Landbou-besighede wat ‘te wit’ is wél in gevaar

Die departement van landbou het onlangs luidkeels ontken dat dit BEE ’n voorwaarde vir uitvoere wil maak. Hul vertroulike, interne dokumente vertel egter ’n ander verhaal.

Die storm het ontstaan met Rapport en City Press se voorbladberigte twee weke gelede, dat die staat wit boerderye sou verbied om uit te voer. Die bron was twee kennisgewings in die staatskoerant, wat egter ten dele verkeerd geïnterpreteer is. Eerder as landbou-uitvoere in den brede, het die kennisgewings slegs betrekking op ’n relatief klein stel tariefvergunnings gehad.

Die departement van landbou het hierdie interpretasiefout aangegryp en heftig kapsie gemaak. Die publiek, sakelui en internasionale rolspelers is almal verseker dat die proklamasies niks nuuts was nie, dat niemand verbied word om uit te voer nie, en dat BEE-drempels geen vereiste vir deelname aan die landbouwaardeketting is nie.

Dit was egter ’n halwe waarheid. Want waar Rapport rook sien trek het, was daar inderdaad ’n vuur.

Anders as wat die departement almal wys probeer maak, beplan dit wel om – algaande – landbou-besighede wat te wit na smaak is uit te sluit. En nie net van enkele uitvoerpermitte nie, maar baie meer.

Die bewyse vir hierdie BEE-planne is egter nie te vinde in die staatskoerant nie. Dit bestaan eerder in twee interne, vertroulike dokumente van die departement, wat Sakeliga met ’n PAIA-proses bekom en nou vrygestel het. Hierdie dokumente is die AgriBEE Plan en die AgriBEE Afdwingingsriglyne, wat tussen 2015 en 2019 ontwikkel is en vandag die basis van die departement se onwettige en sukkelende BEE-implementering vorm.

Die AgriBEE Plan was eerste ontwikkel, as raamwerk om “die transformasieprogram van die regering af te dwing, in besonder die AgriBEE Sektorkode.” Dit stel voor dat “alvorens aansoekers of kliënte ’n diens van die lynfunksiedirektorate ontvang (soos inspeksies, lisensies, permitte, toekennings, subsidies en konsessies), hulle eers onderwerp moet word aan die voorafbepaalde voldoeningskriteria ooreenkomstig die AgriBEE Sektorkode.” En dit voorsien dat ander staatsdepartemente, provinsies, munisipaliteite en entiteite in staatsbesit oortuig moet word om ook hul aktiwiteite op grond van BEE-vlakke te beperk, “onder andere maar nie beperk nie tot waterlisensies, varsprodukte-agentlisensies, statutêre heffings, ens.”

Maar hoe dan nou? Is BEE nie vrywillig nie? Ja, gee die departement toe, BEE is vrywillig en hy kan niemand dwing om BEE te doen nie. In ’n bisarre, maar tog so gerieflike argument ontwikkel die departement dan sy oplossing: in plaas van besighede te dwing om aan BEE-vlakke te voldoen, gaan hy bloot sy “dienste” weerhou as hulle nie BEE genoeg is nie. Hoe om dit te doen, word vervat in die tweede dokument, die AgriBEE Afdwingingsriglyne.

Die Afdwingingsriglyne lys 17 wette waarop dit van toepassing is, soos die Wet op Vleisveiligheid en die Wet op Landbouproduktestandaarde. Dit identifiseer meer as 30 afdelings en staatsentiteite wat die riglyne moet implementeer. In alle gevalle, behalwe een, word bepaal dat entiteite met ’n hoër BEE-vlak voorkeur kry en dat geen sertifikate, permitte, befondsing, ondersteuning, toestaan van statutêre maatreëls, of lisensies “aan nie-deelnemende entiteite uitgereik moet word nie.”

