SONA: Geen strukturele hervorming, staat verskerp skadelike beleid

Die staatsrede vanaand het nie die nodige strukturele hervormings aangekondig nie, ten spyte van die dringende nood daaraan. Hoe moeilik dit ook al was, ware hervorming deur president Cyril Ramaphosa sou moes begin met ‘n erkenning dat regeringsbeleid die hoofoorsaak van Suid-Afrika se ekonomiese krisis is. Dit sou ‘n alternatiewe visie van minder politiek en meer besigheid moes skets. In plaas daarvan het die president die regering sopas tot meer van dieselfde verbind. 

Suid-Afrika se ekonomie is nie net op die afdraande pad net sedert die Covid-19-inperkings nieSuid-Afrika se ekonomie is lankal in ‘n staat van inperking, danksy politieke inmenging.  

Dit bly moontlik om ekonomies suksesvol in Suid-Afrika te wees, maar vir al minder en minder mense. Besigheidseienaars se reg om vrylik handel te dryf word op bykans elke denkbare vlak ingeperk, met drastiese gevolge vir werknemers, verbruikers en die algemene publiek. Van eienaarskap tot aanstellings, tot vergoeding en verskaffers en tendergeleenthede word deur SEB en allerlei ander regulasies beperk. Intussen is grondwetwysigings rondom onteiening ‘n groot bedreiging vir eiendomsreg. Behalwe dat hierdie kwessies plaaslike besighede kniehalter, ontmoedig dit internasionale beleggings.  

Een van die belangrikste terreine waarop hervorming nodig is is BEE. Die huidige ekonomiese krisis verg nie die bevoordeling van ‘n klein groepie politiesgekose eienaars nie, maar eerder ‘n fokus op indiensname, per capita BBP-groei, en die lok van plaaslike en internasionale beleggings – alles dinge wat deur BEE benadeel word. ‘n Onlangse verslag (Oktober 2020), wat in opdrag van die EU-South Africa Partners for Growth-projek (met EU-befondsing) saamgestel is, wys op die ervaring van EU-ondernemings in Suid-Afrika met SEB-beleid. Die studie dui daarop dat SEB groot koste en uitdagings vir ondernemings inhou, met eienaarskapvoorskrifte as een van die grootste struikelblokke. Dit is nie gepas dat die regering homself onvoorwaardelik tot BEE herverbind nie – dit is tyd vir hervorming. 

Die staatsrede volg ook op die onlangse aankondiging van die verhoging in die nasionale minimumloon. Dit is merkwaardig hoe die president kan erken dat die privaatsektor die grootste bron van indiensname is, maar dan werklose mense van indiensname uitsluit deur die minimumloon vir die privaatsektor op dubbeld vas te stel wat die regering hoef te betaal. 

President Ramaphosa se toespraak is boonop die kerninset vir die jaarlikse begrotingstoespraak wat later hierdie maand deur die minister van finansies gelewer sal word. Die staatsrede impliseer ongelukkig ‘n begroting wat staatskuld verhoog, in plaas van die nodige gelykbreekbegroting. Groter druk op die begroting beteken groter druk op die belastingbetaler en die verbruiker. 

Een van die enkele ligpunte in die toespraak vanaand was die verbintenis om binne drie maande lisensiëringsvereistes vir privaat elektrisiteitsopwekking te verlig. Maar selfs hier kon die regering homself nie tot werklike desentralisering verbind nie, omdat verligting klaarblyklik sal wees op voorwaarde dat die elektrisiteit via die bestaande elektrisiteitsnetwerk versprei moet word, in plaas van op ‘n privaat grondslag. 

Archives