Sakekamers kan orde in die plaaslike ekonomie herstel  

Piet Le Roux - Presenting

Hierdie is ʼn geredigeerde weergawe van die toespraak gelewer by die bekendstellingsfunksie van die Pretoria Sakekamer. 

Eens op ʼn tyd het almal gedink dit is die staat se rol om ʼn gunstige sakeomgewing te skep. Vir ʼn tydjie het dit selfs gelyk of dit werk. Daar was toegang tot die besluitnemers, en daar was ʼn redelik funksionele burokrasie wat besluite redelik korrupsievry kon uitvoer. Maar mettertyd het dinge versleg. 

Elke dag het die staat – met sy burokrate wat niks van besigheid weet nie – meer en meer ingemeng by kwessies wat niks met hom te doen het nie. Elke dag het die gevolge van staatsverval opnuut gebyt: bankrot munisipaliteite, korrupsie, ongestrafde misdaad, vervallende infrastruktuur, kragonderbrekings, wateronderbrekings, noem maar op. 

Baie sakelui het gekla en wetgewing probeer beïnvloed of gesmeek vir beter beleide, of selfs geëmigreer. Selfs al het verskeie politici hul bes probeer, koalisies inkluis, was die wanbalanse te groot. Telkens het pogings om die staat van binne te hervorm skipbreuk gely en die verval het versnel. 

Maar dit was darem nie alles algehele armoede nie: Gelukkig het baie sakelui dit intussen nog reggekry om ongeag die moeilike omstandighede steeds rykdom te skep, maar dit was wel wins op pad na die afgrond toe. Hulle was besig om ryk te word in ʼn plek waar hulle en hul kinders later nie meer sou wou woon nie. 

Eendag het sommige sakelui besluit genoeg is genoeg en sakeorganisasies begin skep om beheer van die sakeomgewing terug te neem. 

Een van hierdie organisasies was Sakeliga, waaraan ek verbonde is, en waarvan my mededirekteur Dawie de Villiers en andere stigterslede is. Dit was ʼn organisasie vir sakelui wat hul plig opneem om rentmeesters van die oorkoepelende sakeomgewing te wees. 

Ander het die Pretoria Sakekamer begin. Dit was ʼn organisasie vir sakelui van Pretoria wat hul plig opneem om rentmeesters van hulle eie plaaslike sakeomgewing te wees.Of dit nou Sakeliga of die Pretoria Sakekamer was – hierdie sakelui was vasberade om te wys hoe georganiseerde sakegemeenskappe oplossings vir staatsverval kan bied, sonder om afhanklik te wees van die staat se samewerking. 

As gevolg daarvan was sakelui skielik nie meer alleen en oorweldig nie, maar kon hulle vir die eerste keer in jare – of selfs ooit – uitvoerende spanne aanstel wie se voltydse taak dit was om in te gryp by die sakeomgewing. Skielik was daar sakeorganisasies met mannekrag wat goed genoeg gekapitaliseer was om twee dinge te doen: 

Eerstens, om skadelike staatsmag teen te staan deur litigasie en klipharde bedinging, as onafhanklike, selfstandige instellings naas die staat en nie onderdruk deur die staat nie. Hulle kon ingryp en kontrakte ter syde laat stel of interdikte bekom, of deur regspraak erkenning bekom waar hulle self ingegryp het as die staat afwesig of hopeloos was. 

Tweedens, om die magsvakuum van staatsverval aan te gryp as ʼn geleentheid om onafhanklike oplossings te bied. Hulle het dit aangepak waar ook al moontlik in samewerking met ander burgerlike organisasies – juis daardie organisasies wat nie ʼn besigheidsfokus gehad het nie, maar wat ook nie op die staat gewag het nie. Ja, dit was teen ʼn ekstra koste, want die staat het steeds hoë belastings gehef en die sakelui was aanvanklik nie sterk genoeg om heffings en belastings te heronderhandel waar hulle self in die behoeftes van die gemeenskap voorsien nie, maar selfs dit sou later verander. 

Intussen het hierdie sakeorganisasies – en nie meer die staat nie – die verskaffers begin word van ʼn gunstige sakeomgewing, wat gekenmerk word aan sy veiligheid, sy funksionele gedeelde infrastruktuur en sy beskermde handelsvryheid en eiendomsreg. 

