Verpligte inentings: ’n Boodskap van ons Uitvoerende hoof, Piet le Roux

Hoofuitvoerendebeampte
Hoofuitvoerendebeampte

Beste Sakeliga-lid

Ek het vir verspreiding in die groter sakegemeenskap ’n kort videoboodskap oor verpligte inenting voorberei. Daarin beveel ek aan dat ons, as sakelui, ons onafhanklikheid beskerm, met matigheid optree en verdraagsaam bly vir verskille tussen ondernemings. Kyk dit asseblief by die skakel hieronder, deel en bespreek dit en stuur gerus – soos tevore – u terugvoer.

Is ons agente van die staat of is ons ‘n selfstandige sakegemeenskap?

Dit is die vraag wat sakelui moet vra wanneer state en staatsbelynde sakegroepe die wêreld oor probeer om privaat ondernemings te dwing om die publiek met ‘n entstofpasstelsel te polisieer en daarmee die gemoniteerde samelewing moontlik maak.

Wat is ‘n gemoniteerde samelewing? Dit is ‘n stelsel van konstante agtervolging, met boetes en uitsluitings en gedifferensieerde toegang tot die alledaagse lewe gebaseer op die diskresionêre en veranderende bepalings van politici oor u gesondheidstatus. En dit is maar net die begin.

Sakeliga kan nie en sal nie aanvaar dat ondernemings omskep word in verifikasie- en moniteringsinstrumente van die staat nie, nie vir inentings of andersins nie. Ons staan vir ‘n gesonde skeiding tussen besigheid en staat.

By Sakeliga bou ons aan ‘n selfstandige en staatsbestande sakegemeenskap. Só ‘n gemeenskap behoort nóg die staat met sy tegnologie, sy stelsels en sy menslike hulpbronne te bewapen, nóg lojale werknemers, klante en kliënte die deur te wys omdat hulle nie voldoen aan voortdurend verswarende en wisselvallige gesondheids- of ander puntevereistes nie. Sakelui behoort nie diep verdelings in die samelewing te weeg te bring nie.

Ek bied die aanbeveling aan sakelui dat die instel van inentingsverpligting vir personeel, klante en kliënte, of verskaffers normaalweg ‘n disproporsionele stap is en met heelwat meer risiko vir ‘n organisasie gepaard gaan as wat dit op die oog af na mag lyk. Sakeliga het nie en gaan ook nie ‘n verpligte inentingsbeleid vir personeel instel nie en sal voortgaan om die privaatheid van ons personeel se persoonlike gesondheidsbesluite te respekteer.

Nieteenstaande my aanbeveling skryf Sakeliga nie voor wat u moet doen nie. Ons glo dat die beskerming van sakelui se onafhanklikheid die toelating van verskillende benaderings tot ingewikkelde probleme vereis. Selfstandige besighede moet die geleentheid gegun word om toepaslik in hul besondere omstandighede op te tree, met behoud van die vermoë om te korrigeer en koers te verander soos omstandighede en insigte verander.

Die staat se benadering is om besluite te sentraliseer en besighede te instrumentaliseer. Sakeliga se benadering is baie anders. Ons rig ons op beskerming en versterking van die selfstandigheid van ons lede en die groter sakegemeenskap ten einde ‘n florerende samelewing te skep. Ons verdra verskille tussen besighede onderling en ons staan die onverdraagsaamheid van daardie state en staatsbelynde sake-organisasies, wat alle ander besighede wil dwing om hul voorkeurbeleide te kopieer, teen.

Piet le Roux
Uitvoerende hoof, Sakeliga

Archives