Eiendomsreguleerder sê doen BEE of sluit jou besigheid

Volledige verklaring

Besighede wat deur die staat as “eiendomspraktisyns” geklassifiseer word is aangesê om BEE te doen of op te hou sake doen.

Op 13 Maart 2024 het die Eiendomspraktisyns Regulerende Owerheid (PPRA) aangekondig dat hy beplan om te weier om Getrouheidsfondssertifikate uit te reik of te hernu aan besighede met minder as 40 punte op ’n BEE-telkaart.

Aangesien die Wet op Eiendomspraktisyns (22 van 2019) dit verbied om sonder ’n Getrouheidsfondssertifikaat as ’n “eiendomspraktisyn” sake te doen, is dit ’n eksistensiële bedreiging vir besighede.

Sakeliga is teen die PPRA se onwettige, ongrondwetlike en skadelike optrede. In ’n brief aan rolspelers in die bedryf hierdie week, nooi ons hulle uit om Sakeliga te kontak indien hulle steun wil bied aan ’n omvattende hofsaak om die PPRA te stop en om hul vryheid – om sonder politieke toestemming besigheid te mag doen – te handhaaf.

Ten spyte daarvan dat daar niks in die Grondwet, die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging, of die Wet op Eiendomspraktisyns is om ’n minimum vlak van BEE vir “eiendomspraktisyns” verpligtend te maak nie, het die PPRA besluit dat BEE-sertifikate minstens 40 punte moet hê om geldig te wees.

Volgens die PPRA se Waarnemende Transformasiefondsbestuurder in sy 13 Maart industrie-webinaar:

“as jy enigiets onder 40 behaal en as jou BEE-sertifikaat nie voldoen nie, sal ons nie ’n Getrouheidsfondssertifikaat aan jou kan uitreik nie.”

Die PPRA se aankondiging beteken dat tienduisende eiendomsbesighede die risiko loop om verbied te word om sake te doen. Jaarliks word meer as 40 000 Getrouheidsfondssertifikate uitgereik aan nie net eiendomsagente nie, maar ook eiendomsontwikkelaars, eiendomsadministrateurs, verhuurders, direkte eiendomsverkopers, afslaers, eiendomsadverteerders, en meer.

Getrouheidsfondssertifikate is dokumente wat deur die Eiendomspraktisyns Getrouheidsfonds uitgereik word. Die Fonds het ten doel om te verseker dat betalings wat deur “eiendomspraktisyns” in trust gehou word veilig bly en dat kliënte vergoed kan word in geval van diefstal. Die Fonds het niks met BEE te doen nie, maar word nou misbruik vir die onwettige doel om “eiendomspraktisyns” aan gyselaar te hou aan politieke eise.

Die PPRA pleeg ’n groot en onregmatige magsoorskryding.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Dit maak die politieke instrument van BEE ’n voorvereiste vir deelname aan die ekonomie. Dit probeer “eiendomspraktisyns” dwing om beduidende gedeeltes van hul ondernemings op onhoudbare voorwaardes prys te gee. As sodanig is dit ’n vorm van onteiening en een wat ’n skadelike en onaanvaarbare presedent vir staatsinmenging in die ekonomie skep.

Hoewel die huidige afdwingingsaksie hoofsaaklik op maatskappye gemik is en oënskynlik ’n mate van toegeeflikheid bied aan natuurlike persone of alleeneienaars benede sekere omsetdrempels, waarsku ons dat hierdie toegeeflikheid arbitrêr is, nie vir beplanning en regsdoeleindes op staatgemaak kan word nie, en ongetwyfeld tydelik is.

Op die ou einde is ’n B-BBEE-sertifikaat ’n politieke instrument onverwant aan besigheid – dit kan nooit ’n geldige voorwaarde wees om aan die ekonomie deel te neem, waarde te skep, en klante en kliënte te dien nie.

Derde golf BEE

Die jongste verwikkelinge vorm deel van ’n verraderlike derde golf van BEE. 

Die eerste golf het in die 1990’s plaasgevind, ’n bloeitydperk van saketransaksies oor rassegroepe heen sonder verpligtende wetgewing. Die tweede golf het in die vroeë 2000’s begin, toe BEE ’n statutêre aard bekom het, met die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (2003) en die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid (2000). In hierdie tweede golf is BEE toegepas wanneer besigheid met die staat gedoen is – ’n vertikale toepassing van BEE.

In die afgelope vyf jaar het die derde fase van BEE momentum begin kry, waarin die staat poog om BEE te verplig nie slegs by besigheid met die staat nie, maar vir alle besigheid hoegenaamd en vir toegang tot professies. In teenstelling met die vertikale (i.e. besigheid-tot-staat) toepassing van BEE, is die nuwe horisontale (i.e. besigheid-tot-besigheid) toepassing van BEE bedoel om alle ekonomiese aktiwiteit onder politieke beheer te bring – selfs besigheid wat niks met die staat te doen het nie.

Sakeliga ondersoek tans 10 staatsdepartemente en 14 ander staatsinstansies vir pogings om dit vir ondernemings onwettig te maak om besigheid te doen tensy hulle hulself aan BEE onderwerp.

Skakels

Vir Sakeliga se brief aan rolspelers in die bedryf, klik hier.

Vir meer inligting of die jongste verwikkelinge, besoek ons toegewyde webblad .

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe