JONGSTE: Sakeliga-litigasie teen hernuwing van Nasionale Ramptoestand op koers 

Scales of justice and Gavel on sounding block, object and law book to working with judge agreement in Courtroom, Justice and Law concept.
Scales of justice and Gavel on sounding block, object and law book to working with judge agreement in Courtroom, Justice and Law concept.

Sakeliga is gekant teen die verlenging van die nasionale ramptoestand en gaan voort met litigasie. Die verlenging is ongeregverdig, onwettig en skadelik. 

Sakeliga se litigasie om ‘n einde aan die nasionale ramptoestand te maak, vorder goed. Dr Nkosazana Dlamini-Zuma en ander respondente word tans deur die hofreëls verplig om binne die volgende 15 dae rekords rakende hul betwiste besluite te verskaf. Die doel van die litigasie is nie net om die nasionale ramptoestand tot ’n einde te bring nie, maar spesifiek ook om grondwetlike regspraak te ontwikkel met behulp waarvan toekomstige skadelike pogings, om by wyse van ’n ramp te regeer, voorkom kan word.  

By gebrek aan ’n ramp wat objektief aantoonbaar is, is daar geen grondslag in wetgewing om ’n nasionale ramptoestand te verklaar of dit te verleng nie. Covid-19 kan vandag op geen manier statutêr as ’n nasionale ramp geklassifiseer word nie. As ’n bedreiging vir lewens en hulpbronbestuur is dit op ’n veel laer vlak as baie ander siektes en gevare in Suid-Afrika, waarvoor daar nog nooit ’n “nasionale ramp” verklaar is nie. 

Sakeliga het sy besluit om te litigeer in Januarie aangekondig, toe dr Mmaphaka Tau van die Nasionale Rampbestuursentrum erken het dat die Sentrum sedert Maart 2020 nog geen herevaluering van sy klassifikasie van Covid-19 as ’n nasionale ramp gedoen het nie en geweier het om toe te gee aan Sakeliga se aandrang op ’n onmiddellike herevaluering. 

Klik hier vir die kennisgewing van mosie en funderende eedsverklaring soos dit aan dr Dlamini-Zuma en ander respondente beteken is. 

Ironies genoeg is daar één ramp wat die Wet op Rampbestuur nooit bedoel was om die publiek teen te beskerm nie en dit het die rampspoedigste van almal geword: katastrofiese eensydige dekrete deur politici en burokrate. Die verlenging van die nasionale ramptoestand, met beleide soos verpligte maskers wat verkeerdelik ’n openbare persepsie van ’n ramp handhaaf, voorkom dat die samelewing na normaal terugkeer. Die gevolge is verwoestend: nagenoeg 2 miljoen mense het sedert Maart 2020 hul werk verloor deur inperking en ekonomiese benadeling. Van die 11 miljoen mense wat voor die inperking al werkloos was, is die meeste steeds werkloos omdat daar bykans geen ekonomiese groei is nie. Hele sektore van die ekonomie, en dus van die samelewing, word steeds gewurg, insluitende die kunste, onderwys, sport, vermaak, toerisme, vervoer en nog baie meer.  

Sakeliga is voorts gekant teen die beoogde institusionalisering van Covid-19-beperkings in “ander wetgewende maatreëls” soos deur die regering aangedui, en ons sal enige sodanige maatreëls dienooreenkomstig benader indien of wanneer dit ontstaan. Intussen bied die afwesigheid van sulke “ander wetgewende maatreëls” geensins regverdiging vir die voortsetting van die nasionale ramptoestand nie. Sulke “ander wetgewende maatreëls” is onnodig, sal permanente laste op sektore soos die toerismebedryf plaas en sal die regering se houvas op die ekonomie verstewig deur die instelling van verpligte en nadelige voorwaardes om sake te doen. Trouens, die onderliggende wettigheid daarvan om so ‘n ramptoestand-onder-die-dekmantel te bewerkstellig moet uitgedaag word. 

Uitgereik deur:
Piet le Roux
Uitvoerende Hoof
Sakeliga

Archives