STAATSENTITEITE KAN ONMIDDELLIK VERPLIGTE BEE BY VERKRYGING STAAK

Screenshot 2022-11-07 at 16.11.34

Nasionale Tesourie oorweldig deur meer as 700 aansoeke om vrystelling van  voorkeurverkryging ná Sakeliga se Konstitusionele hof-oorwinning

Sakeliga kan vandag aankondig dat BEE en plaaslike inhoudvereistes (‘local content’) in staatsverkrygingsregulasies, weens ons vyf jaar lange hofstryd teen die Minister van Finansies, uiteindelik geskrap is. Nuwe regulasies wat verlede week deur die Minister van Finansies uitgevaardig is in die nasleep van Sakeliga se Konstitusionele hof-oorwinning teen BEE in staatstenders sal op 16 Januarie 2023 in werking tree met geen BEE- of plaaslike inhoudvereistes nie. Selfs die definisie van “B-BBEE” is uit die nuwe regulasies verwyder.

Belangriker nog – soos Sakeliga later vandeesweek in ’n verslag sal wys – hoef staatsorgane, insluitend munisipaliteite, nie eers tot 16 Januarie 2023 te wag om alle BEE- en plaaslike inhoudvereistes uit hul tenderprosedures te verwyder nie. Hulle is onmiddellik vry om hulself slegs tot normale waarde-vir-geld-verkryging te verbind en is as ‘n reël nie onderhewig aan verpligte BEE- of plaaslike inhoudvereistes nie.

Die pad wat na die nuwe regulasies gelei het

Ná ’n vyf jaar lange litigasiestryd teen die Minister van Finansies, het die Konstitusionele hof in Februarie 2022 in Sakeliga se guns bevestig dat die Minister se 2017-voorkeurverkrygingsregulasies onwettig en ongrondwetlik is. Die regulasies het onder meer voorafdiskwalifikasie van tenderaars op grond van BEE-punte ingestel en ander BEE-, subkontrakterings- en plaaslike inhoudvereistes vir tenders aan staatsorgane opgelê. Die hof het die ongeldigheid van die 2017-regulasies tot 16 Januarie 2023 opgeskort, om die Minister geleentheid te bied om nuwe, wettige regulasies te maak.

Intussen toon rekords wat Sakeliga van die Minister van Finansies ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) verkry het dat die Nasionale Tesourie sedert ons hofoorwinning in Februarie meer as 700 versoeke van verskeie staatsorgane ontvang het om vrystelling van voorkeurverkrygingsreëls. Die rekords toon dat die Nasionale Tesourie hierdie “Con Court Exemptions” sonder uitsondering toegestaan het.

Dit blyk dat staatsorgane in die nasleep van die Konstitusionele hof se uitspraak in Februarie vir die eerste keer tot ‘n mate besef het dat hulle nie gebonde hoef te wees aan verpligte BEE- en plaaslike inhoudverkrygingsvereistes in nasionale regulasies nie. Die vrystellingsversoeke van staatsorgane wat sedertdien begin opgehoop het, en die meegaande administratiewe las op die Tesourie, het klaarblyklik daartoe bygedra dat die Minister van Finansies genoop was om sy nuwe regulasies verlede week sonder enige BEE- of plaaslike inhoudvereistes uit te vaardig.

Die pad vorentoe

Die afskaffing van BEE- en plaaslike inhoudvereistes in die nuwe voorkeurverkrygingsregulasies is belangrik en getuig van die potensiaal van litigasie om BEE en ander skadelike staatsbeleide terug te rol. Dit is egter voorsienbaar dat die Minister sal poog om BEE- en plaaslike inhoudvereistes weer in toekomstige regulasies in te stel, of dat sulke vereistes in ander wetgewing ingesluip sal word.

Om hierdie rede publiseer Sakeliga hierdie week ‘n verslag waarin ons met die insette van senior regslui aanvoer dat daar geen grondwetlike of ander geldige statutêre verpligting op staatsorgane is om BEE- of plaaslike inhoudvoorwaardes by tenders in te sluit nie.

