Waarom Sakeliga BEE teenstaan en wat ons volgende gaan doen

MicrosoftTeams-image (3)
Speel video

Toespraak gelewer deur Piet le Roux op die 2022 Black Business Council-beraad by die Gallagher-konvensiesentrum, Midrand, Suid-Afrika (geredigeer).

Op 14 Februarie 2022, byna vyf jaar na die aanvanklike litigasie, het Sakeliga die eerste beduidende terugstoot van ’n BEE-tipe wet in Suid-Afrika in die Konstitusionele Hof behaal. Die Hof het bevestig dat die openbare verkrygingsregulasies van 2017, waardeur maatskappye op grond van die ras van hulle eienaars gediskwalifiseer is om te tender, onwettig is en tersyde gestel moet word.

Hoewel belangrik, was die uitspraak egter van beperkte omvang en het dit bloot die eerste uitsondering daargestel op wat tot dusver die ononderbroke statutêre uitbreiding van BEE was. Op die Black Business Council se dinee gisteraand en die beraad vandag was ek verras om ’n ander mening te hoor, naamlik dat daar reeds ’n grootskaalse terugstoot van BEE aan die gang is. In antwoord hierop moet ek sê dat, nieteenstaande Sakeliga se hofsege, BEE as ’n beleid steeds in volle gang is in hierdie land. Natuurlik wil ons dit graag verander.

Vandag, na hierdie enkele hofsaak, het maatskappye wat op grond van hul eienaars se ras verhinder is om vir staatskontrakte te tender, weer ‘n vooruitsig om hulle goedere en dienste tot openbare voordeel aan te bied en kan lede van die publiek insgelyks daarna uitsien. Ingevolge die gewraakte regulasies moes die publiek vir lief neem met die verkryging van goedere en dienste vanuit ’n kunsmatig en aansienlik verkleinde verskafferspoel.

Selfs in hierdie gehoor hier op die Black Business Council se beraad is daar mense wat uitgesluit sou wees as gevolg van voorafkwalifikasies. Byvoorbeeld, in die Hoogste Hof van Appèl is ons saak baie versterk deur die getuienis van ’n swart vrou wat 51% van haar vaste-eiendomsmaatskappy besit het maar wat gediskwalifiseer is om te tender omdat die staat aangedring het op maatskappye met 100% swart eienaarskap.

Die uitspraak het nogal ’n opskudding veroorsaak, en ek vermoed dit is waarom ek genooi is om aan hierdie paneel deel te neem. Die uitspraak is nie deur die Black Business Council verwelkom nie. Trouens, baie van my medepaneellede het kommer en kritiek daaroor uitgespreek. President Ramaphosa se verwysing gisteraand na organisasies wat hulle besig hou met wat hy “lawfare” oor BEE noem, het waarskynlik op Sakeliga en ons litigasie betrekking.

Dit is duidelik dat Sakeliga se siening van die Stand van Ekonomiese Transformasie en Verkryging, die onderwerp van hierdie paneel, verskil van dié van baie mense wat vandag hier is. Gedagtig aan hoe uiteenlopend ons menings oor hierdie aangeleentheid is, betuig ek graag my en Sakeliga se waardering teenoor mnr Kganki Matabane en die Black Business Council vir die uitnodiging om deel te neem. Ek is genooi om my mening onomwonde te stel – vergun my dus om reg te laat geskied aan daardie uitnodiging.

Ek sal praat oor die huidige stand van sake en algaande ook verduidelik waarom Sakeliga besluit het om die beleid van BEE teen te staan.

Eenstemmigheid

Een ding waaroor daar eenstemmigheid blyk te wees, is dat BEE as beleid nie werk nie. Hierdie eenstemmigheid sluit sowel voorstanders as teenstanders van BEE in.

Omdat hier reeds baie voorstanders is van BEE soos ons dit vandag ken – en ons het gisteraand die menings van die President van die BBC, Elias Monage, asook die President van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, in dié verband gehoor – gaan ek ook ’n paar kritici noem. Hulle wissel – meestal om verskillende redes – van die politieke ontleder Moeletsi Mbeki tot die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela tot die hoog aangeskrewe ekonoom Daron Acemoglu, van sakepersone soos Johann Rupert tot wyle Richard Maponya, van navorsingsverslae wat vir die EU opgestel is tot ’n verskeidenheid plaaslike sake- en drukgroepe. Daar heers inderdaad wydverspreide ontevredenheid met BEE, al is dit om verskillende redes.

