Slegs twee uit tien sakeondernemings funksioneer teen volle kapasiteit tydens begin van Vlak 3-inperkings – Sakeliga Ondernemingsimpakpeiling

TAX_AfriBusiness

Slegs ongeveer twee uit tien sakeondernemings wat deelgeneem het aan die sakegroep Sakeliga se ondernemingsimpakpeiling vir Junie het aangedui dat hulle hul aktiwiteite teen volle kapasiteit kon hervat in Junie. Die peiling is geneem onder Sakeliga-lede en breër netwerk.

Daarby het respondente aangedui dat skade aan verbruikers se beursies weens Covid-19 en die regulatoriese reaksie daarop die grootste negatiewe impak gemaak het op verkope. Toestande het in Junie teenoor die vorige peilings in April en Mei verbeter. Dit was weens die ligter beperkinge. Hoewel die bykomende regulatoriese vrystellings later in Junie vooruitsigte verder sal verbeter, lê daar steeds groot uitdagings vir heelwat ondernemings voor.

“In Junie het amper agt uit elke tien (77%) van die respondente aangedui dat hul onderneming toegelaat is om handel te dryf. Dit was proporsioneel baie beter as die slegs byna vyf uit elke tien van respondente in Mei se peiling. Nogtans het byna 17% van die respondente steeds aan die begin van Junie aangedui dat hul onderneming nie toegelaat is om handel te dryf nie, terwyl 6,4% onseker was daaroor,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

“Slegs bietjie meer as twee uit elke tien van al die deelnemers het aangedui dat hul onderneming aan die begin van Junie teen volle kapasiteit handel gedryf het. ’n Bykomende sowat vyf uit tien het aangedui dat hulle ondernemings met beperkte bedrywighede voortgegaan het. Sowat 16% het aangedui dat hul onderneming nog nie handel dryf nie omdat dit nog nie finansieel sinvol was om oop te maak nie.”

“Daarby het amper sewe uit elke tien van die respondente wat vroeg in Junie toegelaat is om handel te dryf (324 uit 423 deelnemers in Junie)aangedui dat dit moeiliker was om die nodige insette vir bedrywighede te bekom as voor die Covid-19-beperkings. Dit dui moontlik daarop dat voorsieningskettings vir heelwat van die respondente se ondernemings steeds tot ’n mate belemmer word.”

Die skade wat Covid-19 en die inperkings aangerig het word deur heelwat van die respondente as blywende skade beskou. Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, moet twee belangrike beginsels nou toegepas word om die ekonomie op die herstelpad te plaas: “Eerstens moet die regering uit hulle foute leer en nie terugkeer na irrasionele en selfs ongrondwetlike inperkings nie. Tweedens moet daar wel herstrukturering plaasvind – maar nie in die ekonomie nie, eerder die staat.”

Van Onselen voeg by: “In Junie het byna 40% van die deelnemers gemeen dat min gedoen sou kon word om die skade van Covid-19 uiteindelik teen te werk (teenoor 48% in Mei). Reusagtige dalings in totale verkope word steeds vir 2020 in geheel voorsien. Hoewel die werklike impak op verkope eers later aan die lig sal kom, dui die deelnemers se terugvoer waarskynlik op hardnekkige negatiewe sentiment oor verkope in 2020.”

“In Junie het net meer as ’n derde van die deelnemers verwag dat hul ondernemings tot net drie maande sou kan staande bly in die vroeë Vlak 3-beperkinge. Met probleme soos werkloosheidsyfers wat reeds nuwe rekordhoogtes bereik het in die kwartaal vóór inperking, skets dit ’n donker prentjie vir verkope. Daarby sal vrese oor nuwe inperkings en bestaande inperkings se impakte op sakemodelle ondernemings se besteding en investeringsplanne onder druk hou.”

Lees die verslag hier.

Meer inligting oor die peiling

In die Junie-peiling was die deelnemers soos volg:

  • Deelname: 423 respondente het aan die peiling deelgeneem. Soos in die verlede is Gauteng (45%) en die Wes-Kaap (18%) die meeste verteenwoordig uit die respondente. Byna 20% het aangedui dat hulle deel vorm van ’n bestaande sakekamer.
  • Aantal mense in diens: Ondernemings met minder as 50 werknemers het 96% van die respondente uitgemaak. Naastenby 75% van die respondente het tien of minder werknemers in die betrokke ondernemings aangedui. Kleiner ondernemings is dus weereens sterk verteenwoordig.
  • Beskrywing van bedrywighede: Akkommodasie, toerisme en restaurante; Bou en konstruksie; Verkope van produkte en dienste aan die publiek; Finansiële dienste; en Ingenieurswese, regslui en professionele dienste was van die temas wat die sterkste uitgestaan het in die beskrywings van ondernemings se bedrywighede in die Junie-peiling.
Archives