Verantwoordelike gemeenskapsoptrede teen misdaad moet ondersteun, nie onderdruk word nie – Sakeliga

Mediaverklaring 2

Die redding gedurende die rampspoedige plundery wat die afgelope week in KwaZulu-Natal en Gauteng afgespeel het, was die stappe wat gemeenskapslede geneem het om hul ondernemings en eiendom te beskerm.

As sakeorganisasie neem Sakeliga daarom met besorgdheid kennis van die oproep deur Besigheid Suid-Afrika (BUSA) vir ‘n 24-uur klokreël in geraakte plundergebiede in KwaZulu-Natal en Gauteng. BUSA versoek die regering om buitengewone magte uit te oefen, wat mense tot hul huise beperk vir so lank as moontlik, vermoedelik in die hoop dat die klokreël kriminele elemente uit die strate sal hou en staatsveiligheidsdienste sal toelaat om verskaffingsroetes te beveilig. Daar word aangevoer dat dit die enigste wyse is om voedsel en ander basiese middele veilig by gemeenskappe te kry.

So ‘n klokreël hou enorme nadele en risiko in en kan die situasie tot ‘n groot mate destabiliseer.

“Gemeenskappe het nou al bewys dat hulle mobiel, georganiseerd en aanpasbaar in die aangesig van die bedreigings van die oomblik in hoogs onsekere omstandighede moet wees. Voorsieningskettings is boonop nie eenvoudige verskynsels nie, maar ingewikkelde netwerke van aanpasbaarheid en vryheid van beweging vereis, ooreenkomstig veranderende verwikkelinge,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Sakeliga is gekant teen klokreëls en grendelstate en herhaal dat die huidige grendelstaatklokreël reeds beperkend en teenproduktief is en eerder in vrywillige aanbevelings omgeskakel moet word.

“’n Klokreël veroorsaak onvermydelik die probleem dat daar tussen wie en wat noodsaaklike dienste in hierdie ongewone tyd is onderskei moet word. So ‘n bepaling kan egter nie deur sentrale beplanners gedoen word nie; die ekonomie is ‘n verweefde aangeleentheid en al die lede van die produksienetwerk dra in belangrike en op onopsigtelike wyses tot die herstel van orde en voorrade by.”

Boonop behoort ‘n 24-uur klokreël verwerp te word ten gunste van maksimum aanpasbaarheid vir gemeenskappe om op hul unieke risiko’s en omstandighede te reageer.

“Staatsveiligheidsdienste het tot dusver ooglopend op gemeenskapsbystand gesteun om bedreigings die hoof te bied. Om gemeenskapslede tot hul huise in te perk sal waarskynlik nie net gemeenskappe nie, maar ook staatsveiligheidsdienste wat ver in die minderheid teen plunderaars is, meer kwesbaar en kragteloos laat. Gemeenskappe van vrywilligers wat tot dusver doeltreffend gereageer het kan daarom nie aanvaar om in hul huise ingedwing te word en so die risiko van verdere aanvalle en vertragings in die herstel en opruimpogings te loop nie.”

Sakeliga verwelkom alle regmatige en verantwoordelike intervensies deur die publiek, private sekuriteit, gemeenskapsveiligheidsforums en ondernemings, wat lewens en bates teen misdadige vernietiging beveilig.

Sakeliga doen ‘n beroep vir staatsveiligheidsdienste om ter ondersteuning van bestaande gemeenskapsaksies teen plundery en misdadigheid ontplooi te word en om konstruktief met gemeenskapsveiligheidsforums en plaaslike sakekamers saam te werk om stabiliteit te herstel.

Archives