Verpligte inenting is onwys

Piet_Russell_Sakeliga

deur Piet le Roux en Russell Lamberti

‘n Nuwe idee het in Suid-Afrika en die wêreld posgevat. Die idee is nie oor entstowwe op sigself nie. Die idee is ook nie eens dat inentings in uitsonderlike omstandighede vir sommige mense verpligtend kan wees nie.

Die nuwe idee is algemene verpligting: dat inentings ‘n voorwaarde moet wees vir vryelike deelname aan die alledaagse lewe.

Die saak is meer kompleks as wat dit op die oog af lyk. Klem word veral op regte, wetsuitleg en mediese etiek geplaas. Hoewel sulke aspekte belangrik is, dink ons dat abstrakte argumente alleen nooit ‘n voldoende antwoord kan oplewer nie. Van veel groter belang is nie teoretiese nie, maar praktiese oorwegings oor wat vereis word (en wat vermy moet word) vir ‘n florerende samelewing.

Teorie is sekerlik ‘n nuttige hulpmiddel in die beantwoording van sulke vraagstukke, maar uiteindelik moet hulle beantwoord word aan die hand van ou hulpmiddels – wysheid en goeie oordeel.

Die vraag wat ons dus wil stel en beantwoord, is of die voorvereiste van inentings vir deelname aan die alledaagse lewe wys is.

Ons antwoord is nee.

Natuurlik vra min voorstanders van verpligting tans dat entstof met fisiese geweld toegedien moet word (dat ‘n paar dit wél vra is kommerwekkend). Wat hulle oor die algemeen eerder voorstel is stapsgewyse en toenemende dwang totdat die oningeënte persoon dit nie meer kan uithou nie en liewer “instem”.

Uitsluiting en verpligting is nie noodwendig onaanvaarbaar nie. In ‘n sekere sin is alle geordende sosiale lewe om gevestigde vorme van uitsluiting en verpligting gestruktureer. Vrae oor die gevolge en toelaatbaarheid van sulke dwang sal altyd belangrik wees, maar geen regter of wetenskaplike kan hierdie dinge in abstraksie bepaal nie. Dít verg die uitoefening van wyse oordeel in konkrete gevalle.

Wyse oordeel word gebruiklik verbeeld met gebalanseerde skale. Om met wysheid te handel is om proporsionaliteit te handhaaf. In ‘n era waarin ons gewoond geword het aan die eenduidige antwoorde wat data, abstrakte regte en die wetenskap ons klaarblyklik bied klink wysheid dalk na ‘n uitgediende en vae konsep. Tog kan geen samelewing sonder die toepassing van wysheid in sy sake floreer nie. Die kuns van maatskaplike beleidsvorming met slegs wetenskap en sonder die konsep van wysheid is onvoorstelbaar.

Proporsionaliteit tot die pandemie

Daar is ten minste drie redes waarom verpligte inenting disproporsioneel en onwys is.

Eerstens, verpligte inentings is disproporsioneel in die lig van die heftigheid van Covid-19 en ons kennis van die probleem. Die algemene narratief, wat tot ‘n groot mate verpolitiseer is, laat min ruimte vir goeie nuus oor die virus te midde van tragedie. Dit skep ook die indruk van veel groter sekerheid oor die situasie as wat geregverdig is.

Die belangrikste positiewe verwikkeling, wat veels te min erkenning geniet, is dat die pandemie die oorweldigende meerderheid spaar, veral ons kinders en jong volwassenes vir wie SARS-Cov2 minder risiko as ander gewone siektes inhou. Aanvanklike modelle was maklik tien maal te pessimisties. Die eerste lockdown in Suid-Afrika was byvoorbeeld aangevuur deur die Sacema-model, wat so veel as ‘n miljoen hospitalisasies en 350 000 sterftes in die eerste aantal maande voorspel het. Hierdie waarneming is nie bedoel om die baie slegte situasie veroorsaak deur Covid-19 en lockdowns te onderspeel nie. Volgens die Mediese Navorsingsraad se syfers was daar ‘n merkbare en abnormale toename in sterftes, en meeste van ons kan getuig van hoe kennisse of familielede deur die tragedie van die afgelope jaar-en-‘n-half geraak is.