Hierdie grondwetlike posisie geld, ongeag enige voorkeurverkrygingsregulasies of wetgewing wat in die toekoms ingestel mag word.

Staatsorgane geniet volle bevoegdheid ingevolge artikel 217(1) van die Grondwet om hul eie verkrygingsbeleide te bepaal. Voorkeurverkrygingsmaatreëls ingevolge artikel 217(2) en die Wet op Voorkeurverkrygingsbeleidsraamwerk (PPPFA) is opsioneel. Staatsorgane mag nie gedwing word om voorkeurverkryging te implementeer nie – nóg deur die nasionale uitvoerende gesag nóg deur die parlement.

Behalwe om die weg van staatsorgane, insluitend munisipaliteite, na onafhanklike en BEE-vrye verkryging te baan, is die implikasies van die bevindings in die verslag ook dat:

  1. Die Minister van Finansies in die eerste plek nooit die bevoegdheid gehad het om in te meng met die diskresie van staatsorgane om hul eie, normale verkrygingsbeleide te bepaal nie. Verpligte BEE-, plaaslike inhoud en ander voorkeurdoelwitte wat sedert 2011 aan staatsorgane opgelê is, was onbehoorlik en ongrondwetlik.
  2. Dit was dus nooit vir staatsorgane nodig om vir “vrystellings” van voorkeurverkrygingsregulasies te vra nie (al toon die stortvloed van vrystellingsversoeke dat staatsorgane nie aan die regulasies gebonde wou wees nie).
  3. Staatsorgane hoef nie te wag tot 16 Januarie 2023 wanneer die nuwe voorkeurverkrygingsregulasies in werking tree om alle BEE- en plaaslike inhoudvereistes uit hul tenderprosedures te verwyder nie. Hulle kan voortgaan met normale verkryging, en onmiddellik ‘n grondwetlike diskresie uitoefen om nie voorkeurverkrygingsbeleide te implementeer nie.

‘n Keuse vir staatsentiteite en ‘n geleentheid vir sakelui en die publiek

Voorkeurverkryging, veral in die vorm van BEE en plaaslike inhoudvereistes, is skadelike beleide wat lei tot wantoedeling van fondse weg van maksimum waarde-vir-geld vir die publiek. Dit het geweldige skade aangerig sedert hierdie beleide in 2011 uitgevaardig is en in 2017 versterk is. Weens ons litigasie en daaropvolgende nuwe regulasies word BEE- en plaaslike inhoudvereistes in staatsverkryging gelukkig nie meer formeel op staatsorgane afgedwing nie. Nog belangriker is die feit dat, ongeag enige toekomstige regulasies of veranderinge aan nasionale wetgewing, staatsorgane ‘n grondwetlike diskresie gehad het en steeds het om nie voorkeurverkrygingsdoelwitte toe te pas nie.

Staatsorgane, insluitend munisipaliteite, wat nou kies om hul grondwetlike diskresie te herwin wanneer dit by verkryging kom, maak ‘n keuse vir verantwoordelike, waardegedrewe en doeltreffende oplossings vir die gemeenskappe wat hulle dien. Dit geld ook vir staatsentiteite soos Eskom. Hulle kan hulself bevry van die enorme wantoedeling van hulpbronne wat van hulle vereis word in terme van onwettig opgelegde voorkeurverkrygingsmaatreëls.

Baie staatsentiteit en munisipaliteite sal egter nie vanself hul grondwetlike plig opneem om hul verkrygingsonafhanklikheid te herstel nie. Baie sal waarskynlik voortgaan om hul bevoegdheid en verkrygingsonafhanklikheid aan die nasionale uitvoerende gesag te abdikeer. In sulke gevalle sal dit op sakelui en ander lede van die publiek aangewese wees om veral hul munisipaliteite tot verantwoording te roep en te eis dat hulle hul onafhanklikheid verseker wanneer dit by verkryging kom. Hulle behoort dit te doen in die belang van verbeterde staatsdienste en die afweer van die ekonomiese katastrofe wat veroorsaak word deur growwe ondoeltreffendheid en verval in dienslewering.

Argiewe