Beurtkrag: Sakeliga-opname onthul besighede wil energie-onafhanklikheid op industriële skaal hê

citizens-and-business-owners-tackle-eskom-over-power-supply

Beurtkrag het ernstige gevolge vir sakeondernemings en dwing ondernemings om minder afhanklik van Eskom te word. Sakelui voel sterk dat die opwekking en verspreiding van elektrisiteit geprivatiseer moet word. Energietekorte word as ’n top-prioriteit op maatskaplike en politieke gebied beskou. Dit is van die bevindings van ’n onlangse Sakeliga-opname onder sakeondernemings, insluitende lede, oor die koste van rollende kragonderbrekings.

Die opname is in Junie 2022 afgeskop tydens ’n tydperk van ernstige beurtkrag.

Laai verslag af

Die opname toon dat die regstreekse koste van ernstige beurtkrag neerkom op ’n heel aansienlike 5% van omset vir die mediaanonderneming. Die resultate toon dat ondernemings net soveel aan alternatiewe kragbronne om Eskom-tekorte te verlig, bestee as aan hulle Eskom-rekeninge, wat daarop dui dat die werklike koste van energie aansienlik is as gevolg van die skaarste daarvan.

Die mediaanonderneming in die opname het ’n maandelikse inkomste van nagenoeg R300 000 gehad en het R8 000 inkomste per maand verloor in die drie maande van akute beurtkrag van April tot Julie 2022. Maatskappye het ook melding gemaak van ongeveer R1 250 skade per maand (mediaan) as gevolg van beurtkrag oor die afgelope jaar – byvoorbeeld deur stuwingskade.

Die opname toon dat volle afhanklikheid van Eskom oor die afgelope drie jaar wesenlik afgeneem het, met akute afhanklikheid wat van 60% tot 35% gedaal het onder deelnemers aan die opname. Die meeste ondernemings bly egter in aansienlike mate op Eskom aangewese. Minder as een uit vyf ondernemings in die opname beskou hulself as heeltemal onafhanklik van kragvoorsiening deur Eskom, en dit bly die afgelope drie jaar onveranderd.

Daar is perke aan die mate waarin individuele sakeondernemings die Eskom-netwerk kan verlaat sonder die doeltreffendheidsvoordele van ’n gekoördineerde en geskaleerde elektrisiteitnetwerk. Die meeste ondernemings het betroubare en bekostigbare elektrisiteitproduksie op nywerheidskaal nodig, iets wat kleinskaalse hernubare oplossings nie kan bied nie.

Die onvermoë om privaat produksie- en distribusienetwerke te ontwikkel as gevolg van staatsregulering, plaas ook ernstige perke op opsies vir onafhanklikheid van Eskom. Lewensvatbare individuele oplossings vereis ook groot kapitaalbesteding, wat die meeste klein en middelslagondernemings kwalik kan bekostig.

Daar is dalk ook ’n mate van oorgerustheid oor die omvang van die energievoorsieningsprobleem en die tyd wat dit kan neem om op skaal op te los.

Die opname bevestig dat sakeondernemings meesal staatmaak op rugsteun-kragoplossings wat betroubaarheid en laer kapitaalbesteding bied en ’n hoë energievraag kan hanteer. Nagenoeg 70% van die ondernemings in die opname gebruik petrol- of dieselkragopwekkers vir rugsteun-kragvoorsiening, vergeleke met net 20% wat sonkrag gebruik. Byna 40% gebruik klein UPS-stelsels vir korttermynkontinuïteit, vergeleke met net 10% wat groter en duurder batterybergingsoplossings gebruik.

As gevolg van die aansienlike stygings in brandstofpryse en brandstofbelastings kan die gebruik van petroleumkragopwekkers duur wees, maar hierdie tipe opwekkers bly aantreklik danksy hulle betroubaarheid, energiedigtheid en laer aanvanklike kapitaalbesteding.

Kragtekorte bring toenemende koste vir Suid-Afrikaanse sakeondernemings mee sedert grootskaalse kragonderbrekings in 2007/08 begin het. Kwaai beurtkrag in 2022 (lang tydperke van Vlakke 4 tot 6) plaas ’n bykomende las op die doen van sake, en ons sien dit ook in breër makro-ekonomiese data, met verswakkende aanwysers van nywerheidsaktiwiteit tot in die tweede kwartaal van 2022.

Ons opname bied ten minste vier belangrike gevolgtrekkings:

  1. Die regstreekse koste van kwaai beurtkrag is wesenlik (ongeveer 5% van inkomste vir die mediaanonderneming in ons opname).
  2. Chroniese kragtekorte sedert 2007/08, wat in 2022 erg toeneem, behels wesenlike negatiewe gevolge vir ekonomiese groei en sakegesondheid.
  3. Fossielbrandstofgebaseerde rugsteun vir energieverskaffing, nie hernubare metodes nie, bly die gewildste om in individuele ondernemings se werklike behoeftes te voorsien, maar geïsoleerde energie-oplossings bied steeds ’n beperkte uitweg vir energie-onafhanklikheid.
  4. Sake-eienaars dring beslis  daarop aan om energie van alternatiewe produsente en distribusienetwerke aan te koop wat bekostigbaar in hulle nywerheidskaalbehoeftes kan voorsien. Gevolglik stem meer as 90% van deelnemers aan die opname ten volle saam dat Suid-Afrika se energiemark heeltemal oopgestel moet word vir privaat produksie en distribusie van krag.

Hierdie resultate bied sterk steun vir ons siening dat volle liberalisering van die energiemark ’n dringende vereiste is.

Energietekorte is ’n ernstige bedreiging vir ekonomiese en maatskaplike vooruitgang. Beleide wat die energiesektor na een bepaalde tipe energietegnologie laat neig, moet verwerp word. Markkragte moet eerder toegelaat word om aan te dui wat werk vir werklike sakeondernemings wat werklike en uiteenlopende energie-oplossings nodig het.

Indien hierdie vrymaking van die energiemark, in die hoogste belang van die samelewing, nie deur die staat verleen word nie, sal energie-onafhanklikheid deur gesamentlike burgerlike en privaat pogings afgedwing moet word.

Argiewe