Oorskatting kom ook onder ons as publiek voor – in ‘n onlangse Rasmussen-peiling in die VSA het meer as twee derdes van die bevolking die bevestigde Covid-sterftesyfer oorskat, dikwels selfs meer as 5 maal te hoog. Dit dui op ‘n beduidende toestand van bevreesdheid weens onvoldoende verrekening van wat rede moes gewees het vir optimisme en nie hopeloosheid nie – onverwagse goeie nuus oor mortaliteit in die algemeen, mortaliteit van jongmense, en natuurlike immuniteit. Intussen bly erg ingrypende maatreëls, soos inperkings en verpligte inentings, in plek nieteenstaande die feit dat die modelle waarop hulle gebaseer was heeltemal onakkuraat was.

Nog ‘n rede vir optimisme is natuurlike immuniteit. Dit is immuniteit wat teen ‘n duur prys opgebou is – wat nie ligtelik geneem of op neergesien behoort te word nie. Professor Burtram Fielding herinner ons verlede week op kykNETVerslag daaraan mense wat van Covid-19 herstel ‘n sterk mate van immuniteit ontwikkel. Volgens Fielding en andere is hierdie immuniteit wesenlik, vergelykbaar of selfs sterker as wat met ‘n entstof opgebou word. Beramings deur Emile Stipp, hoofaktuaris van Discovery, dui daarop dat tussen 70% en 80% van die bevolking in Suid-Afrika teen Augustus 2021 waarskynlik reeds Covid-19 gehad het. Dat tot vier uit vyf mense waarskynlik reeds die siekte oorleef het én die immuniteitsvoordele daarvan geniet moet mos ‘n rede tot ten minste tentatiewe optimisme wees, dalk selfs toejuiging. Tog hoor ons min van hierdie goeie nuus.

Naas verskeie redes vir optimisme na ‘n moeilike 18 maande, is daar ook nog die kwessie van wesenlike blywende onsekerhede: nieteenstaande ooreenstemming op baie punte bestaan daar onder die mees bekende en gevestigde medici en wetenskaplikes steeds betekenisvolle meningsverskille. Verskille sluit in oor die eienskappe van die siekte, behandeling, spoed en wyse van oordrag, noviteit van variante, entstofdoeltreffendheid, en meer.

Neem byvoorbeeld die kwessie van entstofdoeltreffendheid, wat insluit hoe steriliserend entstofverworwe immuniteit is en tot watter mate dit oordrag beperk. Volgens Adrian Gore van Discovery verminder inentings die risiko van oordrag met 50% tot 80%. Maar hiervan verskil professor Shabir Madhi – hy het al gesê dis 50% of minder. En hiervan weer verskil ‘n leidende Amerikaanse epidemioloog en viroloog, dr Anthony Fauci, wat aanbeveel het dat ingeënte mense steeds maskers dra omdat inentings klaarblyklik nie ‘n genoegsame verskil by oordrag maak nie.

Wanneer gerespekteerde kundiges (verstaanbaar) oor iets so kompleks verskil, is iets so drasties soos ‘n samelewingswye verpligte inentingsprogram regtig ‘n stap wat getuig van wysheid en goeie oordeel?

Proporsionaliteit tot maatskaplike en politieke risiko’s

Tweedens is die potensiële voordele van verpligte inentingsbeleide vandag disproporsioneel teenoor die maatskaplike en politieke risiko’s van so ‘n program in die komende dekades.

