Sakeliga verwerp Sahpra se BEE-voorwaardes vir mediese produkte

Free medicine and thermometer image, public domain CC0 photo.

Sakeliga verwerp die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) se voorgestelde BEE-voorwaardes vir die vervaardiging, invoer, voorskryf en verhandeling van gesondheidsprodukte en mediese toerusting.

Sahpra se plan om BEE ’n voorvereiste in die mediese bedryf te maak is vervat in ’n nuwe konsepbeleid getiteld “Broad-based Black Economic Empowerment Policy for Issuance of Licences”. Die beleid stel dit ten doel om “alle elemente van B-BBEE te integreer (met) die uitreik van lisensies … en permitte” vir gesondheidsprodukte en mediese toerusting. In effek beoog Sahpra dus om die lewering van gesondheidsprodukte en mediese toerusting wat nie aan BEE-vereistes voldoen nie te verbied. Sodanige optrede bied ‘n onrusbarende voorskou van die drastiese gevolge van ‘n NGV-bestel waarin die staat die ganse mediese voorsieningsketting onder sy beheer sou hê.

Die beleid stel twee fases voor: Fase 1 maak dit verpligtend om ’n BEE-sertifikaat in te dien, waarsonder Sahpra die toekenning van lisensies sal weier. Sodra Fase 1 in plek is, wil Sahpra dan  die toekenning en hernuwing van lisensies weier tensy spesifieke BEE-vlakke bereik en gehandhaaf word.

Die BEE-lisensiëring van gesondheidsprodukte en -toerusting is ’n wrange illustrasie van hoe BEE die seksionele belange van politici, burokrate en selfverrykende tussengangers ten koste van die publiek bevorder. Dit is onvermydelik dat die toevoeging van BEE-vereistes – ’n maatreël met inherent geen relevansie vir die effektiewe verskaffing van mediese produkte nie – tot dalings in die gehalte, bekostigbaarheid en bekombaarheid van mediese produkte sal lei. Die belemmerende effek sal sowel plaaslike as internasionale rolspelers ontmoedig.

Sakeliga beklemtoon dat dit die konsepbeleid sal teenstaan binne en buite die howe. Ons beskou dit as die plig van sakelui om sodanige benadeling van die openbare belang op ekonomiese terrein te bestry en op elke redelike wyse te ondermyn. Dit is onhoudbaar dat BEE-nakoming ’n voorwaarde is om mense se lewens te red, net soos wat dit onhoudbaar is om dit op enige ander terrein as ’n voorwaarde vir ekonomiese aktiwiteit en publieke diensbaarheid te stel.

Benewens die implikasies vir menslike gesondheid moet in ag geneem word dat Sahpra se voorgestelde BEE-lisensievereistes ook op dieregesondheidsprodukte van toepassing sal wees, met nadelige implikasies vir onder meer die landboubedryf.

Die voorgestelde lisensievereistes is deel van ’n groter tendens om ekonomiese aktiwiteit onderhewig te maak aan die staat se voorafgoedkeuring, in besonder goedkeuring op grond van BEE. Die verskuilingsmetode wat Saphra volg, naamlik ’n eerste fase wat op oënskynlik onskuldige BEE-rapportering gerig is om die weg te berei vir ’n tweede fase wat BEE-nakoming vereis, is deel van ’n patroon wat homself in meer of minder uitdruklike terme ook by ander reguleerders herhaal. Ons bemerk soortgelyke pogings in die finansiële dienstebedryf, die eiendomsbedryf, in besluite van die mededingingskommissie, die telekommunikasiebedryf, die landboubedryf oor kwessies soos water, en meer. By al hierdie kwessies is Sakeliga reeds besig met die ontwikkeling van regsopinies en hofaansoeke, waarby ons nou die voorgestelde BEE-lisensiëring van gesondheidsprodukte ook sal voeg.

Sakeliga waarsku dat die patroon van infasering besig is om op meerdere plekke by staatsreguleerders pos te vat en dat sakelui bedag moet wees daarop dat vereistes vir BEE-inligtingsinsameling nie onskuldig is nie. Dit vorm inderwaarheid die basis vir omvattende vereistes vir BEE-nakoming, met die dreigement dat die staat sy goedkeuring aan jou om besigheid te doen sal terugtrek indien jy dit nie op die staat se terme doen nie.

Sakeliga sal tydens die kommentaarperiode skrywes aan Sahpra rig. Ons sal egter nie by Sahpra se kommentaargeleentheid berus nie en behou alle regte voor om by wyse van litigasie en andersins die inwerkingstelling van BEE-lisensies vir mediese produkte teen te staan.

Ons beklemtoon dat BEE-lisensiëring van gesondheidsprodukte skadelik sal wees en moedig ander organisasies en die publiek aan om hulle teenstand by Sahpra aan te teken.

Ons nooi sakelui, ondernemings en organisasies wat met Sakeliga wil saamwerk om BEE-lisensiëring van gesondheidsprodukte teen te staan om ons te nader.

Klik hier vir die konsepbeleid.

Argiewe