Tesourie moet onwettige tenderinstruksies terugtrek, staatstenders mag voortgaan sonder BEE-voorvereistes 

Die Nasionale Tesourie het onwettige instruksies aan staatsorgane deurgegee, in wat neerkom op ‘n berekende poging om die Konstitusionele Hof se onlangse verkrygingsuitspraak te systap. Die instruksies dreig ook om bykans alle staatstenders in die land ongegrond tot stilstand te laat knars en die wat wél toegeken word aan geregtelike hersiening bloot te stel.

Sakeliga het vanoggend ‘n skrywe aan Tesourie gerig, waarin ons die Direkteur-Generaal dringend aanmaan om sy instruksie terug te trek.

Die instruksie, wat op 25 Februarie, per omsendskrywe aan alle staatsorgane versprei is, kom na Sakeliga se Konstitusionele Hof-oorwinning op 16 Februarie. Met die saak kon Sakeliga daarin slaag om die Minister van Finansies se verkrygingsregulasies van 2017, wat staatstenders onderhewig aan BEE-voorvereistes gemaak het, ultra vires en nietig verklaar te kry. Dit beteken dat staatsorgane voortaan nie die 2017-regulasies as grondslag vir voorafdiskwalifikasie van tenders mag gebruik nie.

Klaarblyklik ontevrede met die uitspraak is die Direkteur-Generaal (DG) egter nou besig met verdere onwettige optrede en veroorsaak hy potensieel onwettige optrede deur staatsorgane.

In sy omsendskrywe van 25 Februarie gee die DG in effek aan staatsorgane instruksie dat

  • geen nuwe tenders  geadverteer moet word nie,
  • tenders wat sedert die uitspraak geadverteer is teruggehou word, en
  • tenders wat geadverteer is vóór die uitspraak kragtens die onwettige 2017-regulasies voortgesit  kan word.

Die onwettigheid van die DG se optrede setel in die feit dat hy, ironies genoeg net soos Konstitusionele Hof uitgewys het ten opsigte van die Minister, nie ag slaan op artikel 2 van die PPPFA* nie. Hierdie artikel bepaal dat staatsorgane sélf vir hul verkrygingsbeleid, binne die raamwerk van die PPPFA, verantwoordelik is. Die DG kan, net soos die Minister, nie buite die raamwerk van die PPPFA verkrygingshandelinge veroorloof of verhoed nie. Die DG se skrywe skep boonop die indruk by staatsorgane dat hulle by magte sou wees om tenders met behulp van onwettige BEE-voorvereistes te finaliseer, mits die tenders vóór die Konstitusionele Hof-uitspraak geadverteer is. Dít is nie korrek nie. Tenders kan slegs wettiglik gefinaliseer word indien dit binne die raamwerk van die PPPFA gedoen word. Die 2017-regulasies se voorkwalifikasievereistes, en enige voortgesette steun daarop, is onwettig juis omdat dit buite die raamwerk van die PPPFA beweeg.

Die DG maak in sy skrywe melding daarvan dat die Nasionale Tesourie die Konstitusionele Hof vir ‘n bevel wil nader om die regulasies wat ultra vires verklaar is vir ‘n tydperk te laat herleef. Sakeliga het nog geen kennis van so ‘n aansoek vanaf die Tesourie ontvang nie en wys daarom intussen eenvoudig uit dat die Tesourie klaarblyklik nie die reg korrek verstaan nie: dit is ‘n staande posisie in die reg dat ‘n bepaling wat ultra vires is nietig is en nie gehandhaaf kan word op enige wyse nie. Daar is geen rede vir tenderprosesse in die staat om tot stilstand te knars, soos Tesourie dit nou laat gebeur nie. Staatsorgane kan eenvoudig onmiddellik en ononderbroke voortgaan om tenders toe te ken en te adverteer, mits dit nie op BEE-tipe voorafvereistes of ander onwettige verkrygingspraktyk steun nie.

*Preferential Procurement Policy Framework Act. Dit is die Wet waarkragtens die Minister van Finansies destyds gepoog het om die onwettige 2017-regulasies te maak.

Uitgereik deur:

Piet le Roux

Uitvoerende Hoof,
Sakeliga

Tian Alberts

Regs- en Skakelbeampte,
Sakeliga

Jy kan Sakeliga help om BEE te stop. Sluit aan of skenk vandag aan Sakeliga. Hier is drie redes:

  • Sakeliga het gewys ons kan wen. Lees hier oor sakeliga se suksesrekord met litigasie.
  • Sakeliga is jou weerligafleier, sodat jy die regte ding kan doen sonder om jou besigheid polities bloot te stel
  • Met jou ondersteuning kan Sakeliga vinniger en beter litigeer, en vinniger ‘n alternatiewe, BEE-vrye sakenetwerk skep.

SLUIT HIER AAN 

Argiewe