Sakeliga moedig weerhouding van samewerking met voorgestelde Covid-regulasies aan

pexels-anna-shvets-4167544 (1)

Sakeliga moedig besighede en sakeorganisasies aan om hulself te weerhou van steun aan die ramptoestandregulasies voorgestel hierdie week deur minister Dlamini-Zuma. In die aangesig van toenemend irrasionele en skadelike regeringsoptrede moedig Sakeliga ’n eensydige terugkeer na goeie oordeel aan.

Intussen oorweeg ons om ons bestaande litigasie teen die ramptoestand en die regulasies uit te brei om die jongste verwikkelinge in ag te neem.

Sakeliga verwerp die nuwe regulasies voorgestel ingevolge die ramptoestand, wat op onregmatige wyse poog om oneffektiewe en onnodige maatreëls in plek te hou selfs ná die uitloop van die (reeds onregmatige) ramptoestand. Sou die minister die regulasies promulgeer sou sy ultra vires optree – dit wil sê buite die magte wat wetgewing haar bied. Sy mag nie ná die afskaffing van die ramptoestand voortgaan om magte ingevolge daarvan uit te oefen nie.

Die regering se volgehou aandrang om met ooglopende beleidsmislukkings voort te gaan selfs in die aangesig van die jongste indiensnemingsdata en wanneer soveel ander state alle Covid-19-regulasies teruggetrek het wys hoe uit voeling dit is. Die indiensnemingsdata toon dat twee miljoen mense steeds nie hul werke herwin het sedert die inperkings hulle werkloos gelaat het nie, terwyl golf op golf van nuwe toetreders tot die werksmark ook geen werk vind nie.

Die aangewese en regmatige ding vir die regering om te doen is ’n algehele abandonering van die ramptoestand, gepaardgaande met die opheffing van alle regulasies ingevolge daarvan uitgevaardig en alle alternatiewe regulasies ontwerp om dit te vervang.

Ons ontmoedig spesifiek besighede en die publiek om samewerking te bied vir verdelende en onnodige onderskeide tussen ingeënte en oningeënte mense. Daar is geen basis vir die regering se skadelike en onwetenskaplike voorskrif, dat ondernemings mense moet moniteer vir bewys van inenting óf ’n 72-uur negatiewe Covid-19-toets by persele van ’n arbitrêre kapasiteit nie. Ons moedig besighede en die publiek aan om hierdie regulasies as aas te sien, wat, indien aanvaar, lei tot ’n voortgesette ramppersepsie wat op bedrieglike wyse legitimiteit verleen vir permanente inmenging by hierdie en ander kommersiële en persoonlike sake waaroor die regering geen jurisdiksie het nie.

Besighede behoort pogings, om hulle in toepassingsarms vir swak staatsbeleid te omskep, te verwerp. ’n Regering wat op ’n vernietigende pad soos hierdie gaan moet weet dat besighede hulle sal teenstaan, in belang nie net van werksherstel vir miljoene mense wat onder die inperkings lei nie, maar fundamenteel om ’n florerende ekonomie en samelewing te herbou ná die vernietigende gevolge van die staat se volgehoue onbevoegdheid en skadelike beleid.

Navrae

Tel: 012 880 1951
E-pos: [email protected]

Archives