Al dateer die Afdwingingsriglyne uit 2019, is dit allesbehalwe vergete. Dr. Madime Mokoena, direkteur in die Departement vir BEE-nakoming, skryf in Julie vanjaar nog dat “die doel [van die AgriBEE Afdwingingsriglyne] is om nakoming af te dwing deur te bepaal dat enige onderneming, wat nie aan BEE voldoen nie, nie sertifisering om sy produkte uit te voer sal ontvang nie.”

Meestal is die departement se BEE-planne egter nog maar in sy beginfase. ’n Voorbeeld is die kwessie van BEE-sertifikate, wat die grondslag vir latere afdwinging lê. Sulke sertifikate word deesdae om elke hoek en draai vereis, binne en buite die landboubedryf, maar is allermins ’n onskadelike statistiek-insamelingsoefening. In ander gevalle is die vordering meer gevaarlik. Die departement se Direktoraat Bemarking het byvoorbeeld reeds ’n BEE-puntestelsel vir die “toekenning van landbouhandelspermitte” ontwikkel, gebaseer op die “beginsel” dat “Swart Ekonomiese Bemagtiging die primêre vereiste is vir die toekenning van bemarkingspermitte.”

Gelukkig was die versluierde plan se implementering die afgelope agt jaar – soos regeringsplanne gewoonlik – traag en ongestruktureerd. Andersins sou die hoë mate van landbou-aktiwiteit en handel in Suid-Afrika nie naastenby moontlik gewees het nie. Dit is (ironies genoeg) goeie nuus dat staatsverval en oneffektiwiteit ten minste help om ook skadelike beleidsimplementering te voorkom. Die plan hou egter aansienlike mediumtermynrisiko in vir landbouproduksie, invoer en uitvoer, en voedselbeskikbaarheid in Suid-Afrika. Dit is skadelik, teen die openbare belang en boonop onwettig.

Die onwettigheid setel in die flagrante voorneme om die meerderheid permit- en lisensievereistes in die landbousektor te herlei van hul aanvanklike regulatoriese doelwitte na ’n rasgebaseerde reguleringstelsel. Ingevolge die plan moet selfs ’n besigheid wat nie aan BEE deelneem nie (gewoonlik dié buite die staatstenderwaardeketting) gepenaliseer word wanneer dit kom by die toekenning van kwotas of permitte, soos visvang- en uitvoerlisensies, of heeltemal verhinder word om ’n permit te bekom, soos blyk uit die plan se hantering van wyn- en drankuitvoerlisensies. Regulasies wat daarop gemik is om voedselveiligheid of toegang tot waterbronne te handhaaf, word omskep in politieke meganismes vir die regering om veranderinge in die eienaarskapstruktuur van alle deelnemers af te dwing, of hulle nou maatskappye, familieboere, of eenmansake is.

Intussen is daar welkome tekens dat ten minste sommige administrateurs en staatsentiteite vir eers onwillig blyk om al die departement se onwettige instruksies te aanvaar. So het die Uitvoerbeheerraad op Bederfbare Produkte byvoorbeeld tot dusver belangrike vraagtekens agter die wettigheid van die departement se planne geplaas.

Totdat die departement se AgriBEE Plan en Afdwingingsriglyne egter in die openbaar teruggetrek word, behoort elke regulasie of stelling van die departement in die lig daarvan geïnterpreteer te word, ten einde die volle moontlike betekenis te peil.

Die departement van landbou was weke gelede gretig om te maak asof hy nie BEE-voorwaardes oorweeg nie. Hy is verniet so doodstil noudat sy vertroulike dokumente in omloop is.

Die minister behoort die AgriBEE Plan en Afdwingingsmaatreels onverwyld en in die openbaar terug te trek.


Hierdie artikel het oorspronklik in Rapport verskyn onder die opskrif Piet le Roux: Landbou-besighede wat ‘te wit is wél in gevaar. Klik hier vir die oorspronklike stuk.

Archives