Een van die grootste risiko’s van verpligte inenting teen Covid-19 is dat ons mense gewoond daaraan maak dat die staat gesentraliseerde toegangsbeheer en monitering toepas, en die privaatsektor inspan om saam te werk. ‘n Mens hoef net na China se beheer- en moniteringstaat te kyk om te besef dat ons hierdie toegif aan die staat doen op groot risiko vir ons vryheid. Dat so ‘n stelsel aanvanklik tot Covid-19-inentings beperk is, of dat jou verpligte app waarmee jy kort-kort moet inskandeer aanvanklik anonimiteit sal toepas, bied geen gerusstelling. In werklikheid ontstaan ‘n nuwe, gevaarlike normaal in die samelewing, een wat die weg vir ongekende sentralisasie en staatskorporatiewe magskonsentrasie berei. In beleidsformulering geld daar gewoonlik die waarskuwing dat ‘n beleid, veiligheidshalwe, ontwerp moet word asof ‘n korrupte en onbekwame regering dit eendag gaan toepas – in Suid-Afrika is geen verbeelding nodig nie.

‘n Verdere gevolg daarvan, om die hele samelewing by wyse van dwangmatige stappe tot inenting te dwing, is dat ons die risiko loop om diep skadelike breuke tussen mense te veroorsaak. Groot dele van bevolkings wêreldwyd is sterk gekant teen verpligte inenting teen Covid-19. Om hierdie mense van dienste en toegang waarop hulle in hul alledaagse bestaan reken te ontneem, in die hoop dat hulle ingee en inent, of selfs dat ingeënte mense voordurend gemoniteer word en hul status rapporteer, gaan maatskaplike klowe skep wat mettertyd groei en sweer. Dit is die soort klowe wat nie net gemeenskappe verdeel nie, maar wat ook tussen verskillende gemeenskappe wigte indryf.

Wanneer die koeël van diep verdeeldheid eers deur die kerk is, neem dit geslagte om te herstel.

Proporsionaliteit tot die alternatiewe

Derdens, verpligte inentings is disproporsioneel omdat daar alternatiewe met ‘n beter risikobalans bestaan. Een manier is dat maatskappye wat hoër vlakke van inenting onder hul werknemers op die prys stel aansporings eerder as penalisasie bied. ‘n Ander is vir die gesondheids- en lewensversekeringsmark om die saak by wyse van prysbeleid ooreenkomstig aktuariële en saketoestande te bemiddel. Ook positiewe, eerlike inentingsveldtogte – wat insluit om erkenning aan die moontlike belang van natuurlike immuniteit te skenk – sal waarskynlik meer toegeneentheid onder entstofhuiwerige mense tot gevolg hê, en die ruimte vir konflik verminder.

Ons moet ook nie vergeet nie dat lockdowns verslap kan en behoort te word sonder inentingsverpligtinge, aangesien dit nie werk nie en katastrofiese maatskaplike gevolge het. In baie dele van die wêreld is lockdowns verslap, met geen merkbaar swakker uitkomste nie. Om die swaard van verpligte inenting as die enigste alternatief tot die beëindiging van skadelike beperkings voor te hou stel die publiek voor ‘n valse en onregverdige ultimatum. Die geskiedenis getuig daarvan dat dit onwys is om samelewings voor sulke keuses te stel.

Ten slotte

Die grootste foute spruit dikwels uit oorhaastige, disproporsionele sekerheid oor die meriete van nuwe idees.

Verpligte inentings, insluitende penalisasie vir oningeënte mense in hul alledaagse lewe, is ‘n wydlopende en disproporsionele stap. Ons kan meer rede tot optimisme oor Covid hê as wat voorgehou word deur diegene wat vir verpligting is. Ons weet waarskynlik veel minder as wat ons dink oor die huidige situasie – ‘n feit wat omsigtigheid, nie paniek, moet ontlok. Ons onderskat die politieke en maatskaplike gevare opgesluit in ‘n gemoniteerde samelewing en wat kan spruit uit diep klowe tussen mense oor sensitiewe sake. Ons sien minder ingrypende, meer harmonieuse alternatiewe oor die hoof.

Verpligte inentings, indien dit nooit voorheen deel van ‘n organisasie of aktiwiteitsfeer was nie, en sekerlik as voorvereiste vir deelname aan die alledaagse lewe, tref ons as onwys en sal waarskynlik meer probleme as oplossings bring.

Ons beskou dit nie as die weg na ‘n florerende gemeenskap nie.

*Dié artikel is ‘n geredigeerde weergawe van hierdie artikel wat op 12 September in Rapport Weekliks verskyn het.

Archives