Sakeliga: Verwerping van Agtiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet noodsaaklike maar onvoldoende stap

Sakeliga neem kennis van en verwelkom die uitslag van die parlementêre stemming oor die Agtiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet (Agtiende Wysigingswetsontwerp) vandag. Die Agtiende Wysigingswetsontwerp is verslaan nadat die voorstanders daarvan versuim het om die vereiste twee-derde meerderheid van stemme van die Nasionale Vergadering in te palm wat nodig is om ‘n wysiging aan artikel 25 van die Grondwet aan te bring. Artikel 25 beskerm eiendomsreg en in besonder die reg op vergoeding by die onteiening van privaateiendom. 

Sakeliga bly nietemin waaksaam vir die risiko dat ‘n soortgelyke wysiging van die Grondwet op die Parlement se agenda bly, en dat die Parlement steeds kan volhard in sy poging om die Onteieningswetsontwerp* aan te neem. Die blote moontlikheid van beide voortgesette pogings om konfiskering te bewerkstellig, ondermyn regsekerheid en grondwetlike legitimiteit, en ontmoedig investering en ekonomiese ontwikkeling. 

Sakeliga spreek reeds sedert 2018 sterk teenkanting uit oor konfiskering van eiendom – waarna algemeen as “onteiening sonder vergoeding” verwys word. Die idee van “onteiening sonder vergoeding” het in 2018 vir die eerste keer op die Parlement se agenda beland. 

Die verwerping van die Agtiende Wysigingswetsontwerp in die Parlement is ‘n noodsaaklike, maar onvoldoende stap in die rigting van herstel van grondwetlike normaliteit op eiendomsreg. Die onmiddellike volgende stap moet wees dat die Parlement enige verdere bespreking van konfiskering van privaateiendom van sy agenda afhaal en ook weier om die Onteieningswetsontwerp aan te neem. 

Die voorgestelde Onteieningswetsontwerp* bevat bepalings wat konfiskering van eiendom (sogenaamde onteiening sonder vergoeding) sou operasionaliseer. Hierdie wetsontwerp is onbestaanbaar met artikel 25 van die Grondwet, wat vereis dat vergoeding aan eienaars betaalbaar is wanneer die staat wel privaateiendom kan onteien onder beperkte, duidelik gedefinieerde omstandighede. 

 Ons het in Maart 2021, tydens die finale verhore in die Nasionale Vergadering oor die Agtiende Wysigingswetsontwerp, dit op die rekord gestel dat konfiskasie van eiendom nooit aanvaar kan word nie, ongeag parlementêre prosesse wat gevolg mag word. 

 “… [O]ns kan nooit die voorgestelde veranderings aan die Suid-Afrikaanse Grondwet aanvaar nie, ongeag hoeveel parlementariërs daarvoor stem, of hoe bevredigend die formele en prosedurele aspekte daarvan behartig word nie. Die Grondwet kan nie gewysig word om voorsiening te maak vir die beoogde konfiskering, en terselfdertyd ‘n legitieme grondwet bly nie. Die Grondwet sal sy legitimiteit verloor in sover dit sodanig gewysig word [om vir konfiskering voorsiening te maak], en dit sal eers legitimiteit herwin nadat so ‘n wysiging ongedaan gemaak is.” 

Sakeliga staan onwrikbaar by hierdie stelling. Ons sal voortgaan om pogings om konstitusionalisme te ondermyn teen te staan en ons sal veg vir die eiendomsreg van alle huidige en voornemende eienaars, waarsonder daar geen kommersiële lewensvatbaarheid in Suid-Afrika kan wees nie. 

 
*Die Onteieningswetsontwerp — nuwe wetgewing wat voorgestel word – is nie te verwar met die pas-verworpe Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp, wat beoog het om artikel 25 van die Grondwet te wysig nie. 

Uitgereik deur:

Piet le Roux: Uitvoerende Hoof, Sakeliga
Russell Lamberti: Hoofekonoom, Sakeliga

 

Archives