Konstitusies, Geregtigheid en Magsverdeling: Remme en Teenwigte en die Dominante Magselite

Konstitusies, Geregtigheid en Magsverdeling- ‘n Inleiding-02

In die inleidende bespreking is verduidelik dat verdeling van gesag gepaardgaande met remme en teenwigte (checks and balances) ʼn wesenlike eienskap van ʼn behoorlike konstitusionele orde is.  Mag en gesag moet nie in slegs ʼn enkele sentrum setel nie. Indien wel dreig die risiko van magsmisbruik. Mag en gesag moet onder ʼn veelvoud van magsentra verdeel word en die verskillende magsentra moet toesig oor mekaar hou. Hulle moet mekaar kontroleer en in toom hou – oftewel as remme en teenwigte teen mekaar optree.

 

Baie mense in hierdie land is egter om goeie rede baie skepties wanneer hulle die frase “remme en teenwigte” hoor. Gedurende die 1990’s is die versekering telkemale gegee dat die Grondwet oor genoegsame remme en teenwigte sou beskik dat die nuwe regering – die ANC – onder beheer gehou sou word en gevolglik in die bek geruk sou word sodra hy sy mag misbruik.

 

Daar is ʼn groot getal instellings, wat die masjinerie vir remme en teenwigte teen bepaalde staatsorgane verskaf en dus by implikasie ook moet sorg dat die uitvoerende gesag wat uit senior lede van die regerende party saamgestel word, as’t ware onder toesig werk. In die geykte grondwetlike doktrine is die volgende vier grondwetlike beheermeganismes is die belangrikste.

 

  1. Die beheer wat die parlement en dan veral die Nasionale Vergadering oor die uitvoerende gesag uitoefen: oor die president, kabinet, staatsdiens en dergelike staatsorgane;
  2. Die beheer wat die howe oor almal, en dan veral oor sentra van wetgewende gesag, uitvoerende gesag en alle staatsorgane sou uitoefen om sodoende te verseker dat hulle kragtens die reg optree en derhalwe nie hulle mag tot eie voordeel en die nadeel van enigiemand anders – groepe of individue – sou misbruik nie;
  3. Die Hoofstuk IX-instellings (liggame ter bevordering van konstitusionele demokrasie), soos die Openbare Beskermer, Menseregtekommissie; Ouditeur-Generaal en dergelike ander. Hierdie liggame moet onder andere beheer uitoefen oor etlike aspekte van die staatsadministrasie en moet as sodanig dus ook as ʼn rem en teenwig teen aspekte van wan-regering en magsmisbruik optree;
  4. Die primêre funksie van die drie sfere van regering – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – is nie om die eerste plek as remme en teenwigte teen mekaar te dien nie. Nogtans doen hulle dit wel ten minste as ʼn sekondêre funksie. So kan die provinsiale uitvoerende gesag ingryp indien ʼn munisipale owerheid wanfunksioneer; en kan die nasionale uitvoerende gesag weer ingryp in ʼn wanfunksionerende provinsiale regering. Wanneer munisipale en provinsiale regerings op hulle beurt weer goed funksioneer, verskraal hulle as’t ware die mag van die nasionale regering (en van provinsiale regerings met betrekking tot glad-funksionerende plaaslike owerhede) omdat die nasionale en provinsiale regerings onderskeidelik nie in provinsiale of munisipale regerings hoef in te gryp en hulle funksies moet vervul nie. (Provinsiale en munisipale regerings het telkens ook hulle instellings en meganismes vir remme en teenwigte.)

 

Ons gaan al vier die vorme van remme en teenwigte bespreek. Trouens ons gaan ook ander wat nie soseer uitdruklik in die Grondwet genoem word nie, behandel. Daarmee gaan die burgerlike en sakegemeenskap sowel as die professies betrek word. Ons sal aandui dat hierdie nie-staatlike formasies dikwels belangriker konstitusionele meganismes is as die wat in die Grondwet ter sprake is.

 

Voor ons daarby kom, moet ons egter eers ʼn aantal opklarende opmerkings oor mag en oor die dominante magselite, meer bepaald in die huidige Suid-Afrika maak. Dit is van besondere konstitusionele belang, want ʼn primêre oogmerk van konstitusies is juis om die instrumente te verskaf waardeur mag in toom gehou word – waardeur doeltreffende remme en teenwigte kan funksioneer. Gevolglik is dit noodsaaklik om te verstaan waarmee enige grondwet en meer bepaald ook die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet te kampe het. Dit is in hierdie verband dat die dinamika van dominante magselites ter sprake kom: wat dit behels en hoe die huidige Suid-Afrikaanse magselite daaruit sien. In latere besprekings gaan ons ook kyk na breuke binne ʼn dominante magselite asook die verval van ʼn dominante magselite en die opvolging daarvan met nuwes.  

 

Dominante magselite

Mag is ʼn omvattende verskynsel wat politieke, ekonomiese, maatskaplike, morele, intellektuele en dergelike vorme van mag omvat. Dit is derhalwe ʼn politieke (en sosiologiese) begrip in die breedste sin van die woord en juis nie net ʼn regs- of konstitusionele begrip nie.

