Sakeorganisasies staan landswye inentingsmandate teen

Prokureurs vir Sakeliga en vier ander sakeoganisasies het ’n brief insake die kwessie van verpligte inenting aan die Presidensie gestuur. 

Die brief lui: “Ons kliënte is gekant teen staatsgedrewe verpligte inentingsbeleid en moniteringsmeganismes soos inentingspaspoorte, benadeling en uitsluiting van ongevaksineerde persone, en regulatoriese verpligting op besighede om verpligte maatreëls moontlik te maak en af te dwing. 

“Ons bring onder u aandag dat ons kliënte nie gekonsulteer is nie en dat enige proses wat voorgee om dit te gedoen het gebrekkig is. 

“Dit is daarom ons kliënte se versoek dat die regering ons kliënte by sy konsultasieproses insluit, ten einde te verseker dat alle perspektiewe erkenning en oorweging geniet.” 

Sakeorganisasies verteenwoordig in die brief sluit in Agri Noord-Wes, die Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid-Afrika (NEASA), SAAI, Sakeliga en TLU SA. 

Die brief volg op foutiewe stellings deur die President, in sy televisie-toespraak van 28 November, dat daar “algemene ooreenstemming is oor die noodsaak van sodanige maatreëls (staatsgedrewe beleid vir verpligte inenting)” onder “besigheid”, onder andere. Veralgemenende verklarings dat “besigheid” staatsgedrewe verpligte inenting en monitering “ondersteun”, is ’n wanvoorstelling, en dui minstens op ernstige gebreke in die regering se konsultasieproses. Inderwaarheid is daar beduidende weerstand en meningsverskil oor sulke maatreëls nie net onder besighede nie, maar in die samelewing in die algemeen. President Ramaphosa het bowendien so onlangs as ’n week gelede self nog sy vorige, uitdruklike versekering gehandhaaf dat daar geen benadeling of verpligting gegrond op inentingstatus vir persone sou wees nie. 

Die brief is gerig aan die Presidensie, die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die Minister van Gesondheid. 

Vir die volledige brief, klik hier. 

Sakeliga is ten gunste van vrywillige inentingsveldtogte, ’n einde aan inperkingsbeleide en ’n gedesentraliseerde benadering tot risikobestuur en gesondheid ooreenkomstig die spesifieke omstandighede van organisasies, maatskappye en persone. 

Kommentaar: 

Piet le Roux 
Russell Lamberti 

Archives