Mededingingskommissie verdraai “openbare belang” ten koste van publiek, ekonomie 

Patel_CompCom

Die arbitrêre en onvoorspelbare misbruik van “openbare belang” oorwegings deur die mededingingskommissie tydens samesmeltings is onwettig en veroorsaak groot ekonomiese skade. 

Dít is die kruks van Sakeliga se kommentaar teen die mededingingskommissie se voorgestelde riglyne. 

Die regulasies poog om maatreëls soos BEE, wat vir transaksies met die staat bedoel is, op die privaatsektor af te dwing. 

Die konsepriglyne bevestig ’n praktyk wat by die Kommissie ontstaan het om regeringsoogmerke soos BEE op maatskappye af te dwing onder die vaandel van openbare belang oorwegings. Mededingingsreg in Suid-Afrika gaan al hoe minder oor mededinging en al hoe meer oor die hefboom van regulatoriese mag om by maatskappye se interne sake in te meng en dit te belyn met die regering se voorkeure. 

Sakeliga is al vir meer as ’n jaar gewikkel in regstappe teen die Kommissie oor hul weiering om verskeie samesmeltingondersoekverslae, wat aanduidend kan wees van die Kommissie se onreëlmatige optrede, bekend te maak. Sakeliga se aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) is ná etlike maande deur die Kommissie geweier, en Sakeliga berei nou ’n hofaansoek voor. 

Die Kommissie se versuim is ’n teken dat die kommissie óf nie behoorlike prosesse in plek het vir die oorweging van aansoeke om samesmeltings nie óf dat hulle bewus is van die feit dat hul huidige prosesse vatbaar is vir litigasie en hersiening. 

Ten spyte van die kommissie se halsstarrige weiering om die nodige dokumente te lewer, sien Sakeliga reeds ’n kommerwekkende tendens in die rekords wat ons wel tot ons beskikking het. Byvoorbeeld, tussen Augustus 2011 en Maart 2021 word 213 gevalle van afkeurings deur die kommissie gelys. Tog, sedert die woord ‘transformasie’ vir die eerste keer as ’n oorweging vir die verbod op ’n beoogde samesmelting gebruik word, vestig dit ’n onmisbare tendens:  

  1. In die twee jaar vanaf Maart 2019 tot en met Maart 2021 word 92 afkeurings gelys waarvan 80 verwys na transformasie as rede of deel van die rede vir afkeuring; 
  2. In Junie 2019, nadat die Departement van Handel en Nywerheid formeel die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging word en Ebrahim Patel as minister oorneem, versnel die afkeurings met verwysing na transformasie: in die 10 maande waarin hy aan die stuur is, geskied 76 van die 80 afkeurings wat na transformasie verwys. 

Die Kommissie se konsepriglyne, waaroor Sakeliga nou kommentaar ingedien het, bring aan die lig dat die Kommissie inderdaad homself ’n super-reguleerder ag te wees wat op ’n wye verskeidenheid “openbare belang” gronde soos BEE, plaaslike inhoud, werkskepping en meer kan inmeng by transaksies bo ’n sekere bedrag.  

Sowel die optrede as die konsepriglyne van die Kommissie wys dat die Kommissie sy mandaat as’t ware ag om ’n politieke super-reguleerder te wees. Soos met soortgelyk ingestelde staatsliggame bevorder hulle seksionele belange ten koste van ’n florerende, mededingende ekonomie en welvarende samelewing.  

Sakeliga sal die Kommissie se ongemagtigde werkswyse en skadelike optrede teenstaan. Ons moedig sakelui aan om nie daarby te berus indien die Kommissie politieke doelwitte op hul transaksies probeer afdwing nie. 


Hierdie verklaring is na publikasie aangepas om moontlike verwarring met betrekking tot die data, soos vanaf die Kommissie ontvang te vermy.

Sakeliga kan nie instaan vir die akkuraatheid van sekondêre verslae, soos vanaf die Kommissie ontvang nie. Sakeliga se PAIA-aansoek is daarop gerig om betroubare, onverwerkte weergawes van die data in die openbare belang te bekom.

Argiewe