Besighede en weldaadsorganisasies genooi om deel te neem aan beveiligde konvooi van Gauteng na KwaZulu-Natal

Mediaverklaring

Sakeorganisasies bekom tans sekuriteitsbegeleiding vir noodleniging en voorraadverskaffing na geteisterde gebiede in KwaZulu-Natal, gegewe vertragings en onsekerhede met heropening van die N3.

Die konvooi is ‘n gesamentlike inisiatief van die sakeorganisasies Sakeliga, Saai en Neasa. Sekuriteitsbegeleiding sal verskaf word deur Dyck Advisory Group, insluitende met gewapende personeel en lugsteun.

Die projek dien ter gebeurlikheidsbeplanning, gegewe knellende nood in KwaZulu-Natal, sou die beveiliging, herstel en skoonmaak van die N3 nie teen Sondagmôre voltooi wees nie. Gebeurlikheidsvoorbereiding vind daarom plaas vir sekuriteitsbegeleiding vir ‘n konvooi van tot 20 voertuie om via alternatiewe roetes, so vroeg as Sondagoggend, te ry, sou die N3 teen dan nog nie veilig wees nie.

Ondernemings wat belangstel om hul voertuie en vrag in die konvooi te laat reis, sowel as weldaadsorganisasies wat voertuie of vrag wil stuur, kan [email protected] kontak.

Deelnemende ondernemings moet gewillig wees om tot 10% van hul vragkapasiteit vir noodlenigingsvoorraad vanaf weldaadsorganisasies beskikbaar te stel, oplaaibaar by ‘n sentrale punt in Gauteng. Indien onprakties, kan ander opsies soos ‘n proporsionele skenking vir doeleindes van gehuurde transport van die noodvoorraad ook uitgeoefen word.

Met betrekking tot liefdadigheid sal voorkeur aan bydraes vanaf weldaadsorganisasies eerder as individue verleen word, gegewe die logistieke kompleksiteit daarvan om vele donasies te bestuur. Aanduidings uit die geteisterde gebiede is tot dusver dat veral mediese voorraad en babavoedsel soos formulemelk benodig word. Weldaadsorganisasies word aangemoedig om hul eie oordeel toe te pas.

Weldaadsorganisasies wat aan die projek wil deelneem word aangemoedig om na goeddunke met hul eie verspreidingsnetwerke in die area vir verspreiding vanaf ‘n sentrale punt in die groter Durban-area, waar die konvooi heen sal reis, te koördineer.

Lede van die publiek wat tot die noodleniging wil bydra word aangemoedig om dit via ‘n weldaadsorganisasie van hul keuse te kanaliseer, en om daardie organisasie te versoek om met Sakeliga te skakel by [email protected], sou hulle by die konvooi betrokke wou wees.

Voornemende lede van die konvooi moet vir ‘n aangesig-tot-aangesigvergadering gedurende Saterdag beskikbaar wees, om die reis te beplan.

Sou veilige reis via die N3 teen of voor die bestemde tydstip van vertrek moontlik wees, sal sekuriteitsbegeleiding en reis in ‘n konvooi egter nie nodig wees nie. Deelnemers sou dan versoek word om na eie oordeel voort te gaan en steeds redelike stappe te neem om die voorbereide en geskenkte vrag vanaf weldaadsorganisasies na ‘n sentrale verspreidingspunt te neem.

Uitgereik deur, Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Archives