Nog iets waaroor daar moontlik eenstemmigheid kan wees – maar ek is nie seker nie – is oor die doel van BEE. Ek hoor verskillende weergawes daarvan elke keer wanneer ek na ’n toespraak luister of ’n artikel lees ná byeenkomste soos hierdie beraad. Maar laat my toe om ’n stelling te maak, en mag dit reggestel word indien nodig. Ek wil die stelling maak dat BEE – ongeag die naam wat daaraan geheg word (bv ekonomiese transformasie, verkryging, KMMO-ontwikkeling) – net ’n middel tot ’n doel is, nie ’n doel op sigself nie. As die doel waarop BEE gemik is die verwesenliking van florerende swart gemeenskappe en swart mense in Suid-Afrika is, dan is dit ’n legitieme doel, ’n lofwaardige aspirasie, en verdien dit om gesteun te word.

Nie-eenstemmigheid

Dit wat eenstemmigheid betref. Kom ons kyk na die verskille.

Ek dink die paadjies loop uitmekaar oor die evaluering van BEE as die gepaste middel om die doel te bereik. Hoe dan so?

’n Groeiende golf van kritiek teen BEE as ’n beleid – as ’n middel – is aan die opbou. Nie omdat mense nie wil hê die doel moet verwesenlik word nie, maar omrede hul praktiese ervaring van BEE: persoonlik sowel as op maatskaplike vlak. Hierdie kritiek is in sommige gevalle gegrond, in ander gevalle dalk nie – nie alle gevalle is vandag vir ons van belang nie.

Die probleem met BEE wat ek hier aan u wil stel, en die een wat voorrang geniet in Sakeliga se evaluasie en strategie, is ons oortuiging dat dit vir die beleid van BEE, soos ons dit ken, fundamenteel onmoontlik is om die doel van ’n florerende swart gemeenskap – en daarmee saam ’n florerende samelewing – te verwesenlik. Dit is nie dat ons wil hê dit moet so wees nie, dis nie ’n kwessie van voorkeur nie – dis ’n analitiese gevolgtrekking: BEE is nie bemagtiging nie: dit is ontmagtiging.

Op watter wyse lei BEE na ons mening tot ontmagtiging?

As ek die beswaar vanuit ’n sakeperspektief kan opsom, dink ek aan die woorde van die Harvard-ekonoom Ricardo Hausmann. In ’n verslag vir die Mbeki-regering in 2007 het hy veral teen die eienaarskapelement van BEE gewaarsku. Hy het dit “’n onbeperkte belasting op bestaande en nuwe kapitaal” genoem.

Hausmann se kommer was versiende. Soos dikwels die geval is met wetgewing of beleid, bereik BEE die teenoorgestelde van wat die benaming te kenne gee. Die mislukking van die beleid het niks met die swart deel te doen nie, maar alles met die ekonomiese deel. Of liewer die gebrek aan ekonomie, want BEE is die vervanging van ekonomie deur politiek.

Dit is ’n stelsel van politieke in plaas van entrepreneuriese kapitaaltoedeling. Pleks van goedere en dienste te meet volgens die maatstaf van wat dit vir verbruikers en die publiek beteken – jy kyk na prys en gehalte en dan bied jy die beste daarvan aan die publiek, want dit is wat saak maak – meet ons dit volgens die maatstaf van regeringsvoorskrifte. Die nakoming van hierdie voorskrifte hoop laag op laag se strukturele koste bo-op sake doen in SA en verdring werklike waardeskepping tussen mense van verskillende rassegroepe en gemeenskappe. In die proses word prys en gehalte onvermydelik ingeboet – ’n las wat nie deur die suksesvolle tenderaar nie, maar deur die publiek gedra word.

Terwyl u nou na my luister, het u dalk opgemerk dat ek my op geen regte beroep nie, en ek gaan dit ook nie doen nie. Ek gebruik geen argumente oor indiwidue wat gedwing word om aandeelhouding te verwater, of oor tenders wat op grond van ras differensieer om te bepaal of iemand kan tender nie, ens. Geskille oor regte het meriete, maar is baie moeilik om te besleg, en dis nie my onderwerp vir vandag nie.

By Sakeliga verkies ons eerder ’n benadering wat op die algemene welsyn, die gemene goeie gemik is. Vir ons is die einddoel van die ekonomie, van besigheid, nie die verryking van eienaars, of werkers, of bestuurders nie, maar die skep van welvaart vir eindgebruikers in die samelewing.