Die dominante magselite behels ʼn formele en informele koalisie van instellings en individue wat deur algemene ideologiese uitgangspunte en doelwitte saamgebind word. Dit is derhalwe nie ʼn enkele organisasie nie; eerder ʼn nagenoeg algemene ideologiese konsensus binne ʼn bepaalde staat. Met verwysing na Suid-Afrika omvat die dominante magselite in die eerste plek die regerende party. Sommige van die opposisiepartye kan egter ook die dieselfde ideologiese uitgangspunte deel. Behalwe vir oorgangstydperke wanneer een dominante magselite met ʼn opvolger vervang word, is die howe, die staatsdiens en ander staatsorgane en trouens alle instellings waaroor die regerende party seggenskap met betrekking tot aanstellings en bevordering uitoefen, oorwegend deel van die regerende elite. Onder die ANC wat die afgelope bykans dertig jaar aan bewind is, het staatsinstellings en die howe inderdaad oorwegend deel van die dominante magslite geword en speel elke komponent juis ʼn bepaalde rol binne die dominante magselite. Die dominante elite sluit nie-amptelik ook groot komponente van die hoofstroom-media in. Baie belangrik is dat groot besigheid gewoonlik ook deel van die regerende elite uitmaak of ten minste nie geredelik teen die belangrikste uitgangspunte van die regerende party standpunt sal inneem nie. Dit was juis die geval in Suid-Afrika oor die afgelope drie dekades toe groot besigheid hoofsaaklik met die regering in die realisering van sy ideologiese doelwitte saamgewerk het.

 

Die huidige dominante magselite in Suid-Afrika

Die huidige regerende elite onder die ANC het juis skerp omlynde ideologiese doelwitte wat die ANC self en die res van die regerende elite se optrede rig. Dit kom tot uitdrukking in die begrippe transformasie en nasionaal demokratiese rewolusie. Die woordkeuse is hier egter nie transformasie nie, maar transformatisme. Transformasie veronderstel ʼn blote beskrywing. Dit is egter nie waarmee ons hier te doen het nie, maar wel met ʼn volskaalse ideologie aan die hand waarvan ʼn program van stapel gestuur word om ʼn volkome omkeer in die samelewing te bewerkstellig. Die agtervoegsel “isme” word derhalwe passend by transformasie gevoeg ten einde die ideologiese aard van die verskynsel waarmee ons hier te doen het uit te klaar. Vandaar die term transformatisme.

 

Transformatisme is wesenlik totalitêr. Dit is daarop ingestel om ANC-partybeheer oor elke sektor van die samelewing te verseker: nie slegs alle wetgewers en sentra van uitvoerende gesag nie, maar ook die regbank, die polisie, die weermag, die staatsdiens en alle ander staatsorgane, onderwysinstellings, die professies en trouens elke ander instelling en sfeer van mag en invloed met inbegrip van die ekonomiese sektor. Die oogmerk hiermee is om ekonomiese gelykheid en kulturele homogeniteit in die openbare sfeer te bewerkstellig.

 

Daar bestaan ʼn reeks instrumente ter bereiking van die ideologiese doelwitte van transformatisme. Onder die belangrikstes hiervan tel die volgende:

 

Kaderontplooiing. Dit behels die aanwending van lojale party-ondersteuners van die ANC in elke denkbare sfeer van die samelewing waaroor die ANC beheer wil vestig en behou.

 

Verteenwoordigendheid. Dit behels dat elke moontlike instelling met betrekking tot sy bestuur sowel as sy werksmag op elke vlak van senioriteit die bevolkingsamestelling van die land as geheel moet weerspieël. Die uitwerking hiervan is dat elke instelling grotendeels swart en onder swart beheer sal wees. Elke instelling sal ook wat betref sy samestelling ʼn replika van alle ander wees. Die uitwerking is derhalwe homogenisering en eenvormigheid – uniformiteit. Ironies genoeg geskied dit juis in die naam van diversiteit. Dit is moeilik om hierdie doel in ʼn kultureel en taalkundig heterogene opset soos Suid-Afrika te bewerkstellig. Afrikaanse instellings byvoorbeeld kan eenvoudig as gevolg van die rassesamestelling van Afrikaanse gemeenskappe nie die nasionale bevolkingsamestelling weerspieël nie. Nogtans probeer die dominante magselite hard om dit reg te kry. Juis daarom is daar oop deurlopende wrywing tussen Afrikaanse instellings en die dominante magselite, want voldoening aan verteenwoordigendheid hou noodwendig in dat Afrikaanse gemeenskappe hulself moet likwideer.

 

Verteenwoordigendheid gepaard met kaderontplooiing. Verteenwoordigendheid gepaard kaderontplooiing behels die twee wedersyds aanvullende komponente van ʼn enkele geïntegreerde strategie. Dit behels dat die alle besture van alle verteenwoordigende instellings uit lojale ANC-partykaders bestaan, dit wil sê, dat daar partybeheer oor ʼn omvattende versameling van eenvormige instellings sal wees.

