Staatsrede: Regering se verbintenis tot mislukte beleid noodsaak staatsbestande ekonomie

Sakeliga stel uitkomsgebaseerde presidensiële telkaart vry 

Die kritieke toestand van die Suid-Afrikaanse fiskus en ekonomie het fundamentele hervorming in regeringsbeleid van President Cyril Ramaphosa vereis. In stede daarvan het die president sy regering opnuut verbind tot die interventionistiese benadering verantwoordelik vir die land se benarde toestand.

Die staatsrede is ook die debuut van Sakeliga se uitkoms-gebaseerde presidensiële telkaart. Dié telkaart is ‘n saamgestelde meetinstrument van tien objektiewe maatstawwe, ontwikkel om werklike ekonomiese seine te onderskei van politieke geraas. Volgens die aanwyser funksioneer die Ramaphosa-administrasie teen ‘n historiese lae vlak van 30 uit ‘n 100 en kon dit nie daarin slaag om die afwaartse trajek wat reeds by sy inhuldiging as president bestaan het om te keer nie.

Gegewe die gebrek aan hervorming verwag Sakeliga dat sy uitkoms-gebaseerde telkaart vir die voorsienbare toekoms op hierdie histories lae vlakke sal bly.

President Ramaphosa se toespraak is deur twee fundamentele mistastings gekenmerk. In die eerste plek het hy fouteer deur al die skuld vir die geknelde ekonomie en fiskus toe te skryf aan korrupsie en staatskaping. Dog skadelik was hierdie bloot bydraende faktore tot die land se probleme – ver oorskadu deur die skade veroorsaak deur staatsinmenging soos hoë belasting, burokratiese rompslomp, SEB, wanbesteding, mededingsbeleid, en onteiening sonder vergoeding.

Tweedens het hy versuim om te erken dat nie burokrate en politici welvaart skep nie, maar eerder besighede in mark-ekonomieë. Hierdie is duidelik in sy klem op “ekonomiese meesterplanne” en “sosiale konsensus” as kernpilare in sy strategie vir ekonomiese groei. In hierdie trant het hy ook ‘n staatsbeleggingsfonds en staatsbank aangekondig.

Positiewe verwikkelinge was skaars. Een voorbeeld is sy bereidwilligheid om te erken dat dit beter is om kragonderbrekings te aanvaar as om die opknapping en herstel van Eskom se kragstasies nog verder uit te stel.

President Ramaphosa het sy toespraak afgesluit deur te sê dat “‘n nuwe era aangebreek het”. Dit is nie korrek nie. Hy het, inderwaarheid, sakelui en die publiek daarvan verseker dat sy administrasie homself opnuut tot intervensionisme verbind.

Sakeliga bly verbind tot interaksie en bedinging met die regering vir ‘n beter sake-omgewing. Gegewe die gebrek aan ‘n koersverandering op regeringsvlak sal ons egter voortgaan met die ontwikkeling van inisiatiewe om nie net ons lede nie, maar die ekonomie en publiek in die algemeen meer en meer staatsbestand te maak.

Vir meer inligting oor Sakeliga se uitkoms-gebaseerde presidensiële telkaart, klik asb. hier.

Archives