“Slegs R1.2 miljoen” – die regering begryp nie sy eie SEB-beleid nie

profilep

Die nuwe Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming is onlangs vir openbare kommentaar gepubliseer. Buiten die alreeds-goed-gedokumenteerde problematiese aard van die regering se rasgedrewe bemagtigingsbeleid, word dit by die dag duideliker dat die regering geen idee van die verwoestende nagevolge van dié beleid op die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing het nie. 

Teenstanders van rasgedrewe bemagtigingsbeleid mag vinnig verkondig dat die regering dit natuurlik nie begryp nie, want politici dring al vir jare daarop aan ondanks die oorweldigende bewyse daarteen!  

Maar ek verwys nie hier na heersende regeringsamptenare se ideologiese toewyding tot Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en regstellende aksie wat praktiese oorwegings, soos welvaartskepping, vooruitgang, en grondwetlikheid, oorheers nie. Ek verwys eerder na ‘n baie meer basiese soort van begrip wat meer te doen het meer die vermoë om te begryp en te verstaan – en dit blyk asof hierdie kwaliteit ontbreek (en nie net onderdruk of ignoreer nie) wanneer dit by bemagtigingsbeleid kom. 

In sy gevierde werk, Economics in One Lesson, skryf die ekonoom Henry Hazlitt dat een van die grootste faktore wat bydra tot die ekonomiese dwalinge wat onderliggend is aan openbare beleid is die tendens van ekonome, analiste, en selfs leke om slegs die onmiddellike nagevolge van ‘n beleid waar te neem. 

Daar is ‘n verwaarlosing van ondersoek in die langtermyn en stroomaf nagevolge van beleid. “Die slegte ekonoom kyk slegs na dit wat onmiddellik ooglopend is”, terwyl “die goeie ekonoom dieper kyk”, aldus Hazlitt. 

In dié geval word die regering ongelukkig deur slegte ekonome beman. 

Die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming doen hoofsaaklik twee dinge: Dit bemagtig die Minister van Indiensneming en Arbeid om “numeriese teikens” voor te skryf vir demografiese verteenwoordiging in werksplekke wat deel uitmaak van ekonomiese sektore wat deur die minister gekies is. Dit vereis verder dat die minister nie ‘n nakomingsertifikaat mag uitreik tensy werkgewers in só ‘n aangewysde sektor voldoen aan dié teikens nie. 

Die ministeriële mag is heeltemal ongebreideld en onomskryf. Dus kan die minister enige teikens stel wat hul wil, ten enige tyd en vir enige rede, en kan dan ook die teikens verander ten enige tyd en vir enige rede. 

Sekere regslui sal aanvoer dat daar regtelik van die minister vereis word om rasioneel op te tree en, indien dit van toepassing is, aan die standaarde van administratiewe geregtigheid te voldoen. Maar myns insiens is dié slegs akademiese beperkings op die regering. Die howe is gewoonlik ongewillig om in die handhawing van bemagtigingsbeleid in te meng. In die welbekende saak van Minister of Finance v Van Heerden, byvoorbeeld, het die Grondwetlike Hof beslis dat die howe nie eers sal oorweeg of die regering besig is met onregverdige rassediskriminasie nie indien die regering kan wys dat sy bemagtigingsbeleid “bedoel” is om voorheen benadeelde mense te beskerm of te bevorder. 

Bowendien, rasionaliteit is eintlik doodletterwet. Die howe het dié standaard so afgewater dat dit niks meer beteken as dat daar ‘n skakel, hoe flou ook al, tussen die doelwit is wat die regering wil bereik, en die middel wat die regering aangeneem het om dit te bereik. 

In die wetsontwerp se memorandum verklaar die regering nonchalant dat die wetsontwerp se implementasie geen nagevolge vir Suid-Afrika se provinsies sal hê nie, en die enigste nagevolg vir die Staat, vermoedelik bedoelende die nasionale regering, is ‘n skamele R1,2 miljoen wat die Departement van Indiensneming en Arbeid sal moet spandeer op die implementering van die wet. Dis dit: Die enigste kostes wat die Staat gaan dra as gevolg van dié nuwe rasgedrewe bemagtigingsbeleid is vergelykbaar met die jaarlikse salaris van ‘n enkele parlementslid. 

