Die tweede golf is hier – dit is ekonomies en die regering veroorsaak dit – Sakeliga

mediaverklaring-ramaphosa level 1

Deur doelpale te verskuif en nie die grendelstaat op te hef nie veroorsaak president Cyril Ramaphosa se regering die werklike tweede golf: ‘n ekonomiese insinking met blywende dalings in lewenstandaard en lewensverwagting naas toenemende sosiale en politieke onstabiliteit.

President Ramaphosa moes vanaand ‘n einde aan die grendelstaat aangekondig het. ‘n Verantwoordelike regering sou dalk selfs wetenskaplike kriteria kon aankondig, oor wanneer die regering sou oorweeg om ‘n ramptoestand te hervat. In stede daarvan het die regering gekies om ‘n onwetenskaplike, skadelike en korrupsiegeknelde strategie voort te sit, al was dit oorspronklik vir ‘n scenario van tot meer as 350 000 sterftes ontwikkel.

Vanaand het President Ramaphosa gesê: “Gemeet aan enige maatstaf is ons steeds midde in ‘n dodelike epidemie.” Dit is nie korrek nie. Gemeet aan die maatstawe wat sy regering gebruik het om die grendelstaat in Maart te regverdig (met sterftes potensieel meer as 350 000) en soos weerspieël in die dalende Covid-19 sterftekoers, is daar ander, veel dodeliker gevare in Suid-Afrika. Dit is noodsaaklik dat beleids- en openbare aandag dringend verskuif weg van Covid-19 – wat tot dusver ongeveer 15 000 sterftes veroorsaak het – na die oorsake van die ander 450 000 tot 600 000 sterftes wat tipies jaarliks in Suid-Afrika voorkom.

Die skade aan lewens en lewensmiddele veroorsaak deur die verlenging van die grendelstaat – insluitende beperkings op samekomste, handel, toerisme, internasionale reis, en meer – en veroorsaak deur die mobilisering van alle openbare hulpbronne teen één sterfte-oorsaak in stede van op ‘n gebalanseerde wyse, weeg nou veel swaarder as die risiko’s van Covid-19.

Doelpale verskuif

In Maart vanjaar, gebaseer op aannames wat moontlike sterftes met tussen 1 000% en 2 000% oorskat het, het die regering ‘n grendelstaat begin toepas. Die argument het gelui dat die gesondheidstelsel tyd nodig had om voor te berei op die druk wat dit sou ervaar. President Ramaphosa se argument was uitdruklik nie dat die virus se verspreiding verhoed kon word nie, maar dat die grendelstaat “die kromme sou afplat.”

Toe, in die weke en maande daarna, is die ramptoestand herhaaldelik verleng en selfs op irrasionale, onkonstitusionele en nodeloos skadelike wyses verskerp, nieteenstaande die feit dat druk op gesondheidsfasiliteite deurgaans ver benede projeksies gebly het.

Nou is President Ramaphosa se regering besig om die land in ‘n grendelstaat te hou ver anderkant enigiets wat met die afplatting van die kromme te doen het. Trouens, sterftes is steeds benede selfs die mees optimistiese scenario’s waarvoor die grendelstaat en die ramptoestand aanvanklik verklaar is.

Business for Ending Lockdown-veldtog

Die grendelstaat hou vandag ‘n veel groter gesondheids- en ekonomiese risiko as Covid-19 in. Saam met die Business for Ending Lockdown-veldtog dring Sakeliga aan: beëindig die grendelstaat, hef die ramptoestand op en omskep alle regulasies in vrywillige aanbevelings.

Archives