 

Dit word gemotiveer uit die gelykheidsbepaling (artikel 9) van die Grondwet en ideologies geregverdig in die naam van regstelling van die gevolge van apartheid. Die wetgewende instrumente wat daarvoor gebruik word is die wetgewing soos die Employment Equity Act (EEA), die Promotion of Equality and Elimination of All Forms of Unfair Discrimination Act (PEPUDA) en ʼn groot versameling van wetgewing wat verteenwoordigendheid afdwing.)

 

Bemagtiging – eiendomsoordrag en beheer. Die bewindsoorname van die ANC in 1994 het gepaard gegaan met die eerste groot sogenaamde bemagtigingstransaksies. Dit het die vorm aangeneem van die oordrag van aandele van groot ondernemings aan senior figure in die ANC gepaard met die eerste stappe vir korporatiewe beheer aan ANC leiersfigure. Spoedig het grondwetlike en wetgewende instrumente bemagtiging op ʼn vaste grondslag geplaas. Die grondwetlike instrument het betrekking op verkryging van goedere en dienste deur die staat. Dit setel in artikel 217 van die Grondwet en wetgewing, meer bepaald die Preferential Procurement Policy Framework Act (PPPFA), 5 van 2000. Hiervolgens word by die toestaan van staatskontrakte voorkeur aan swart ondernemings verleen. Voorts word van ondernemings vereis om aan minimumstandaarde met betrekking tot ʼn aanstellings van swartes in die werksmag en bestuur sowel as maatskaplike dienste aan die swart gemeenskap te voldoen. Die tweede algemene maatreël is die Broad Based Black Economic Empowerment Act (BBBEEA) wat die grondslag lê vir ʼn omvattende stelsel van vrywillige en gedwonge oordrag van eiendom (veral by wyse van aandele) en beheer en bestuur in die vorm van direkteurskappe en senior bestuursposte aan swart persone. Die verklaarde oogmerk was dat die swart publiek in die breë hierby moes baat, van daar die kwalifikasie “broad-based”. In die praktyk het egter slegs ʼn klein persentasie swart persone besonder ruim daarby gebaat terwyl die massas daarvan uitgesluit is. Groter getalle swart mense het werkloos geraak en die getal mense wat van maatskaplike toelaes afhanklik is, het eksponensieel toegeneem.

 

Die slotsom is dat die dominante magselite oor ʼn wye front strek. Dit sluit die regerende party, die openbare sektor, in bepaalde gevalle die howe, die weermag, polisie, die opvoedkundige sektor, en die ekonomiese sektor in. Dit is juis nie net tot die regerende party beperk nie.   

 

Dominante magselite vertoon gewoonlik die neiging om omvattend te wees. Hulle word gewoonlik deur ʼn algemene gemeenskaplike ideologie aangedryf en gebind. Wanneer ʼn mens te doen het ʼn politieke beweging soos die African National Congress en ander ideologies skerp linkse of skerp regse ideologiese programme, is die ambisie om die politieke en sosio-ekonomiese situasie in sy geheel om te keer en vir daardie doel elke sfeer in die samelewing te mobiliseer, nog sterker.

 

Die verskynsel van die dominante magselite is van die grootste belang vir die konstitusionele teorie en praktyk. Dit maak meganismes van verdeling van owerheidsgesag en remme en teenwigte kragteloos, of hol dit ten minste erg uit. Daar kan byvoorbeeld drieledige verdeling van owerheidsgesag wees, en die regbank mag volgens alle aanduidings teoreties gesproke – wat betref struktuur, personeel en funksies – onafhanklik en onpartydig wees, maar vorm ten slotte ʼn integrale deel van die dominante magselite. Dit deel dieselfde ideologiese konsensus en is verbind tot bereiking en verdediging van dieselfde ideologiese doelwitte.

 

In sodanige omstandighede skiet die tradisionele instrumente van verdeling van owerheidsgesag en remme en teenwigte klaarblyklik heeltemal te kort met die gevolg dat heel nuut oor die konstitusie gedink en gedoen word. In toekomstige besprekings gaan ons juis dit doen.

DEEL HIERDIE ARTIKEL

Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Epos

WEES DIE EERSTE OM:

Konstitusies, Geregtigheid en Magsverdeling: ‘n Inleiding

ANDER ARTIKELS DEUR PROF. KOOS MALAN

Bou ’n staatsbestande toekoms vir besigheid

Beskerming van besighede en verseker betroubare kragtoevoer 

0
79 492 besighede beskerm teen onregverdige kragonderbrekings

Strategiese Litigasie

Regsaksie om skadelike staatsbeleid te beveg en te hervorm.

Word deel van die Sakeliga Binnekring

Nuusbriefintekenaars ontvang die jongste nuus oor litigasie, hoogtepunte van sake, sowel as analise en kommentaar oor sleutelgeberutenisse wat die ekonomiese en besigheidsomgewing beïnvloed. U kry ook toegang tot opnames en Sakeliga-geleenthede.

* Vereis
Taalvoorkeur: