Cele op terme geplaas om dreigemente aan besighede te staak – Sakeliga

Polisiekommissaris Bheki Cele moet sy onregmatige instruksies aan lede van die SAPS, dat hulle besighede mag penaliseer en sluit, terugtrek. Sakeliga se regsverteenwoordigers het Cele ingelig dat Sakeliga die reg voorbehou om ‘n dringende interdik teen hom te bring sou die SAPS volgens sy onregmatige instruksies handel.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê lede van die SAPS kan nie regter en jurie wees nie: “Hulle het nie die reg om, op die wyse wat Cele beskryf, boetes uit te reik of besighede te sluit nie – nog konstitusioneel, nog ingevolge die rampbestuurswet. Sou hulle dit doen, sal hulle onwettig optree, self vatbaar wees vir vervolging, en die staat (en dus belastingbetalers) aan skadevergoedingseise blootstel.

” Cele se openbare opmerkings, onregmatig soos dit is, eggo uitsprake deur president Cyril Ramaphosa dat kriminele vervolging op die kaarte is vir eienaars en bestuurders van ondernemings en persele, op grond van die nakoming al dan nie van hul werknemers en besoekers.

Le Roux sê die staat “se poging om nakoming van sy dikwels irrasionele en onkonstitusionele regulasies – soos in meerdere hofsake nou al bevind – die plig van ander mense te maak is onaanvaarbaar. Eienaars en bestuurders behoort nie met kriminele vervolging gedreig te word vir die optrede van andere nie, in besonder nie wanneer die optrede nie eens vir daardie persone self krimineel geag word nie. Ons word deur ons regspan geadviseer dat suksesvolle kriminele vervolging in hierdie verband onwaarskynlik is, maar steeds risiko’s daarstel.”

Sakeliga se regspan moniteer die gevaar van kriminele stappe teen besighede. “Ons moedig sakelui aan om enige pogings in hierdie verband onder ons aandag te bring,” sê Le Roux. Kyk brief aan Cele, hier.

Regte misdaad en groter gevare

Le Roux versoek die publiek om die SAPS te help om sy beperkte hulpbronne aan regte misdaad te wy en om nie lede van die SAPS by kleinighede te betrek nie.

“Ek versoek lede van die publiek wat Covid-19-verwante optrede deur eienaars en bestuurders van ondernemings onbevredigend vind om sulke gevalle direk by besighede aan te meld. In ‘n land waar moorde alleen 22 000 ‘n jaar beloop en waar pogings tot moord, seksuele aanslae, roof, aanranding, grootskaalse korrupsie en ander ernstige misdade veelvoude daarvan beloop, moet polisie die geleentheid gegun word om op regte misdaad te fokus.”

“Suid-Afrika word tans blootgestel aan veel groter gevare as Covid-19, insluitende bedreigings van lewe en lewensgehalte danksy maatskaplike, politieke en ekonomiese onstabiliteit. Die gevolge wat opbou sluit in meer misdaad uit toenemende desperaatheid, politieke radikalisme, fiskale krisisse, onderwysmislukkings, lewensverlies as gevolg van laer lewenstandaarde en swakker mediese sorg, en veel meer.

Strandsluitings  

Intussen hou Sakeliga kontak met en verleen ondersteuning aan verskeie belanghebbendes langs die Tuinroete en ander sogenaamde “hotspots”, om so ver as moontlik skadelike, teenproduktiewe en onredelike regulasies soos strandsluitings teen te gaan. Le Roux sê dit is ‘n “deurlopende proses, wat belemmer word deur die tydsraamwerke ter sprake en die wyse waarop die regering die regulasies ontwerp om litigasie te bemoeilik.”

“Die nasionale regering se strandsluitings is skadelik en kos die regering die ondersteuning van die publiek en van besigheid. Dit is vernietigend vir die ekonomie in geraakte gebiede, wat op enkele weke ‘n jaar vir lewensvatbaarheid staatmaak.”

Argiewe