Die pad na selfstandigheid vir besighede waar munisipaliteite verval

Tian Alberts

Sakeliga het hierdie jaar ‘n unieke hofsaak geloods om ‘n sogenaamde spesiale betaalmeester in munisipaliteite in Noord-Wes te laat aanstel. Aangesien die verval in dorpe in Noord-Wes net so duidelik is soos die onvermoë van munisipaliteite en die Noord-Wes provinsie om die verval te stuit, is dit tyd vir nuwe oplossings buite die raamwerk van regering. Sakeliga vra die hof om ‘n spesiale betaalmeester aan te wys wat by Naledi- en Distobotla munisipaliteite die verantwoordelikheid sal hê om invorderings vir water, elektrisiteit en ander kritieke dienste, direk aan verskaffers oor te betaal. Die betaalmeester se werk is daarom nie om in te meng met die begrotingsbeplanning van munisipaliteite nie, maar bloot om toe te sien dat verskaffers betyds betaal word sodat kritieke dienslewering kan plaasvind.

Hierdie saak gaan die verbeelding van Suid-Afrikaners, wat almal van krag-, water- en dienste afhanklik is, aangryp. Daar was inderwaarheid verskeie belangrike voorlopers vir dié saak. Sakeliga het in die afgelope paar jaar verskeie interdikte teen Eskom bekom wat by verskeie munisipaliteite strafkrag begin toepas het weens munisipale wanbetaling. Sakeliga se argumente was nie om die munisipaliteit te beskerm nie, eerder die eindgebruiker, spesifiek betalende sakelui, te beskerm. Die regsbeginsel is verder getoets met Sakeliga se betrokkenheid by die sogenaamde Resilient-saak. Sakeliga, as vriend van die hof, se argumente was deurslaggewend en het bepaal dat staatsliggame nie eindverbruikers mag straf oor betaalgeskille tussen staatsliggame nie. ‘n Voorgeskrewe proses moet gevolg word.

Die betaalmeestersaak se doel is om betaalgeskille, wat infrastruktuur- en diensverval veroorsaak, te oorbrug. Met die saak karteer Sakeliga verder ‘n pad vir selfstandigheid vir besighede uit. ‘n Lewensvatbare sake-omgewing vereis kritieke dienste soos water en elektrisiteit, en onderhoud van die fisiese omgewing soos paaie rondom die besigheid. Op sowel plaaslike en provinsiale vlakke het die Noord-Wes regering bewys dat hulle nie in staat is om die minimum vereistes vir ‘n lewensvatbare sake-omgewing te diens nie, maar tog het hulle ‘n monopolie daaroor wat besighede verhoed om self ‘n lewensvatbare sake-omgewing te skep. ‘n Munisipaliteit soos Naledi in Noord-Wes het gereelde wateronderbrekings weens gebrek aan onderhoud en verouderde infrastruktuur, en skuld boonop vir Eskom en ander skuldeisers honderde miljoene rande. Te midde van hierdie chaos, sal ‘n spesiale betaalmeester wat sorg dat kritieke dienslewering plaasvind en eindgebruikers dienslewering ontvang, ‘n belangrike maar tydelike stap wees. Dit koop die nodige tyd vir sakekamers en plaaslike Sakeliga’s om boustene vir selfstandigheid neer te lê.

Een van die belangrikste boustene wat nou gevestig moet word is die vermoë om sakegemeenskappe te organiseer. ‘n Plaaslike selfstandige sake-gemeenskap moet sterk kommunikasiemiddele hê sodat sakelui mekaar onderling kan ondersteun, en tekortkominge in die markplek en sterkpunte en swakpunte in die sakegemeenskap kan identifiseer. Sakeliga ontwikkel daarom unieke tegnologiese oplossings om hierdie tipe kommunikasie moontlik te maak, en spesifieke sakegemeenskappe se behoeftes rondom kommunikasie te diens. Meer hieroor sal eersdaags aangekondig word.

 

‘n Verdere belangrike bousteen vir ‘n selfstandige sakegemeenskap, is die vermoë om staatsvervangend op te tree. Veral soos gunstige regspresedent oor privatisering uitkring, kan staatverval gesystap word deurdat die markplek voorsiening maak vir dit wat die regering eenvoudig nie kan nie. Sakeliga beywer hom vir ‘n gesonde beleidsomgewing waar staatverval nie in die pad van sakesukses staan nie.