Aksie in Oënskou: Sakeliga se geskiedkundige BEE-oorwinning

Action Recap- Sakeliga’s historic BEE-victory

Sakeliga het die eerste beduidende terugslag vir skadelike BEE-beleide behaal toe ons onwettige BEE- en plaaslike inhoudregulasies in openbare verkryging omgekeer het, wat miljarde se potensiële besparings ontsluit het.

Staatverkrygingsregulasies in 2017 deur die Minister van Finansies gemaak, het ’n waterskeiding in verkryging en BEE in Suid-Afrika beteken. Vóór 2017 kon maatskappye wat vir staatskontrakte getender het op die meeste 10% tot 20% (van hul tendertelling) gepenaliseer word indien hulle nie aan BEE-vereistes voldoen het nie. Dit was skadelik genoeg. Sedert die 2017-regulasies het staatsorgane egter veel verder gegaan: tendervereistes het begin om maatskappye by voorbaat uit te sluit, op grond van BEE-kriteria soos indien ’n maatskappy byvoorbeeld nie 100% in swart besit was nie. Na ’n regstryd van 5 jaar kon Sakeliga die minister se 2017-regulasies ongeldig en ongrondwetlik laat verklaar, met die finale bevel in die Konstitusionele Hof. Dié oorwinning is die eerste omvattende terugrol van BEE deur litigasie behaal.

Die Konstitusionele Hof het op 16 Februarie 2022 in Sakeliga se guns bevind dat die Minister van Finansies, destyds Pravin Gordhan, ultra vires (buite magte) opgetree het, deur te reguleer asof hy wetgewende bevoegdheid gehad het. Die oorwinning volg op Sakeliga se vroeëre sukses in die aangeleentheid voor die Hoogste Hof van Appèl. Die Minister moes na aanleiding van Sakeliga se hofoorwinning nuwe verkrygingsregulasies maak met géén BEE- of plaaslikeinhoudvereistes vir staatsorgane nie.

Die Minister van Finansies het na aanleiding van Sakeliga se Konstitusionele Hof-oorwinning op 16 Februarie 2022 teen BEE in staatsverkryging, ‘n dringende hofaansoek ter wysiging van die bevel gebring. ’n Wysiging van die bevel sou die regshulp wat Sakeliga na ’n regstryd van vyf jaar bekom het, verwater het. Sakeliga het die aansoek om wysiging van die gunstige 16 Februarie-bevel suksesvol geopponeer. In sy uitspraak op die minister se aansoek het die hof nie net in Sakeliga se guns beslis nie, maar ook die Minister vermaan.

Hierdie geskiedkundige oorwinning het egter nie geheel en al BEE en ander soortgelyke wette gestuit nie, maar het wel weg gebaan vir toekomstige stryde soos teen die nuwe Wysigingswet op Diensbillikheid, wat die Minister van Arbeid ongekende mag sal gee om ondernemings voor te skryf wat aanstellings, bevorderings en bestuur betref. Die risiko’s wat die EEAA inhou, vereis gekoördineerde weerstand deur sakelui en omvattende regstappe teen die implementering daarvan.

By Sakeliga identifiseer en dryf ons sake waarby sakelui en die publiek gedeelde belang het..

  • Ons litigasie verlig staatsverval en skadelike inmenging waar moontlik en koop tyd vir alternatiewe waar nodig.
  • Ons litigeer teen sleutelbedreigings vir kommersiële orde, soos onteiening, BEE, munisipale verval en wanbestuur, en regulasies in die nasleep van Covid-19.
  • Ons bied ‘n veilige kanaal vir sakelui om, sonder openbare blootstelling en risiko, litigasie te ondersteun.

Bou skaalbare oplossings vir staatsverval – word ‘n Sakeliga Befondser

Argiewe