As gevolg daarvan het die morele en praktiese gesag van hierdie sakeorganisasies ontsaglik toegeneem. Die publiek het groot waardering gehad vir hierdie sakelui, wat naas verskaffing van waardevolle goedere en dienste en naas welwillendheid, ook nog hul mees basiese burgerlike en maatskaplike plig nagekom het, naamlik om self ʼn gunstige sakeomgewing te verseker waarby almal kon baat. 

Met die jare het hierdie sakelui die grootste netwerk van sakeorganisasies gevorm wat die land nog ooit gesien het: ʼn netwerk waarin elkeen van die organisasies onafhanklik sterk was en met die ander kon saamwerk omdat hulle ʼn kragtige strategiese insig gedeel het: dat die finale verantwoordelikheid vir ʼn gunstige sakeomgewing nie die staat s’n is nie, maar die van sakelui self. ʼn Gunstige sakeomgewing moet staatsbestand wees – en die daarstelling daarvan is sakelui se grootse openbare weldaad. 

Uiteindelik het orde en voorspoed na die sakeomgewings en die gemeenskappe wat hulle bedien teruggekeer. Die ekonomiese magsvakuum van ʼn vervallende staat is toe nie gevul met bendes wat wanorde saai en in eiebelang optree nie, maar met sakeorganisasies wat ʼn vrye, effektiewe en veilige ekonomie kon skep. Die hele samelewing het by hierdie florerende ekonomie gebaat – en die dorpe en stede en streke het weer plekke geword waar mense graag wou bly en waar hulle kon gedy as lede van hul gemeenskappe. 

Ons het ʼn tyd gelede reeds die strategiese besluit by Sakeliga geneem om nie plaaslike sakekamers te stig wat op plaaslike sake fokus nie, want dit is nie ons sterkpunt nie en dit is ook nie waarvoor ons lede ons finansier nie. Sakeliga se taak is om op die oorkoepelende kwessies wat deur baie sakelui en sakekamers gedeel word te fokus, soos strategie oor hoe om staatsverval te hanteer, konstitusionele litigasie oor beginselkwessies vir besigheid, en alternatiewe, staatsbestande ekonomiese meganismes en infrastruktuur wat nie tot plaaslike vlak beperk is nie. 

Maar wie gaan dan verantwoordelikheid neem vir die plaaslike sakeomgewing? Vir die armdruk met die munisipaliteit, die koördinering met ander burgerlike organisasies, en vir die ingryping om self te sorg vir veiligheid, infrastruktuur of eiendomsreg en handelsvryheid indien die munisipaliteit AWOL is, soos dikwels gebeur? Vir lank was daar niemand nie. 

Ten minste, tot onlangs, was daar vir jare niemand wat wakker gelê het oor die sakeomgewing in Pretoria en die gedeelde belange wat dit behels nie. Is dit nie eintlik ondenkbaar nie? Dat in die hele Pretoria, met al die gesamentlike miljarde rande se waarde wat bates en omset hier verteenwoordig, daar niemand is wat na die Pretoria-sakeomgewing in geheel omsien nie? 

Die Pretoria Sakekamer is hier om dit te verander. Ek deel graag drie punte wat ons by Sakeliga dink vir sakekamers belangrik is. 

Bly by kernbesigheid: die skep van ʼn gunstige sakeomgewing in die openbare belang ongeag die staat. Nie om ʼn beter staat te skep nie – dit is nooit ʼn doel in sigself nie. Sakelui is nie agente van die staat nie. Die doel is ook nie om lede beter besighede te maak nie, maar om lede en die gemeenskappe in wie se diens hulle staan van ʼn beter sakeomgewing te voorsien. Sakekamers is daarom ook nie ʼn plek waar jy heen kom om besigheid te doen nie, dit is ʼn plek waar jy heen kom om verantwoordelikheid vir die sakeomgewing te aanvaar. Die besigheid wat vir jou mag ontstaan is ʼn byvoordeel. 

Dien gedeelde belange, nie seksionele belange nie: die rol van ʼn sakekamer is nie om een of twee invloedryke lede se probleme met die munisipaliteit op te los nie, maar om die probleme wat almal raak op te los. Soos met alle goeie besigheid, waar koper en verkoper waarde kry, so moet die sakekamer se aktiwiteite altyd ook in sowel die gemeenskappe rondom hom as sy lede se belang wees. As ʼn aktiwiteit nie in die publieke belang ook is nie, is dit waarskynlik nie ʼn goeie idee nie. 

