Suid-Afrika se kleinsakeondernemings wandel steeds alleen

open

Volgens die webwerf van die Departement van Kleinsake-Ontwikkeling streef die departement daarna om ‘n “enabling legislative and policy environment” te verseker om Suid-Afrika se klein besighede se groei en volhoubaarheid te steun. Indien dit waar is – en die departement se geskiedenis getuig nie dat dit waar is nie – maak die departement ‘n fout met sy nuwe Nasionale Kleinsake Wysigingswet, 2020. 

Die oorspronklike Nasionale Kleinsakewet, 1996, en die 2003 wysiging daarvan het albei voorsienings ingesluit wat erken dat die wetlike, regulatoriese, en beleidsomgewing wel ‘n invloed kan uitoefen op die sukses of mislukking van klein besighede.  

Dus het die 1996 Wet ‘n Kleinsakeraad gevestig wat die nasionale, provinsiale, en munisipale regerings regoor Suid-Afrika moes adviseer op onder meer die ekonomiese beleid wat die regering moet implementeer om kleinsake te bevorder. Die raad het bestaan uit verkose verteenwoordigers van klein besighede self. Die 2003 wysiging het reeds die situasie effens versteur deur om die Kleinsakeraad met ‘n ministeriële Adviserende Liggaam te vervang. Die liggaam was voorts verantwoordelik daarvoor om slegs die Minister van Kleinsake-Ontwikkeling te adviseer, maar nog steeds oor onder andere die impak van wetgewing en ander regeringsbeperkings wat kleinsake se funksionering belemmer.  

Die huidige wysigingswet beweeg heeltemal hiervan af weg, en vervang die Adviserende Liggaam met ‘n Ombud-Diens. Die Ombud-Diens, in plaas daarvan om na klagtes en advies te luister oor hoe die regering die kleinsakeomgewing kan verbeter, sal nou daarvoor verantwoordelik wees om na klagtes van kleinsakeondernemings teen groter maatskappye te luister. Met ander woorde, enige erkenning dat die wetlike, regulatoriese, en beleidsbesluite wat die regering neem bydra tot die lot van klein besighede in Suid-Afrika, is nou verwyder. Slegs die boegman van groot kapitalistiese maatskappye wat arme kleinsake voortdurend uitbuit, so word klaarblyklik geredeneer, is wat dinge moeilik maak vir kleinsake.  

In die werklikheid is die storie natuurlik heel anders. 

Die COVID-19 inperkings het kleinsakeondernemings in Suid-Afrika – en regoor die wêreld – verwoes. ‘n Peiling in Desember 2020 meen dat byna 43% van dié besighede regoor die land hulle deure gesluit het. Die COVID-19-inperkings is dalk ‘n ekstreme voorbeeld (wat ‘n groot rol in 2020 gespeel het), maar ons het reeds  kruipende regulering voor die inperkings gesien en sal dit lank na die inperkings nog steeds sien. Dis nou indien die regering nie sy ideologie van grootskaalse inmenging by die mark verlaat nie.  

Van die nasionale minimumloon tot nuwe regstellende aksie regulasies wat oorweeg word, mis die Suid-Afrikaanse regering nie ‘n geleentheid om die ekonomie te versmoor nie. Die Departement van Kleinsake-Ontwikkeling, wat juis opgerig is om kleinsakeondernemings by te staan, het geen wilskrag om dit prakties te doen nie. Hoekom anders sal dié departement so stil gewees het terwyl die regering byvoorbeeld kleinsake op die Tuinroete in Desember 2020 verpletter het? 

Nee, slegs private en burgerlike organisasies soos Sakeliga is bereid om werklik op te staan vir die kleinsakeman.  

Dus het Sakeliga in sy voorlegging op die Nasionale Kleinsake Wysigingswet voorgestel dat ‘n nuwe Nasionale Kleinsakewet op die been gebring word wat onder andere die volgende doen: Eerstens moet besighede met minder as 50 werknemers vrygestel word van sekere kategorieë van staatsinmenging in die ekonomie, byvoorbeeld sektorale of nasionale minimumlone wat deur groot besighede en vakbonde ooreengekom word, en sogenaamde ‘bemagtiging’-wetgewing. Die vrystelling moet algemeen wees en nie spesifiek wees nie, want daar is soveel wette, regulasies, en beleide wat kleinsake onderdruk dat dit onmoontlik sal wees om almal in die nuwe wetgewing te noem. 

Tweedens moet die Departement van Kleinsake-Ontwikkeling self heroorweeg word. Dit is nou ‘n doodgewone regeringsdepartement wat nie sy kop uitsteek nie, nie eers vir kleinsake soos wat dit veronderstel is om te doen nie. Volgens Sakeliga se voorstel moet die departement se fokus totaal en al skuif na deregulering, liberalisering, en die verwydering van rompslomp. Kleinsake moet ‘n materiale invloed hê op wie as Minister van Kleinsake-Ontwikkeling aangestel word, en dié LV moet ‘n deeglike kennis met die behoeftes en unieke vereistes van klein besighede kan toon. Die Minister moet dan ook die mag gegee word om die toepassing van enige nuwe wet, regulasie, of beleid van regeringskant op kleinsake te veto.  

Suid-Afrika vind homself nou in ‘n onaangename en gevaarlike ekonomiese situasie. Die COVID-19 inperkings, gepaard met jare se dirigisme, het verseker dat dit lank sal vat vir ons om selfs die swak ekonomiese toestande waarin ons was vóór die inperking weer te bereik. Ons kan hierdie proses slegs verhaas indien die burgerlike samelewing begin aandring op ‘n vryemark ekonomiese beleid en die onderwerping van die regering aan streng konstitusionele beheermaatreëls. Die regering se voorgestelde Nasionale Kleinsake Wysigingswet plaas ons nie op dié pad nie. 

Martin van Staden is ‘n Regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga en studeer tans vir ‘n doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Meer inligting by www.martinvanstaden.com. 

Archives