansies te doen. Dit is in kontras tot ander belanghebbendes soos die FSTC, wat nie sanksies teen instansies kan instel nie, en selfs die B-BBEE-kommissie, wat se administratiewe stappe tot gevalle van bedrog of wanvoorstelling beperk is. Die FSCA sal uiteindelik by magte wees om op te tree teen finansiële instansies wat nie die verbintenisse in hul transformasieplanne nakom nie.”  [Sakeliga-klem]  

Sakeliga sal voortgaan om verwikkelinge in die finansiëledienstesektor en vordering met COFI te monitor. Intussen beveel ons aan dat finansiëlediensteverskaffers versigtigheid aan die dag lê wanneer hulle oorweeg of die FSCA transformasieplanne, BEE-sertifikate, en ander nakomingsmateriaal onverwant aan finansiële dienste behoort te ontvang. Die FSCA beoog om hierdie teen jou te gebruik. Nie-nakoming van sulke direktiewe behoort op die maksimum haalbare vlak te wees, na deeglike oorweging van die relevante regulatoriese en professionele risiko’s. 

Sakeliga staan COFI teë. Die BEE-bepalings daarin is skadelik. Dit beperk die beskikbare poel van finansiële dienste, wat die publiek se toegang tot hierdie dienste verminder en die koste daarvan opjaag. Dit behels ook ’n onaanvaarbare inbreuk op die vryheid om handel te dryf en ’n professie te beoefen, asook om ’n onderneming te bedryf en te besit. 

Sakeliga moedig die industrie aan om standvastig te wees en ondersteuning te bied om te keer dat BEE-lisensiëring die publiek en die industrie skade berokken. 

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Archives