Wat ‘n magiese denkwyse! 

Sedert 2015 word daar deur ‘n Kabinetsbesluit van die regering vereis om ‘n sosioekonomiese impakstudie (SEIS) uit te voer op elke nuwe wetgewende, regulatoriese, of beleidsintervensie. Die regering pas hierdie beleid lukraak toe – partykeer word SEISe gepubliseer, maar veral nie. Amper sonder uitsondering is die SEISe wat wel gepubliseer word deurspek met vooroordeel en intellektuele oneerlikheid. 

Die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming is een van die baie intervensies sonder ‘n SEIS. In daardie opsig is dit glad nie verbasend dat die beleidmakers dink dat die koste-implikasie so weglaatbaar gaan wees nie. Koste, soos ‘n goeie ekonoom sal verstaan, is ‘n wyer konsep as slegs die salarisse van ministers en hulle handhawers van beleid. 

Die realiteit, natuurlik, is dat met elke nuwe rasgedrewe bemagtigingsbeleid wat aangeneem word, word die sakeomgewing meer ongunstig vir kommersiële vooruitgang. Besighede het al hoe minder ruimte om oor hulle eie sake te besluit en moet voortdurend politieke imperatiewe, vereistes, en beperkings wat die regering op hulle afdwing in gedagte hou.  

Dit het nou ‘n punt bereik waar dit amper noodsaaklik is vir besighede om duur nakomingsafdelings te stig om te verseker dat die onderneming aan die regering se goeie kant bly.

 

Dit sal ook nie verbasend wees indien dié wetsontwerp die laaste strooi gaan wees vir baie ondernemings wat rééds, as gevolg van die buitensporig moeilike arbeidsbeleidsomgewing, oorweeg om uit Suid-Afrika te disinvesteer nie.  

Kleinsake wat op die punt is om oor die vrystellingsdrempel te beweeg (gewoonlik minder as 50 werknemers), mag dalk besluit om hul eie groei te staak of selfs te stuit, sodat daar nie van hulle verwag word om die SEB en regstellende aksie-wette en -regulasies te voldoen nie. Die gevolge hiervan vir indiensneming en ekonomiese groei, nou dat Suid-Afrika meer as ooit tevore grootskaalse indiensneming en groei nodig het, is skrikwekkend. 

Indien die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming wel die laaste strooi is, kan die koste-implikasies vir die Staat ook veral omvangryk wees. Die regering het reeds ‘n groot tekort aan belastinginvordering. Bykomende laste, soos dié wat deur die wetsontwerp opgelê word, sal ongetwyfeld beteken dat die regering eenvoudig nog minder sal invorder. Ons sal dit nooit kan kwantifiseer nie, want ons kan nooit presies weet hoeveel besighede besluit het om hul eie groei te stuit of om te disinvesteer weens rasgedrewe bemagtigingsbeleid nie. Maar die beginsels van ekonomie vertel ons egter dat dit ongetwyfeld plaasvind. 

Dit sou een ding gewees het indien die regering die groot kostes verbonde aan die implementering van hierdie beleid erken het, maar nietemin aangevoer het dat dit tog weens politieke oorwegings steeds die beleid sou uitvoer. Maar dit is nie die geval nie. Dit lyk inteendeel asof die regering glad nie die gevolge van sy eie beleid kan sien of begryp nie. 

Sakeliga bepleit meer besigheid, minder politiek as ‘n resep vir welvaartskepping, ekonomiese groei, en kommersiële vryheid in Suid-Afrika. Werklike bemagtiging vir Suid-Afrika se armes kan slegs plaasvind indien ondernemings toegelaat word om op eie inisiatief te funksioneer. Dit sal nooit die geval wees solank die politieke imperatiewe van politici op sake afgedwing word nie. Ons gesamentlike welvaart hang af van ‘n sakegemeenskap wat onafhanklik van die politiek kan funksioneer, en ons vertraag die weg hiervoor op eie risiko. 

Die artikel het aanvanklik op Maroela Media verskyn. 

Martin van Staden is ‘n Regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga. Hy studeer tans aan ‘n doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Vir meer inligting besoek www.martinvanstaden.com. 

Archives