Vestig ʼn voltydse uitvoerende span: sommige van ons – ekself – is soms in die versoeking om aan die stigters te vra wat gaan hulle eerste doen, met die verwagting dat hulle self die missie van die organisasie gaan uitvoer. Ons moet egter besef dat die stigters van die Pretoria Sakekamer se eerste mylpaal die oprigting van hierdie voertuig is, en dat die tweede mylpaal die aanstelling van ʼn voltydse uitvoerende span is. 

Ek herhaal: dit is ondenkbaar dat daar in die hele Pretoria nie ʼn enkele persoon is wie se voltydse taak dit is om vir die sakeomgewing te sorg nie. Die Pretoria Sakekamer is die voertuig om dit te verander. Fergus Ferguson en sy mededirekteure kan nie – net soos wat nie een van ons kan nie – tussen agt en twaalf in die aande probeer om die missie van hierdie sakekamer uit te voer nie. Hulle bied hulle tyd en kundigheid om ʼn raamwerk en toesig te voorsien vir die toekomstige uitvoerende span. 

Ons rowwe berekeninge by Sakeliga dui daarop dat ʼn sakekamer wat werklik ʼn impak wil maak op sy sakeomgewing ten minste R100 000 per maand nodig het. Die eerste wen vir hierdie sakekamer en ons as lede sal wees om ʼn voltydse dryfveer aan te stel, wat dag en nag kan werk om die sakekamer se beheer oor die sakeomgewing in Pretoria te vestig. 

Sakeliga se affiliasieprogram mik om ʼn onstuitbare netwerk van onafhanklike sakeorganisasies te bou wat ʼn goue strategiese draad deel: om die verantwoordelikheid vir die sakeomgewing terug te neem en ʼn staatsbestande sakeomgewing te skep. 

Een van die aktiwiteite waarmee ons by Sakeliga al indrukwekkende suksesse behaal het, is litigasie oor kwessies soos elektrisiteit, Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en eiendomsreg. Ons het selfs al miljarde vir die munisipaliteit hier in Tshwane gespaar deur saam met ander oudburgemeester Kgosientsho Ramokgopa se onwettige elektrisiteitsmeterkontrak om te keer – die sogenaamde PEU Capital-saak. 

Alhoewel ons altyd oop bly om saam met vennote te litigeer oor beginselsake wat wyd strek, is daar geen rede waarom die Pretoria Sakekamer nie ook self in eie naam kan litigeer nie. Trouens, ek weet nou reeds dat hulle dit dikwels beter as Sakeliga sal kan doen omdat hulle met meer plaaslike kennis en locus standi normaalweg beter geplaas sal wees om vinnig en toepaslik hof toe te gaan. Sakeliga se litigiasiefokus is buitendien op sake wat normaalweg lank neem omdat dit wesenlike konstitusionele vrae behels, eerder as die verligting van dringende staatsverval. Die Pretoria Sakekamer is self perfek geplaas om dringende ingryping te doen en het nie vir Sakeliga nodig om te litigeer nie. 

Intussen moet ons net ook onthou dat litigasie altyd net ʼn middel tot ʼn doel is, nooit ʼn doel op sigself nie. Regsaksie sal ook nooit op sy eie voldoende wees om ʼn genoegsaam staatsbestande en florerende sakeomgewing te skep nie. Dit móét aangevul word met praktiese ingrepe op eie stoom op die gebiede van infrastruktuur, veiligheid en handelstoestande. 

Ek het onlangs lid geword van die Pretoria Sakekamer, want ek het sakebelange in Pretoria en is daarom medeverantwoordelik vir die sakeomgewing hier. Sakeliga is nou ook ʼn lid van die Pretoria Sakekamer en ons is trots op hierdie organisasie se affiliasie by Sakeliga. 

As jy reeds deel is van Sakeliga, word vandag ook lid van die Pretoria Sakekamer en deel van ʼn groep mense wat verantwoordelikheid aanvaar vir die plaaslike sakeomgewing. Dit gaan die verskil wees tussen suksesvolle en mislukte plaaslike sakeomgewings landswyd. 

Archives