Sakeliga kry belangrike hofbevel teen regering oor munisipale verval

Ditsobotla

Die Noordwes Provinsiale Regering is vandag beveel om verantwoordelikheid te aanvaar vir die krisis in Ditsobotla, om met Sakeliga daaroor te konsulteer en om elke drie maande aan Sakeliga te rapporteer. 

Sakeliga litigeer die afgelope twee jaar teen die Provinsiale Regering, die Minister van Finansies, die President van Suid-Afrika en andere oor die ineenstorting in Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit. 

Die bevel bepaal dat die Provinsiale Regering nou elke drie maande skriftelik aan Sakeliga, rolspelers en die hof verslag sal doen. By gebrek aan vordering sal Sakeliga geregtig wees om ons bestaande hofaansoek aan te vul vir verpligte administrasie deur die Nasionale Regering. Die Provinsiale Regering is ook beveel om betekenisvol met Sakeliga en ons verteenwoordigers te konsulteer oor alles onderliggend aan Ditsobotla se verval en herstel. 

Die Provinsiale Regering is beveel om die grootse deel van die saak se koste te betaal. Die hof moet egter nou besluit of dit die provinsiale regering, die munisipaliteit of enige van die ander rolspelers is wat verantwoordelik gehou moet word vir die oorblywende gedeelte van die koste wat Sakeliga sedert 2021 aangegaan het. 

Hoewel die hofbevel ’n belangrike stap is vir oplossings teen munisipale verval, is dit nie die einde van die pad nie. Daar is tans geen voorbeelde van suksesvolle provinsiale of nasionale administrasie van ineengestorte munisipaliteite nie. Daarom, al sal ons ons moniteringsrol ingevolge die hofbevel vervul, staan ons gereed om die litigasie te eskaleer vir verpligte administrasie onder die Nasionale Regering. Ons behou ook die reg voor om by die eerste geskikte geleentheid verdere tussentydse of permanente remedies aan die hof voor te hou, insluitende opsies soos ’n ouditeursfirma wat as spesiale meester finansiële beheer kan neem. 

’n Realistiese strategie vir die herstel van plaaslike ekonomieë kan nie net op litigasie staatmaak nie – dit moet ook die skep van alternatiewe diensleweringsmeganismes en ander strukture insluit. Ons verwelkom dus by uitstek die alternatiewe oplossings wat plaaslike sakelui reeds besig is om te ontwikkel, in besonder die stigting van die Ditsobotla Dienstevereniging. Die Dienstevereniging beoog om gelde by sakelui en inwoners in te samel en dit dan aan te wend in onderhandelinge met die regering, of alternatiewelik om self dienste te lewer. 

Die bevel is gelewer in die tweede van twee hofsake deur Sakeliga wat op 5 en 6 Oktober aangehoor is. Die eerste van die twee sake is Sakeliga se aanvanklike aansoek uit 2021, vir verpligte provinsiale administrasie en ’n tussentydse spesiale meester, waarin uitspraak oor koste voorbehou is. Daarin het die regering aan Sakeliga se bedes vir provinsiale administrasie gehoor gegee voordat die saak tot verhoor gevorder het. In die spesiale meester-saak is Sakeliga dus ook op kostes geregtig. 

________________________

Jou finansiële ondersteuning maak hoë-impak litigasie moontlik, bevorder alternatiewe strukture, en help om die toekoms te vorm wat jy wil sien. Klik hier en befonds Sakeliga.  

Argiewe