Ons argument dat die beleid van BEE strukturele koste in die ekonomie byvoeg, tot nadeel van die gehalte en hoeveelheid goedere en dienste tot beskikking van die publiek, is die kern van ons beswaar. Ek hoor dikwels die regering praat oor BEE asof dit geen koste meebring nie, maar dit is misleidend. As dit goedkoop was om aan die regering se ingrypings te voldoen, sou sakeondernemings nie soveel moeite gedoen het om dit te vermy nie, en sou die regering nie aangehou het om sy verskeidenheid statutêre instrumente uit te brei nie. As BEE geen strukturele uitwerking op koste gehad het nie, waarom sou dit dan nodig wees om voorafkwalifikasies vir tenders in te stel, of ’n puntestelsel wat prys verdiskonteer, of ’n Mededingingsowerheid wat samesmeltings en verkrygings op grond van BEE-kriteria blokkeer?

Alternatief

“Maar wat is die alternatief?” kan u wel vra. Ironies genoeg lê die toekoms van werklike bemagtiging waarskynlik in iets wat 20 jaar gelede geïdentifiseer is, maar verwerp is, deur die argitekte van BEE in die 2001-verslag deur die Kommissie vir Swart Ekonomiese Bemagtiging. Dit was onder voorsitterskap van niemand anders nie as die huidige President, Cyril Ramaphosa, en het die grondslag gevorm vir die Wet op Breed Gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging twee jaar later.

Met verwysing na ongeveer 300 groot BEE-transaksies in die 1990’s het die verslag iets wat die kommissie destyds as ‘n dreigende verwikkeling beskou het, uitgewys en gepoog om dit aan bande te lê. “Die nuwe tendens is om BEE-transaksies te befonds deur gebruik te maak van ’n privaatekwiteitmodel wat: a) aandring op eie bydraes, sektorfokus en bedryfsbetrokkenheid deur die BEE-maatskappy; en b) van die risiko’s aan die teikenmaatskappy oordra.” 

Met ander woorde, die BEE-kommissie – aan die vooraand van die BBE-wet – was bekommerd nie dat maatskappye onwillig was om met swart mense sake te doen nie, maar oor die voorwaardes wat daaraan geheg is. Hierdie voorwaardes was basiese sakevereistes: maatskappye het daarop aangedring dat die vennoot a) werklike waarde toevoeg, en b) self help dra aan die risiko.

Sakeliga se toekomstige benadering tot BEE

Vir diegene wat voorstanders van BEE is omdat hulle wil hê dit moet vir verskillende doeleindes aangewend word, of wat met my verskil oor die ekonomiese probleme daaraan verbonde, het ek goeie nuus: BEE gaan nie oornag verdwyn nie. Sakeliga gaan sy bes doen, maar die beleid het oor dekades sterk posgevat en brei steeds uit. Hoewel Sakeliga gaan poog om die ommeswaai te bespoedig, sal BEE op die ou einde inplof as gevolg van sy eie ekonomiese teenstrydighede: dit is nie ’n geskikte middel tot ‘n gepaste doel nie.

Maar ek is dalk verkeerd. BEE kan dalk anders werk. Miskien tas ek mis met die ekonomiese aspekte. Dit is waar Sakeliga aangevat moet word: deur aan te toon dat BEE die openbare beskikbaarheid van goedere en dienste in hierdie land vergroot en verbeter.

Intussen, gesien ons ontleding, kan Sakeliga nie anders nie as om BEE teen te staan. Ek besef dat ons teenkanting teen BEE ’n omstrede kwessie is, maar ons moet doen wat ons dink reg en in belang van ’n florerende ekonomie en samelewing is. Ek hoop regtig dit sal nie verhinder dat ons en ons kritici eenstemmigheid en samewerking verkry ten opsigte van die talle ander, ook ernstige, probleme waarvoor ons in hierdie land te staan kom nie.

Vir die afsienbare toekoms sal Sakeliga ’n teenstander van BEE-voorstanders bly. Ons brei ons optrede uit en gaan groot aksies in die openbaar en in die howe van stapel stuur teen die regulatoriese en wetgewende moeras van BEE. Gisteraand het president Ramaphosa gesê ons voer ‘lawfare’ teen BEE, maar dit is nie korrek nie: Sakeliga se optrede is bloot ’n legitieme reaksie, in openbare belang, op wat in der waarheid ‘lawfare’ deur die regering is.

Archives