Begroting 2023: Sakeliga verwelkom terugstaan vir privaat energie-uitbreiding nieteenstaande afwesigheid van begrotingshervorming

National_Assembly_of_South_Africa_2007

Die mees merkwaardige aspek van ‘n andersins verder-eroderende begroting was die minister van finansies se geïmpliseerde toegewing dat die privaatsektor toekomstige energie-uitbreiding sal hanteer. 

Dit was aangekondig as deel van die voorwaardes van die nasionale regering se R250 miljard reddingsboei aan Eskom. Die voorwaardes dui op ‘n bedoeling om die bestaande Eskom steenkool-kapasiteit te optimaliseer, maar nie uit te brei nie en om privaat konsessies vir die bestuur van Eskom se kragstasies toe te staan. Dit baan die weg vir ‘n moontlik effektiewe bestuur van Eskom se kragstasies deur privaat operateurs, maar impliseer ook dat die privaat sektor aan die stuur van nuwe elektrisiteitsopwekking moet staan. 

Ander voorwaardes dui ongelukkig op ‘n moontlike beperking op steenkoolkragopwekking, welke beperking, waarsku ons, die regering moontlik na die privaat sektor sou kon probeer uitbrei. Dit sou energiesekerheid in Suid-Afrika benadeel. Alle tegnologie-oplossings behoort beskikbaar te bly en Sakeliga sal pogings, om markoplossings tot die nypende energiekrisis te beperk, teenstaan. 

Nasionale Tesourie se voorwaardes lyk asof dit streng finansiële en operasionele oorsig vir Eskom, sowel as ‘n skerper fokus op transmissie- en verspreidingstabiliteit, voorsien. Dit het moontlik ten doel om ‘n herhaling van die enorme verspilling en fokusverlies van Medupi en Kusile te voorkom.  

Die reddingsboei sal R250 miljard tot die regering se skuld voeg bo en behalwe die bykomende R800 miljard wat oor die volgende drie jaar beplan word. Dit is ‘n pynlike herinnering aan die koste van staatsverval en die dringende noodsaak aan ‘n meer staatsbestande ekonomie. 

Die begroting verraai ‘n ANC wat steeds onwillig is om van sy staande prioriteite en skadelike fiskale benadering af te sien. Ongeag ‘n onvolhoubare skuldtrajek en verskeie ernstige krisisse – veral in energie, geweldsmisdaad en munisipale ineenstorting – sal die regering in die komende drie jaar meer as ‘n duisend miljard rand tot die staatskuld voeg. Boonop beplan die regering om dit te doen te midde van wat lyk na rooskleurige inkomsteprojeksies, wat groter fiskale kwesbaarhede kan verskuil.  

Breedweg bevestig die begroting vir Sakeliga dat die sakegemeenskap moet voortgaan om staatsbestande alternatiewe vir handel, infrastruktuur en sekuriteit te vestig, en om die snel-ontluikende geleenthede vir grootskaalse ontwikkeling van private energie-oplossings aan te gryp. Sakeliga staan gereed om sulke oplossings te ondersteun en te ontwikkel en om, waar nodig, te litigeer om ongevraagde beperkings wat die staat privaat energie-opwekking mag oplê uit die weg te ruim. 

Argiewe