Staat se sogenaamde ekonomiese herstelplan is hol; Besigheid steun dit nie

Staat se sogenaamde ekonomiese herstelplan is hol; Besigheid steun dit nie – Sakeliga

Die besigheidsgroep Sakeliga sê besighede in Suid-Afrika is nie tevrede met die ekonomiese “herstelplan” wat president Cyril Ramaphosa vandag aangekondig het nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê “herstel kan nie gebaseer wees op ‘n voortsetting van die ramptoestand, meer belasting, staatsbesteding, en staatsinmenging nie. Die ‘herstelplan’ stel nogmaals die staat sentraal tot ekonomiese ontwikkeling, in plaas van die privaat sektor. Dit is dus eerder ‘n regeringsuitbreidingsplan.

“Ek hoor wat die president sê van die steun wat hy by NEDLAC en die ‘social partners’ gekry het, maar as dit so is, is dit ‘n growwe versuim van die betrokke verteenwoordigers om die regte boodskap en die nodige druk by die president tuis te bring. Hy verkeer onder ‘n wanindruk as hy van mening is dat sakelui hierdie ekonomiese herstelplan – wat bloot ‘n voortsetting van bestaande regeringsbeleid is – steun. As die regering ‘n ramp wil vermy moet hy van koers verander – nie versnel nie.”

Le Roux sê hy sal “bevestigings versoek by BUSA en Business for SA, twee groeperinge wat as ‘social partners’ die afgelope tyd klem op hul samesprekings met die regering, binne en buite NEDLAC, gelê het. Nieteenstaande die president se herhaaldelike versekerings is dit eintlik ondenkbaar dat die plan die onvoorwaardelike steun van sakegroepe sou kon geniet.”

Uiteraard verwelkom Sakeliga enkele punte in die “herstelplan”, soos versnelling van adminstratiewe prosesse by toekenning van water-, myn- en ander lisensies. Ook die voorgestelde regulatoriese veranderinge om private elektrisiteitsopwekking te vergemaklik is nodig, maar iets wat die regering tevore reeds beloof het en lankal moes doen.  

Le Roux sê hierdie en ander positiewe punte was egter uitsonderings: “Waar was die arbeidsmarkhervorming, afskaffing van wette, herroeping van skadelike mislukkings soos swart ekonomiese bemagtiging, verlaging in belasting, vermindering van staatsindiensname en uitbreiding van privaatsektorindiensname, sluiting van staatsondernemings, ensovoorts?”

Lewer kommentaar